|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Hoofnuus
Die reën wat in die eerste week van Februarie vanjaar voorgekom het, was heelwat minder as wat verwag is, behalwe oor die Noord- en Oos-Kaap waar goeie neerslae plek-plek voorgekom het.
Produksietoestande vir somergrane begin vinnig verswak en permanente droogteskade kom reeds voor. Hoewel reën in die volgende twee weke nog baie kan help om die mielie-oes te stabiliseer, sal die totale oes weens droogteskade begin krimp.
Dit lyk asof die huidige La Niña-verskynsel nou eers die normale effek uitoefen met vloede in Australië en droogtes in veral Suid-Amerika en Oos-Europa. Tot op hede het reëntoestande in Suid-Afrika nie ’n normale La Niña-patroon gevolg nie.
1. Die afgelope 2 weke tot 7 Februarie
Die eerste week van Februarie is gekenmerk deur heelwat tropiese vog wat oor die weste van die land suidooswaarts beweeg het en goeie neerslae oor dele van veral die Noord- en Oos-Kaap asook die suidwestelike dele van die Vrystaat veroorsaak het.
Slegs enkele buie het oor die sentrale tot oostelike dele van die land voorgekom. Die stelsel het dus grotendeels nie die verwagte hoeveelheid reën oor die mielieproduksie-gebiede tot gevolg gehad nie.
Droogteskade begin groter afmetings aanneem, veral met graangewasse wat in die droogtegevoelige reproduktiewe stadiums is. Dit is veral in dele van Noordwes, rondom Lichtenburg, asook in die Noord-Vrystaat waar die meeste droogteskade tans voorkom.
2. Verwagting vir die volgende twee weke (7 tot 21 Februarie 2012)
2.1 Somerreëngebied
Reënval
Daar is ’n goeie kans dat tropiese vog vanaf 8 tot 16 Februarie oor die sentrale tot oostelike dele van die land kan inbeweeg, wat in teenstelling is met die stelsel wat in die eerste week van Februarie redelik ver weswaarts oor die land reën veroorsaak het. Dit kan veroorsaak dat die kanse op reën goed is oor die Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo asook KwaZulu-Natal.
Temperatuur
Temperature behoort weer effens laer te wees oor die sentrale tot oostelike dele, maar steeds baie warm oor die westelike dele van die land.
2.2 Winterreëngebied
Min reën word oor die Wes-Kaap verwag tot ten minste 21 Februarie, hoewel reën rondom 7 en 8 Februarie oor die Tuinroete moontlik is.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
Die La Niña-neiging of koeler see-oppervlaktemperature word voortgesit met die belangrike Niño-.,4-gebied wat steeds ongeveer 1,2 oC koeler as normaal is. Dit kan steeds as ’n matige La Niña geklassifiseer word. Die Niño-4-gebied is ook ongeveer 1,1 oC koeler as normaal, maar die Niño 1-, 2- en 3-gebied het effens warmer begin word en is nou ongeveer 0,3 oC tot 0,8 oC koeler as normaal.
Die lyk asof die draaipunt bereik is en dit behoort in die volgende maande stadig tot normaal terug te keer om teen Mei/Junie vanjaar weer neutraal te wees.
Voorspellings van see-oppervlaktemperature kan op die webwerf gesien word.
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie-indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdrukverskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ’n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ’n aanduiding gee van die stand van seetemperature. Die “ossillasie”-gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif weens die gebrek aan of teenwoordigheid van oppervlakwinde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ’n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI-waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die 30-dae gemiddelde SOI was teen einde Januarie vanjaar op +9,6 wat dui op ’n matig positiewe SOI of matig La Niña-neigend. Op 6 Februarie was dit steeds op +8,3. Klik hier vir meer.
4. Reënvooruitsigte vir die komende maande
Die SOI was tot einde Januarie vanjaar reeds vir ’n paar maande lank in ’n La Niña-fase (Fase 2). Gedurende Desember verlede jaar was dit redelik sterk La Niña-neigend, maar dit het gedurende Januarie effens verswak. Dit verskaf ’n bogemiddelde kans vir reën oor die somerreëngebied. Klik hier vir meer.
4.1 Somerreëngebied
Goeie reënneerslae het gedurende die eerste week van Februarie vanjaar vir die eerste keer die seisoen oor die westelike sowel as suidoostelike dele van die land voorgekom. Die kans op reën oor die grootste deel van die somerreëngebied, en veral oor die sentrale tot westelike dele van die land, bly egter steeds goed vir die tyd voor die winter.
4.2 Winterreëngebied
Baie min of geen reën word op kort termyn verwag nie, maar op langer termyn kan veral die Suid-Kaap en Tuinroete later vandeesmaand reën verwag. Die westelike dele van die Wes-Kaap kan baie droog en warm wees met die eerste winterreën wat ook laat verwag word (Junie/Julie).
5. Tropiese siklone
Januarie is gekenmerk deur sterk siklonale of laagdrukaktiwiteite in en rondom die Mosambiekkanaal. Aktiwiteite het egter afgeneem en min aktiwiteit word in die tweede week van Februarie verwag.
http://australiasevereweather.com/cyclones/
6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Die koringoes is klaar ingesamel en boere begin voorberei vir aanplantings vanaf April.
6.2 Somergraan
Hoewel reën kol-kol voorgekom het, begin toestande nou kritiek raak in baie gebiede van veral die Noord- en Wes-Vrystaat asook groot dele van Noordwes. Die meeste mielies gaan binne die volgende twee weke die kritieke blomstadium bereik, wat dit baie kwesbaar vir droogteskade maak. Permanente skade aan somergewasse en veral mielies kan nou daagliks groter afmetings begin aanneem.
Daar kan vanjaar ’n groter ryprisiko wees as gevolg van die laat aanplantings.
7. Internasionaal
7.1 Australië
Ernstige vloedskade het sedert begin Februarie in dele van Queensland en Nieu-Suid-Wallis voorgekom. Dit is tipies van La Niña-toestande, maar heelwat later as wat verwag is.
7.2 Suid-Amerika
Droogteskade kom voor en oesskattings van veral sojabone en mielies is al afwaarts aangepas.
7.3 Die Oekraïne
Hoewel swaar sneeu in die eerste week van Februarie voorgekom het, was dit baie droog in die eerste deel van die seisoen en skade aan koring het voorgekom.
8 Februarie 2012
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)