|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Hoofnuus
Die eerste somerreën kan in die eerste week van Oktober oor die sentrale tot oostelike en noordelike dele van die land voorkom met tropiese vog wat suidwaarts begin beweeg.
Ligte reën is teen 1 en 2 Oktober moontlik oor die Wes- en Suid-Kaap. Dit lyk nie asof baie lae temperature en ryp tot 8 Oktober gaan voorkom nie. Vir die eerste keer behoort minimum temperature hoog genoeg te wees om nie gewasgroei verder te beperk nie en aanplantings van somergewasse toe te laat.
Die La Niña-ontwikkeling is steeds op koers en sterker as wat verwag is, maar swakker as in 2010/’11.
Gemiddelde tot bogemiddelde reën vir die seisoen as geheel is moontlik oor die somerreëngebied. Dit behoort aanvanklik droog oor die westelike dele te wees.
1. Die afgelope twee weke tot 26 September
Die afgelope twee weke is gekenmerk deur verdere lae nagtemperature en ryp wat koring, groentegewasse en vrugtebome beskadig het. Min reën het voorgekom, hoewel ligte neerslae oor die oostelike dele van die land begin voorgekom het.
2. Verwagting vir die volgende twee weke (26 September tot 10 Oktober)
2.1 Somerreëngebied
Reënval
Reën is vanaf ongeveer 30 September moontlik oor die oostelike dele van die land, wat KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Gauteng, Noordwes, die suide van Limpopo asook noordoostelike dele van die Vrystaat insluit. Min of geen reën word oor die Oos-Kaap, westelike dele van die Vrystaat, suidelike dele van die Noord-Kaap asook die grootste deel van die Wes-Kaap verwag nie.
Temperatuur
Dagtemperature gaan matig tot warm wees dit lyk asof nagtemperature besig is om te styg. Die kanse op baie koue toestande en verdere ryp is klein, hoewel temperature teen 3 tot 6 Oktober effens koeler kan wees. Baie warm toestande kan vanaf 8 Oktober voorkom.
2.2 Winterreëngebied
Met ’n frontale stelsel wat die land teen 1 en 2 Oktober kan tref, is ligte reën oor die Wes- en Suid-Kaap moontlik.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
Die La Niña-neiging of verkoelende oppervlaktemperature word voortgesit. Die belangrike Niño-3.4-gebied is tans reeds ongeveer 0,7 °C koeler as normaal, wat ’n swak La Niña aandui.
Die nuutste voorspellings dui ook ’n sterker La Niña-ontwikkeling as wat aanvanklik verwag is, maar steeds swakker as in 2010/’11.
Voorspellings van see-oppervlaktemperature kan op hier gesien word.
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie-indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdrukverskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ’n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ’n aanduiding gee van die stand van seetemperature. Die “ossillasie”-gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif weens die gebrek of teenwoordigheid van oppervlaktewinde uit die suidoostelike Stille Oseaan, wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ’n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI-waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die gemiddelde SOI was teen einde Augustus vanjaar op +2,6. Op 21 September was dit +7,5. Klik hier vir meer.
4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
Die SOI was in Augustus reeds in La Niña-fase 2. Tradisioneel is Augustus en September reeds ’n sterk aanduiding van see-temperatuurontwikkeling vir die res van die seisoen. In die meeste jare waarin Augustus reeds na La Nina geneig het, het dit aangehou tot in die herfs (Maart/April). Klik hier vir meer.
4.1 Somerreëngebied
Met die versterking van La Niña-neigings kan dit die kans op lentereën verswak en die begin van die reëntyd meer na die somer aanskuif. Dit lyk egter asof somerreën vanaf vanaf die eerste deel van Oktober oor die sentrale tot oostelike dele van die land moontlik is.
4.2 Winterreëngebied
Die reënval oor die Wes-Kaap was tot op hede beter as wat verwag is, maar droër toestande het nou begin voorkom. Min reën word vir die volgende twee maande verwag.
5. Tropiese siklone
Die sikloontyd in die Suidelike Halfrond behoort van November af aktief te wees. Tans is see-oppervlaktemperature te laag weens wintertoestande om sikloonontwikkeling te stimuleer, veral in die suidelike Indiese Oseaan.
6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap)
Toestande vir droëland-wintergraanproduksie in die Vrystaat lyk steeds belowend met groot hoeveelhede grondvog beskikbaar. Die sterk winde in die afgelope tyd het egter windskade begin veroorsaak.
Produksietoestande is tans nog goed in die Wes- en Suid-Kaap vanweë die beter as verwagte reën tot op hede. Hoewel droër toestande in September voorgekom het, is die toestand van wintergrane steeds goed in veral die Suid-Kaap.
Droogteskade kan egter in die Swartland en omliggende gebiede begin voorkom, wat die oes in hierdie kritieke stadium kan knou. Dit is egter goeie toestande vir strooptyd.
6.2 Somergraan
Die Oesskattingskomitee het die 2010/’11-mielie-oes met ongeveer 1,6% afwaarts aangepas tot 10,679 miljoen ton. Die verwagting is dat die oes dalk steeds te hoog geskat word.
7. Internasionaal
7.1 Amerika
Dit lyk asof produksietoestande steeds verswak. Volgens inligting is die oes nou gemiddeld die swakste in die laaste ses jaar met slegs 52% van mielies wat as goed tot baie goed geklassifiseer word teenoor die meer as 70% verlede seisoen.
Die risiko van koue en rypskade bly groot omrede die gewas later as normaal geplant is. Weidingstoestande is swak en meer grane sal waarskynlik vir voer gebruik word. Die toestand van ander grane, soos sorghum en sojabone, is ook swak.
Dié webadres gee weeklikse inligting oor die vordering van die Amerikaanse graangewasse.
Gebruik dié webadres om die afgelope weke en maande se reënval in Amerika te sien.
7.2 Australië
Toestande lyk goed vir koringproduksie behalwe in kleiner kolle in Wes-Australië waar droogteskade voorkom. Hoewel Augustus en die eerste deel van September minder as die verwagte reënval gehad het, lyk toestande steeds goed, maar skade begin voorkom.
Dit lyk egter asof reën in die volgende twee weke kan voorkom oor veral Suid-Australië asook die suidelike dele van Queensland, waar die meeste koring aangeplant is.
Kyk gerus hier na die voorspelling vir die volgende twee weke.
* Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein.
27 September 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)