Min reën in Augustus kan die produksie van wintergraan in die Wes-Kaap ‘n knou toedien.
Hoofnuus
Min of geen reën word verwag oor bykans die hele land tot ten minste 26 Augustus nie. Dit kan produksietoestande vir wintergraan in die Wes-Kaap ernstig knou.
Temperature gaan vinnig herstel om in die tweede gedeelte van Augustus redelik warm te word. Die voorkoms van verdere koue toestande in die eerste deel van September is egter nog baie goed.
Die La Niña-ontwikkeling het baie sterk gevorder in die afgelope maand en tans is oppervlaktemperature in die meeste gebiede reeds meer as 1 grade C koeler as normaal, wat as ’n matige La Niña beskryf kan word.
Dit lyk asof die huidige La Niña-gebeurtenis die “normale” effek wêreldwyd toon. Die droogte in Rusland en die oormaat reën in China, Indië en Pakistan, asook goeie reën in Oos-Australië is tipies van La Niña. Die verwagte droër toestande in Amerika het egter nie gerealiseer nie. Die kanse is egter goed dat Argentinië droogtetoestande kan ervaar in die Suidelike Halfrond se somer van 2010/’11. Suidelike Afrika kan goeie reënvaltoestande in die mid- tot laatsomer verwag, maar redelike ernstige droogtes kan voorkom in Kenia, Uganda en aangrensende lande in Oos-Afrika.
1. Die afgelope twee weke
Baie koue toestande het vanaf ongeveer 9 tot 12 Augustus voorgekom oor groot gedeeltes van die land. Baie swaar ryp het veral oor die sentrale binneland voorgekom. Sterk winde uit veral ’n noordelike komponent het ook voorgekom. Ligte reën het oor die Wes- en Oos-Kaap asook die Kwazulu-Natalse kusgebiede voorgekom. Dit is veral vrugtebome en druiweboorde wat tans die grootste risiko het vir koue en rypskade.
Die toestand van wintergrane is tans nog redelik goed, maar in veral die Wes- en Suid-Kaap begin droogte plek-plek probleme veroorsaak. Min reën het voorgekom in die laaste 2 tot 3 weke en grane begin in die pypstadium van ontwikkeling kom. In die pypstadium begin dit meer sensitief raak vir veral droogtestremming. In die Vrystaat is die koring nog relatief klein en heelwat opgegaarde grondvog is nog beskikbaar. Daar behoort nie probleme te wees vir ten minste die volgende maand in die Vrystaat nie, maar die tyd vanaf nou tot einde September is baie krities vir die Wes- en Suid-Kaap, waar grondwatertoestande tans vinnig verswak.
Wat die somergraan betref, is die grootste gedeelte van die mielie-oes reeds ingesamel. Dit lyk asof ongeveer 20% van die totale oes swakker grade beslaan wat heelwat meer is as in ander jare. Baie goeie opbrengste word egter behaal.
2. Verwagting vir die volgende twee weke (12 - 26 Augustus 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval
Min of geen reën word oor die grootste gedeelte van die Somerreëngebied verwag vir ten minste die volgende twee weke nie. Ligte reën is egter moontlik in die laaste week van Augustus oor die Oos-Kaapse kusgebiede.
Temperatuur
Na die baie koue toestande in die tweede week van Augustus gaan temperature vinnig herstel en matige tot selfs warm toestande word verwag tot ten minste 26 Augustus. Dagtemperature van hoër as 30 grade C kan voorkom oor die westelike en noordelike binneland, terwyl dagtemperature van tussen 25 grade C en 30 grade C oor die res van die land kan voorkom. Nagtemperature gaan ook effens styg en min of geen verdere swaar ryp word verwag in die volgende twee weke nie. Ryp kan egter steeds in laagliggende gedeeltes voorkom.
2.2 Winterreëngebied
Min of geen reën word verwag vir ten minste die volgende twee weke nie. Dit kan die produksietoestande vir graangewasse baie verswak en permanente verliese tot gevolg het.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
Al die Niño-gebiede in die sentrale Stille Oseaan (met die uitsondering van die Niño-4-gebied naaste aan Australië) is alreeds meer as 1 graad C koeler as normal. Dit kan dus alreeds vanaf Junie geklassifiseer word as ’n matige tot swak La Niña. Voorspellings dui nou dat daar ’n ten minste 80% kans is dat die komende seisoen La Niña-neigend sal bly en ongeveer 20% vir neutraal. Die kans vir El Niño is omtrent zero.
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die 30-dae gemiddelde SOI was op 12 Augustus +18,89 wat sterk La Niña-neigend is. Die maand van Julie 2010 was in die Fase 4 (vinnig ontwikkelende La Niña) volgens die SOI-fase sisteem.
4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
4.1 Somerreëngebied
Met die La Niña-tipe ontwikkeling is die kanse vir reën swak oor die grootste gedeelte van die land vir die tydperk tot ongeveer middel Oktober, maar goeie neerslae is moontlik oor die mid- tot laatsomer. Dit wil egter ook voorkom asof reënvalvooruitsigte baie verswak het vir die suidoostelkike gebiede nadat dit aanvanklik redelik goed gelyk het. Die reënseisoen kan later as normaal begin oor die Somerreëngebied maar behoort vir die seisoen as geheel redelik positief te wees.
4.2 Winterreëngebied
Die kanse vir reën het baie verswak met die sterk La Niña-ontwikkeling. Reën is weer moontlik is die eerste twee weke van September, maar lyk in hierdie stadium na ligte neerslae.
4.3 Internasionaal
Asië
Die huidige baie droë toestande in Rusland, asook die baie swaar reën oor Indië, Pakistan, China en ander lande in Suid-oos Asië, kan aan die huidige La Niña-verskynsel toegeskryf word. Dit kan nog voortduur.
Suid-Amerika
Vooruitsigte lyk swak vir die Argentynse somergraan-oes, met ondergemiddelde reënval wat verwag kan word. Dit kan internasionale somergraanpryse gunstig beïnvloed.
Australië
Koringproduksietoestande lyk tans nog baie goed oor die oostelike produksiegebiede, maar swakker oor Wes-Australië. Goeie reën word verwag in die volgende maande, wat ’n groot koring-oes kan verseker.
Amerika
Die voorspelde droër toestande oor die noordwestelike mieliegordel het nie gerealiseer nie en is produksietoestande oor die algemeen beter as die laaste vyf jaar se gemiddeld.
Afrika
Goeie reënvaltoestande word verwag oor Suidelike Afrika vanaf Oktober, maar in Oos-Afrika kan ernstige droogtes voorkom.
Europa
Normale toestande vir die tydperk tot Oktober maar droër toestande in die Europese winter. Dit kan koringproduksie benadeel.
5. Tropiese siklone
Die tropiese sikloonseisoen in die suidelike Indiese Oseaan begin gewoonlik vanaf November. Tans is daar nog geen aktiwiteite. Daar is egter tans baie sterk aktiwiteit in die Noordelike Halfrond met groot hoeveelhede warm water in Suid-Oos Asië en die noordelike Indiese Oseaan as gevolg van die huidige La Niña-verskynsel, wat warm water ooswaarts laat beweeg om noord van Australië te versamel. Dit is veral China wat tans gebuk gaan onder tropiese storms, maar ook Indië en aangrensende gebiede ondervind tans swaar reën as gevolg van die La Niña-ontwikkeling.
6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Baie minder koring is aangeplant in die droëlandproduksiegebied van die Vrystaat. Besproeiingsoppervlaktes in die Noord-Kaap, Noordwes en Limpopo gaan egter redelik normaal aangeplant word as gevolg van ’n gebrek aan ’n alternatiewe wintergewas. Effens minder koring is ook in die Wes-Kaap aangeplant, maar die afwyking is nie so groot soos in die Vrystaat nie. Swak koringpryse tydens planttyd is die hoofrede vir dié afname.
Die Oesskattingskomitee se vooruitskatting van aanplantings vir die huidige seisoen dui dat ongeveer 570 000ha koring geplant is, wat meer as 72 000ha of 11% minder is as die vorige seisoen.
Met die droogte in Rusland het die prys egter heelwat gestyg, wat gunstig is vir koringprodusente.
6.2 Somergraan
Die mielie-oes is redelik ver ingesamel en ongeveer 80% van die mielie-oes is goeie grade. Ander somergrane is reeds klaar ge-oes.
Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes.
Die oes teen die einde van April 2010 is beraam op tussen 12,7 en 12,9 miljoen ton met die mees waarskynlike oes ongeveer 12,9 miljoen ton. Die skatting van die Oesskattingskomitee dui op ’n oes van ongeveer 13,4 miljoen ton.
Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein.
12 Augustus 2010
Kommentaar
Uitstekende artikel, Johan! Namens al die boere sê ek vir jou dankie vir die briljante navorsing en uitstaande kwaliteit van die artikel.
Kobus Botha.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)