Boere in die somerreëngebied sukkel om graan te stroop as gevolg van die nat weer, terwyl min reën die afgelope tyd in die winterreenstreek geval het.
Hoofnuus:
Met twee redelike sterk frontale stelsels in die volgende week, is reën moontlik oor veral die Suidwes-Kaap vir die tydperk vanaf 4 tot 7 Mei asook vanaf 9 tot 12 Mei April. Min reën word oor die Suid-Kaap, die Tuinroete en die Langkloof verwag.
Verdere reën is ook moontlik oor die somerreëngebied tot ongeveer tot 5 Mei, maar opklaring vind plaas en min of geen verdere reën word egter verwag vir die res van die tydperk tot ten minste 15 Mei nie.
Geen swaar ryp word verwag tot ten minste 9 Mei nie, hoewel ligte ryp kan voorkom vanaf 6 Mei.
1. Die afgelope twee weke
Die verwagte reën vanaf 19 tot 21 April oor die Suidwes-Kaap was terleurstellend swak. Reën het egter steeds voorgekom oor die sentrale tot oostelike gedeeltes van die somerreëngebied. Die westelike en noordwestelike gedeeltes van die Noord-Kaap, asook die grootste gedeelte van die Tuinroete, die Langkloof en die suidelike gedeeltes van die Oos-Kaap het steeds baie min reën gekry. Met die winterreënseisoen wat in die Wes-Waap teen April moes begin, het min reën tot op hede ook oor hierdie gebied voorgekom.
Boere in die somerreëngebied sukkel om graan te stroop as gevolg van die nat weer. Omdat geen of slegs baie ligte ryp tot op hede voorgekom het, droog plante baie stadig af.
2. Verwagting vir die volgende twee weke (3 tot 17 Mei 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval
Reën is nog moontlik rondom 3 tot 5 Mei maar dit lyk asof die reëntoestande begin verswak. Enkele ligte reën kan egter nog voorkom rondom 9 en 10 Mei asook rondom 16 tot 17 Mei maar dit lyk asof neerslae minder as 10 mm behoort te wees.
Temperatuur
Met twee redelike sterk frontale stelsels wat die land vanaf 4 Mei asook weer vanaf 9 Mei kan beïnvloed, kan veral minimum temperature daal, maar dit lyk nie asof swaar ryp gaan voorkom nie. Die stelsel vanaf 9 Mei kan dalk die laer temperature veroorsaak, wat ryp kan teweegbring. Dagtemperature gaan ook redelik daal maar behoort steeds redelik matig tot koel te wees.
Nagtemperature van onder 5 grade C is moontlik vanaf 6 Mei oor die sentrale tot suidelike binneland asook oor die Hoëveld.
2.2 Winterreëngebied
Ten minste twee redelike sterk frontale stelsels behoort goeie neerslae te veroorsaak oor die Suidwes-Kaap vanaf 4 tot 7 Mei, asook vanaf 9 tot 12 Mei. Dit lyk asof neerslae van meer as 10 mm moontlik is. Slegs ligte reën word egter steeds verwag oor die Suid-Kaap, die Tuinroete asook die Langkloof-gebiede.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
Met oppervlaktemperature in al die Niño-gebiede tans minder as 1 graad C warmer as normaal, is dit baie naby aan neutrale toestande met slegs ‘n swak El Niño-neiging. Voorspellings en ander temperatuur patrone wat tans ontwikkel dui dat die kanse goed is dat die huidige situasie kan omswaai na ’n La Niña-fase vanaf die middel van die winter en volgende somer.
Kyk na die meegaande webbladsy.
Kyk ook na die volgende webadres:
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die 30-dae gemiddelde SOI was op 30 April 2010 = +12,13 wat ’n baie sterk ommeswaai toon vanaf einde Maart 2010 waar die SOI nog -10,93 was. ‘n Styging in SOI verteenwoordig ‘n beweging weg van El Niño. Hierdie baie sterk sein kan verantwoordelik wees vir swakker reënval oor die winterreënvalgebiede vir die Mei tot Julie-tydperk.
April 2010 was volgens die SOI-fase sisteem in Fase 4, (vinnig stygend of ontwikkeling in ’n La Niña-rigting ). Kyk na onderstaande webbladsy deur op “World“ te kliek. Maart 2010 was nog Fase 1 of El Niño-neigend.
4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
4.1 Somerreëngebied
Met die sterk afbreekfase van El Niño wat nou begin plaasvind, is reën nog moontlik oor die somerreëngebied in Mei, maar kan dalk ’n laat lenteseisoen aandui voordat somerreën kan voorkom.
4.2 Winterreëngebied
Met die baie sterk ontwikkeling, of die afbreekfase van El Niño wat tans plaasvind, het dit veroorsaak dat die kanse vir reën oor die Wes-Kaap verswak. Dit lyk veral as die Suid-Kaap gedeelte ondergemiddelde reënval behoort te kry in die volgende ten minste drie maande.
5. Tropiese siklone
Die tropiese sikloonseisoen is vir praktiese doeleindes verby. Die 2009/10-seisoen was een van die seisoene met die laagste sikloonaktiwiteit in die Indiese Oseaan.
6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Grondvogtoestande in die droëlandgebiede van die Vrystaat is egter baie gunstig vir aanplantings. Die baie lae en onwinsgewende koringprys veroorsaak egter dat boere nie gretig is om koring te plant nie. Met koue fronte wat die Kaap begin tref, behoort reën voor te kom om aanplantings in die Wes- en Suid-Kaap te kan doen voor die einde van Mei. Die gedeeltes nader aan Mosselbaai kan egter probleme ondervind.
Die Oesskattingskomitee se vooruitskatting van aanplantings vir die komende seisoen dui egter dat ongeveer 548 000 ha koring geplant gaan word, wat meer as 100 000 ha minder is as die vorige seisoen en ongeveer 32% minder is as in 2008. Dit is veral in die Vrystaat waar baie minder koring aangeplant gaan word (180 000 in 2010 teenoor 235 000 in 2009).
6.2 Somergraan
Met die kouer toestande wat begin intree gaan verdere ontwikkeling van somergrane nou staak. Geen ryp het nog tot op hede voorgekom nie en probleme met siektes as gevolg van die nat toestande kan die kwaliteit van somergrane begin benadeel. Die oesproses gaan vanjaar later as normaal wees as gevolg van die nat toestande.
Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes. Die oes teen die einde van Januarie 2010 is beraam op van 11,9 tot 13,1 miljoen ton met die mees waarskynlike oes ongeveer 12,4 miljoen ton. Die skatting van die Oesskattingskomitee dui op ’n oes van ongeveer 13,1 miljoen ton.
Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein.
4 Mei 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)