Koue, reën en wind in die vooruitsig

 
Water. Foto: THEUNS BOTHA
Water. Foto: THEUNS BOTHA

Baie koue en nat toestande, met wind, gaan die land met ‘n slag teen 24 Mei tref, sê die weervoorspeller Johan van den Berg.

Hoofnuus
Baie koue en nat toestande word verwag vanaf ongeveer 24 Mei maar veral vanaf 28 Mei oor die suidelike, sentrale en oostelike gedeeltes van die land.
Verdere reën is moontlik oor die somerreëngebied in die laaste week van Mei.
Uiters gevaarlike toestande word verwag vir vee en veral kleinvee in die laaste week van Mei met nat, koue en winderige toestande wat verwag word.

1. Die afgelope twee weke
Reën het die rondom 11 tot 15 Mei oor die Wes-Kaap voorgekom, wat wyd verwelkom is deur veral graanboere. Ligte neerslae het ook oor die sentrale tot oostelike gedeeltes van die somerreënvalgebied voorgekom rondom die naweek van 14 tot 16 Mei. Hoewel nagtemperature grootliks onder 10 grade C is in veral die sentrale tot suidelike gedeeltes van die land, is dit steeds warmer as normaal vir hierdie tyd van die jaar. Ligte ryp het oor die tydperk vanaf 11 tot 13 Mei oor die sentrale tot suidelike binneland asook die oostelike Hoëveld voorgekom. Somergraanboere sukkel om gestroop te kry as gevolg van die nat toestande. In sommige gebiede begin ernstige probleme ontstaan met siektes wat graan se kwaliteit nadelig gaan beïnvloed. Daar is tekens dat Diplodia-kopvrot by mielies vanjaar redelike ernstige afmetings kan aanneem. Dit is veroorsaak deur aanhoudende reën wat die mieliekop binnegedring het tussen die skutblare en die pitte. Met die kouer toestande het die populasie van muskiete en muggies begin afneem, wat ook die uitbraak van veesiektes sal verminder.

2. Verwagting vir die volgende twee weke (17 tot 31 Mei 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval
Min of geen reën word verwag tot ten minste 24 Mei nie, wanneer ’n sterk frontale stelsel die land gaan tref. Reën is veral moontlik vir die tydperk vanaf 24 tot 29 Mei en veral oor die suidelike en suidoostelike helfte van die land.

Temperatuur
Temperature behoort redelik matig tot koel te wees tot ongeveer 24 Mei wanneer ’n skerp daling in temperatuur behoort voor te kom. Baie koue toestande met dagtemperature onder 15 grade C en nagtemperature by vriespunt, is moontlik in die laaste week van Mei oor die sentrale tot suidelike en oostelike gedeeltes van die land. Aanvoelbare temperatuur behoort baie laag te wees as gevolg van die verwagte nat en winderige toestande.

2.2 Winterreëngebied
Frontale stelsels begin die Kaap nou redelik gereeld tref en enkele ligte buie is moontlik rondom 24 en 25 Mei, met swaarder neerslae vanaf ongeveer 28 Mei met ’n redelike sterk frontale stelsel wat in aantog is. Temperature gaan ook skerp daal vanaf ongeveer 24 Mei.

3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan

Seetemperature in die sentrale Stille Oseaan is tans baie naby aan neutraal. ’n Dwarsdeursnit tot op ’n diepte van byna 500m dui dat kouer water vinnig besig is om na die oppervlakte te beweeg en ’n La Niña-verskynsel te vorm. Kyk gerus na die verandering oor tyd in die volgende webbladsye:
Webwerf 1:
Webwerf 2:

3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van seetemperature. Die “ossillasie”-gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)

Die 30-dae gemiddelde SOI was op 17 Mei 2010 = +8,38 wat ’n baie sterk ommeswaai toon vanaf einde Maart 2010 waar die SOI nog -10,93 was. ‘n Styging in SOI verteenwoordig ‘n beweging weg van El Niño af. Hierdie baie sterk sein kan verantwoordelik wees vir swakker reënval oor die winterreëngebiede vir die Mei tot Julie-tydperk, maar nog reën in die somerreëngebied.

4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
4.1 Somerreëngebied

Met die sterk afbreekfase van El Niño wat nou begin plaasvind, is reën nog moontlik oor die somerreënvalgebied in Mei en selfs later maar kan dalk ’n laat lenteseisoen aandui voordat somerreën kan voorkom.

4.2 Winterreënvalgebied
Met die baie sterk ontwikkeling of afbreekfase van El Niño wat tans plaasvind, het dit veroorsaak dat die kanse vir reën oor die Wes-Kaap verswak. Dit lyk veral as die Suid-Kaap gedeelte ondergemiddelde reënval behoort te kry in die volgende ten minste 3 maande.

5. Tropiese siklone
Die tropiese sikloonseisoen is vir praktiese doeleindes verby. Die 2009/10-seisoen was een van die seisoene met die laagste sikloonaktiwiteit in die Indiese Oseaan.

6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).

Grondvogtoestande in die droëlandgebiede van die Vrystaat is egter baie gunstig vir aanplantings. Die baie lae en onwinsgewende koringprys veroorsaak egter dat boere nie gretig is om koring te plant nie. Met koue fronte wat die Kaap begin tref, behoort reën voor te kom om aanplantings in die Wes- en Suid-Kaap te kan doen voor die einde van Mei. Die gedeeltes nader aan Mosselbaai kan egter probleme ondervind.

Die Oesskattingskomitee se vooruitskatting van aanplantings vir die komende seisoen dui egter dat ongeveer 548 000 ha koring geplant gaan word wat meer as 100 000 ha minder is as die vorige seisoen en ongeveer 32% minder is as in 2008. Dit is veral in die Vrystaat waar baie minder koring aangeplant gaan word (180 000 ha in 2010 teenoor 235 000 ha in 2009).

6.2 Somergraan
Met die kouer toestande wat begin intree gaan verdere ontwikkeling van somergrane nou staak. Geen of min ryp het nog tot op hede voorgekom nie en probleme met siektes as gevolg van die nat toestande kan die kwaliteit van somergrane begin benadeel. Die oesproses gaan vanjaar later as normaal wees as gevolg van die nat toestande.

Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasiemodel is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes. Die oes teen die einde van Maart 2010 is beraam op tussen 12,7 en 12,9 miljoen ton, met die mees waarskynlike oes ongeveer 12,9 miljoen ton. Die skatting van die Oesskattingskomitee dui op ’n oes van ongeveer 13,1 miljoen ton.

Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein

17 Mei 2010
 

5
 
 

Kommentaar

charles norval

ek kan sien die skrywer van die artikel het n besondere poging aangewend wat inligting en voorbereiding aanbetrek oor die weer-die ironie van alles is ons oupas het sonder bogenoemde inligting jaar na jaar ryker geword terwyl ons vandag met soveel inligting en tegnologie soms maar noustrop trek.
het die politieke klimaat verander of het die weer verander?¿in die tagtiger jare was die mooiste geluid snags as die eerste vet druppels reen soos koeels op die sinkdak neerplof-vandag met n klap van n houtbalk of geluid op die dak laat almal se hart ophou klop-is daar inbrekers?

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.