|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
1. Redelike goeie reënneerslae is moontlik vanaf ongeveer 18 Oktober oor die sentrale tot oostelike en noordoostelike dele van die land met tropiese vog wat oor Botswana suidooswaarts behoort te beweeg.
2. Kouer toestande met die moontlikheid van ligte ryp oor die suidelike dele van die land kan voorkom vanaf 16 tot 20 Oktober.
3. Die La Niña-ontwikkeling is steeds aan die gang en ’n swak/matige La Niña-verskynsel behoort te heers tot ten minste Maart/April 2012.
1. Die afgelope twee weke tot 10 Oktober 2011
Die afgelope twee weke is gekenmerk deur verdere lae nagtemperature en ryp wat skade aan koring, groentegewasse asook vrugtebome gebring het. Min reën het voorgekom alhoewel ligte neerslae oor die oostekant van die land begin voorkom het.
2. Verwagting vir die volgende twee weke (10 tot 24 Oktober 2011)
2.1 Somerreënvalgebied
Reënval
Tropiese vog is besig om vanaf sentraal Afrika suidooswaarts te begin beweeg. Tans is ’n redelik sterk hoogdrukstelsel dominant oor die westekant van die land wat dus veroorsaak dat die tropiese vog oor die gebied van laer druk oor die noordoostelike dele van Suid-Afrika gaan afbeweeg. Dit kan reën veroorsaak vanaf ongeveer 18 Oktober oor die noordoostelike dele van die Noordwes Provinsie, die sentraal, noord en Oos-Vrystaat, die hele Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, KZN en noordelike dele van die Oos-Kaap. Min of geen reën word vir die westelike en suidwestelike dele van die Somerreënvalgebied verwag vir ten minste die periode tot 24 Oktober nie.
Temperatuur
Dagtemperature gaan warm tot baie warm wees met nagtemperature ook ietwat warmer. ’n Daling in temperatuur is weer moontlik vanaf ongeveer 16 tot 22 Oktober maar dit lyk nie asof ernstige ryptoestande verwag word nie alhoewel ligte ryp wel kan voorkom oor die Suid-Vrystaat en suidelike dele van die Noord-Kaap asook gedeeltes van die Oos- en Wes-Kaap.
2.2 Winterreëngebied
Met ’n frontale stelsel rondom 15 Oktober is ligte reën moontlik oor die Wes- en Suid-Kaap.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
Die La Niña-neiging of koeler wordende oppervlaktemperature word voortgesit alhoewel die belangrike Niño-3.4-gebied se temperature in die laaste maand effens sywaarts beweeg het maar is reeds ongeveer 0,7 grade C koeler as normaal wat ’n swak La Niña-aandui.
Grafiek 1:
Grafiek 2:
Die nuutste voorspellings dui ook ’n sterker La Niña-ontwikkeling vir 2011/12 as wat aanvanklik verwag is maar steeds swakker as in 2010/11.
Voorspellings van see-oppervlaktemperature kan gesien word in die onderstaande webwerf:
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die gemiddelde SOI was teen einde September 2011 op +11.1 nadat dit teen die einde van Augustus 2011 op +2,6 was. Op 10 Oktober was dit +8.
4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
Die SOI was in Augustus reeds in ’n La Niña fase (Fase 2) maar dit het verder versterk en in die vinnig stygende fase (Fase 4) in September inbeweeg . Tradisioneel is Augustus en September alreeds ’n sterk aanduiding van see-temperatuurontwikkeling vir die res van die seisoen. In die meeste jare waar Augustus/September alreeds La Niña-neigend was, het dit aangehou tot in die herfs (Maart/April).
4.1 Somerreëngebied
Met die versterking van La Niña-tendense kan dit die kanse vir lentereën verswak en die begin van die reënseisoen aanskuif meer na die somer. Dit lyk egter asof somerreën kan voorkom vanaf Oktober oor die sentrale tot oostelike en noordelike dele van die land maar droog gaan bly in die westelike tot suidwestelike dele en eers later (Desember) hier kan begin reën.
4.2 Winterreëngebied
Die reënval oor die Weskaap was tot op hede beter as wat verwag is maar droër toestande het nou begin voorkom. Min reën word verwag vir die volgende twee maande.
5. Tropiese siklone
Die sikloonseisoen in die Suidelike Halfrond behoort weer vanaf November 2011 aktief te wees. Tans is see-oppervlaktemperature te laag as gevolg van wintertoestande om sikloon-ontwikkeling te stimuleer, veral in die suidelike Indiese Oseaan. Voorspellings dui ook dat die temperature in die Indiese Oseaan redelik koel gaan bly wat die kanse vir siklone baie verswak.
6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Toestande vir droëland wintergraanproduksie in die Vrystaat lyk steeds baie belowend met die groot hoeveelhede grondvog beskikbaar. Die warm toestande laat waterverbruik styg en reën kan help om optimale groei te verseker. Daar is ’n moontlikheid dat rypskade kon voorgekom het met die graan wat nou ’n baie gevoelige stadium betree.
Produksietoestande is tans nog baie goed in die Wes- en Suid-Kaap met die beter as verwagte reën tot op hede. Alhoewel droër toestande in September voorgekom het, is die toestand van wintergrane steeds goed oor veral die Suid-Kaap. Droogteskade kan egter begin voorkom oor die Swartland en omliggende gebiede wat die oes kan knou op hierdie kritieke stadium. Dit is egter goeie toestande vir strooptyd.
6.2 Somergraan
Die Oesskattingskomitee het die 2010/11-mielie oes met ongeveer 1,6% afwaarts aangepas tot 10.608miljoen ton en die verwagting is dat die oes dalk nog steeds te hoog geskat word.
7. Internasionaal
7.1 VSA
Dit lyk asof produksietoestande gestabiliseer het met die grane wat begin ryp word. Slegs 52% van mielies word as goed tot baie goed geklassifiseer teenoor die meer as 70% verlede seisoen.
Die volgende webadres gee weeklikse inligting van vordering van die VSA graangewasse:
Nog een.
Gebruik hierdie webadres om die afgelope weke en maande se reënval in die VSA te kan sien.
Toestande lyk oor die algemeen baie goed vir koringproduksie behalwe in kleiner kolle in Wes-Australië waar droogte skades voorkom. Alhoewel Augustus swakker as verwagte reënval gehad het, lyk die toestande steeds goed maar skades begin voorkom. In September het daar kol-kol redelike goeie reën voorgekom oor die suidelike dele van Queensland asook Suid-Australië. Dit lyk egter asof redelike swaar neerslae die volgende twee weke oor veral Suid-Australië asook die suidelike dele van Queensland kan begin voorkom waar die meeste koring aangeplant is.
Kyk gerus na die voorspelling vir die volgende twee weke:
7.3 Suid-Amerika
Tradisioneel is veral Argentinië droog tydens La Niña-seisoene met Basilië wat weer bogemiddelde reënval te wagte kan wees.
Daar is ’n voorspelling van baie swaar reën in die middel tot tweede deel van Oktober oor die grootste deel van Brasilië met ligter neerslae wat oor Argentinië verwag kan word. Dit is redelik tipies van die effek van ’n La Niña-verskynsel.
* Geskryf deur Johan van den Berg van Santam Agri, Bloemfontein.
11 Oktober 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Al wat ek weet as hulle se baie reen beteken dit groot droogte
ek glo nie n woord wat julle sê nie
Johan ek boer in die boesmanland wag dat jy vir ons ook goeie nuus sal bring vir die komende seisoen.
HENNIE VISSER
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)