Goeie neerslae kom vir droë dele

 
Reen. Foto: LBW
Reen. Foto: LBW

Hoofnuus
Kanse is goed vir redelike goeie reën oor veral die Oos- en Suid-Kaap se droogtegeteisterde gebiede vir die tydperk vanaf 25 tot 27 Maart.
Slendalkoors maai steeds onder veral ongebore kleinvee, waar dragtige diere op groot skaal aborteer.
Nog geen ryp, of baie lae temperature, is in sig vir die volgende twee weke nie.

1. Die afgelope twee weke
Minder reën het die afgelope twee weke oor veral die somerreëngebied voorgekom. Gedeeltes van veral die Noord-Kaap, noordelike dele van die Oos-Kaap en die suidwes-Vrystaat het egter kol-kol reënvaltotale van tot 80mm gehad. Min of geen reën het in die uiters droë suidelike en sentrale Oos-Kaap en aangrensende Suid-Kaap voorgekom nie.

Plek-plek in veral die sentrale Vrystaat en gedeeltes van Noordwes het somergrane droogteskade begin opdoen. Dit is egter hoofsaaklik graangewasse op vlak- en kleierige gronde wat probleme ondervind.

Die groot hoeveelhede staande water het veroorsaak dat dieresiektes en -parasiete hoogty vier. Groot skade aan veral kleinvee kom wyd voor as gevolg van vrektes van volwasse vee, maar hoofsaaklik as gevolg van diere wat aborteer. In swaar besmette gedeeltes is verliese aan aborsies meer as 80%.

2. Verwagting vir die volgende twee weke (24 Maart tot 5 April 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval

Toestande verbeter heelwat vir reën vir die volgende ten minste twee weke oor die grootste gedeelte van die land, met die uitsondering van die westelike dele. Die tydperk vanaf 25 tot 27 Maart maar veral vanaf 30 Maart tot 6 April lyk die kanse baie goed vir goeie neerslae oor bykans die hele Somerreënvalgebied. Dit lyk ook asof die grootste gedeelte van die Oos-Kaap, wat die huidige baie droë gedeeltes insluit, ’n baie goeie kans het om ten minste 20mm reën te kry.

Temperatuur
Temperature behoort steeds matig te wees oor die sentrale tot oostelike binneland, maar steeds bokant 30 grade C in die westelike en noordelike gedeeltes. Dit lyk nie asof baie lae temperature en ryp behoort voor te kom in ten minste die volgende twee weke nie.

2.2 Winterreëngebied
Met frontale stelsels wat die Suidwes-Kaap meer gereeld begin tref, verbeter die kanse vir reën ook oor hierdie gebiede. Dit lyk asof daar ’n kans is vir ligte reën rondom 25 en 26 Maart, rondom 30 en 31 Maart asook rondom 4 en 5 April. Temperature gaan ook matig tot koel wees.

3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) - Stille Oseaan

Ná ’n skerp daling in see-oppervlaktemperature vanaf Desember 2010 het El Niño redelik verswak in veral Januarie 2010. Sedert die middel van Februarie 2010 het temperature sywaarts beweeg en is die belangrike Niño3,4-gebied steeds ongeveer 1,2 grade C warmer as normaal. Dit verteenwoordig steeds ’n swak El Niño-fase.

Kyk na onderstaande webbladsye.
Webwerf 1
Webwerf 2

3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)

Die 30 dae gemiddelde SOI was op 24 Maart 2010 = -9,64 wat nog matig El Niño neigend is.

Die maand Februarie 2010 was volgens die SOI-fase sisteem in Fase 3, (El Niño ontwikkelend). Kyk na meegaande webbladsy deur op “World“ te kliek.

4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande (Implikasies van El Niño)
4.1 Somerreëngebied

Ondergemiddelde reënval het in Maart 2010 voorgekom oor redelike groot gebiede wat die eerste droër maand is sedert byna Oktober 2009. Op medium termyn is die kanse nog redelik goed vir reën tot die middelste gedeelte van April, waarna waarskynlikhede sterk afneem.

4.2 Winterreëngebied
Met die sywaartse beweging van die huidige swak El Niño kan reënvalvooruitsigte steeds goed bly vir die tydperk vanaf veral April tot Junie.

5. Tropiese siklone
Tot op hede was daar slegs 8 tropiese siklone in die Suidoos Indiese Oseaan. Die gemiddeld is ongeveer 21 per seisoen (November tot April) wat dui dat dit waarskynlik die laagste aantal siklone in ten minste die afgelope dekade gaan wees. Tans is daar geen siklone wat in die Suidoos Indiese Oseaan aktief is nie.

6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Grondvogtoestande in die droëlandgebiede van die Vrystaat is egter baie gunstig vir aanplantings. Die baie lae en onwinsgewende koringprys veroorsaak egter dat boere nie gretig is om koring te plant nie. Indien reën nie in April gaan voorkom nie, sal boere sukkel om geplant te kry omdat die saadbedgedeelte dan te droog sal wees.

Die huidige swak mielieprys en verwagte groot mielie-oes, tesame met ’n moontlike verhoging in die koringprys as gevolg van die oorweging van invoertariewe, kan egter die aanplantings vir 2010 ’n hupstoot gee.

6.2 Somergraan
Die warm en sonskyntoestande gedurende die grootste gedeelte van Maart het gesorg dat produksie toestande baie gunstig was, alhoewel plek-plek droogsteskade voorgekom het. Dit het gesorg dat hitte-eenhede voldoende was om redelike goeie opbrengste van veral mielies te verseker. Die sonneblom oes is egter geknou deur die baie nat en koeler toestande in veral Januarie en Februarie.

Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes.

Die oes teen die einde van Januarie 2010 is beraam op tussen 11,9 en 13,1 miljoen ton met die mees waarskynlike oes ongeveer 12,4 miljoen ton.

In hierdie gevorderde stadium van die oes is die enigste risiko’s wat wel die oes nog op ’n groot skaal kan beinvloed, die voorkoms van vroeë ryp asook baie swaar reën. Droogte en hitte kan nog ’n invloed uitoefen maar die kanse dat die oes met meer as 10% benadeel kan word, is klein.

Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein

24 Maart 2010
 

3.666665
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.