Hoofnuus
Die koudste week van die jaar het in die week vanaf 13 tot 20 Junie voorgekom. Neerslae van tussen 20mm tot 100mm het voorgekom oor veral die Wes-, Suid- en Oos-Kaap.
Min of geen reën word verwag vir bykans die hele land vir die tydperk tot die einde van Junie nie. In die eerste week van Julie kan koue en nat toestande weer voorkom - veral oor die Wes-Kaap.
Temperature behoort stadig te herstel, maar in die eerste week van Julie kan verdere baie koue toestande verwag word.
1. Die afgelope twee weke
Die koudste week van die winter tot op hede het voorgekom in die week vanaf 13 Junie. Baie swaar sneeuneerslae het veral oor die Wes- en Oos-Kaapse berge voorgekom. Minimum temperature van tot minus 10 grade C, of selfs laer, is gemeet. Baie goeie neerslae het voorgekom oor die Wes-, Suid- en Oos-Kaap en gedeeltes van die Vrystaat en die suidelike KwaZulu-Natal. Hoewel die aanvulling van damme in veral die Suid-Kaap nog nie momentum gekry het nie, sal dit baie help om veral weidingstoestande te stabiliseer. Die koue toestande beperk egter die groei van veral aangeplante weidings in die belangrike suiwelgebiede van die Oos- en Wes-Kaap.
2. Verwagting vir die volgende twee weke (21 Junie tot 5 Julie 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval
Min of geen reën word verwag oor die grootste gedeelte van die somerreëngebied in die volgende twee weke nie. In die eerste week van Julie kan reën dalk voorkom oor die suidelike gedeeltes.
Temperatuur
Nag- of minimum temperature gaan nog steeds baie laag wees, maar geleidelik herstel. Baie koue toestande kan weer voorkom vanaf ongeveer 3 Julie, met sterk frontale stelsels wat uit die suidweste die land kan beïnvloed. Dagtemperature gaan ook rondom 14 tot 18 grade C wees, maar kan skerp daal vanaf ongeveer 3 Julie tot laer as 12 grade C.
2.2 Winterreëngebied
Min verdere reën word oor die Wes-Kaap en aangrensende gedeeltes verwag tot ongeveer die einde van Junie. Vanaf die begin van Julie kan toestande vir reën verbeter, met ’n volgende reeks koue fronte wat verwag word.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
See temperature in die sentrale Stille Oseaan is nou effens koeler as normaal. Die belangrike Niño3,4-gebied is ongeveer 0,4 grade C koeler as normaalweg, wat dui op ’n La Niña tipe ontwikkeling. Kouer water uit die dieper lae van die oseaan is besig om na die oppervlakte te beweeg en het begin om die oppervlakte te bereik en die warm water te verplaas. Al die ander Niño-gebiede is ook nou effens koeler as normaal.
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdrukverskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van seetemperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer, of skuif, as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlaktewinde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die 30-dae gemiddelde SOI was op 20 Junie 2010 = +4,5 wat effens La Niña neigend is, maar nog oorwegend neutraal. Vooruitsigte vir reën is redelik normaal.
4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
4.1 Somerreëngebied
Met die La Niña-tipe ontwikkeling wat tans plaasvind, kan ligte reën nog verwag word oor veral die noordelike helfte van die land in Julie. Verdere sneeu is nog moontlik met die patroon van vogtige lug wat nog infilter, oor veral die noordoostelike gedeeltes van die land en die voorkoms van koue fronte wat in kombinasie daarmee, sneeu kan veroorsaak.
4.2 Winterreëngebied
Redelike normale reënval kan verwag word hoewel daar aanduidings is van ondernormale reënval later in die seisoen.
5. Tropiese siklone
Die tropiese sikloonseisoen is verby. Die 2009/’10-seisoen was een van die seisoene met die laagste sikloonaktiwiteit in die Indiese Oseaan.
6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Baie min koring gaan aangeplant word in die droëlandproduksiegebied van die Vrystaat. Besproeiingsoppervlaktes in die Noord-Kaap, Noordwes en Limpopo gaan egter redelik normaal aangeplant word as gevolg van ’n gebrek aan ’n alternatiewe wintergewas. Minder koring gaan ook in die Wes-Kaap aangeplant word, maar die afwyking is nie so groot soos in die Vrystaat nie. Swak koringpryse is die hoofrede vir die afname.
Die Oesskattingskomitee se vooruitskatting van aanplantings vir die komende seisoen dui egter dat ongeveer 548 000ha koring geplant gaan word wat meer as 100 000ha of 16% minder is as die vorige seisoen en ongeveer 32% minder is as in 2008. Dit is veral in die Vrystaat waar baie minder koring aangeplant gaan word (180 000 in 2010 teenoor 235 000 in 2009).
6.2 Somergraan
Probleme word ondervind met veral mielies, waar diplodia-kopvrot redelike ernstige oesverliese tot gevolg het. Dit is ’n gevolg van die nat toestande gedurende die afgelope seisoen wat gunstige toestande geskep het vir siektes en peste.
Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes.
Die oes teen die einde van Maart 2010 is beraam op tussen 12,7 en 12,9 miljoen ton met die mees waarskynlike oes ongeveer 12,9 miljoen ton. Die skatting van die Oesskattingskomitee dui op ’n oes van ongeveer 13,1 miljoen ton.
Geskryf deur Johan van den Berg van Santam Agri.
21 Junie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)