Nog koue kom vir hele land

 
Sneeu op die Matroosberg. Foto: GRETCHEN PEISER
Sneeu op die Matroosberg. Foto: GRETCHEN PEISER

Hoofnuus
Verdere koue toestande word oor Suid-Afrika verwag tot ongeveer 18 Julie. Verdere reën is ook moontlik oor die Wes-, Suid- en Oos-Kaap.
Baie koue toestande met redelike swaar ryp kan oor die binneland verwag word tot ongeveer 18 Julie, waarna temperature sal herstel.
Neerslae van tot 25 mm het oor gedeeltes van die Tuinroete voorgekom in die tydperk vanaf 10 tot 12 Julie maar aanvulling aan damme bly steeds baie min en damvlakke krities laag.

1. Die afgelope twee weke
Baie koue toestande het weer begin voorkom vanaf ongeveer 10 Julie oor die suidelike gedeeltes van die land, wat later uitgebrei het oor die sentrale tot noordelike gedeeltes. Goeie nuus is egter dat die Wes-Kaap, Suid-Kaap en gedeeltes van die Oos-Kaap redelike goeie neerslae gekry het. Die droogtegeteisterde Tuinroete het ook meer as 20 mm oor groot gedeeltes gekry. Die reën is egter nog té min om aanvulling van water aan opgaardamme te veroorsaak.

In die George-omgewing het die Tuinroete-dam darem water bygekry en staan tans op ongeveer 40%, terwyl dit in Meimaand nog onder 30% was. Die belangrikste dam wat die Mosselbaai/Hartenbos-omgewing van water voorsien, die Wolwedansdam, het egter net 20,6% van die vol kapasiteit. Verlede jaar die ooreenstemmende tydperk was die dam nog 55,2% vol.

Die res van die damme in die Wes-Kaap en veral die groot damme se toestand lyk goed. Damme in die Oos-Kaap sukkel ook om aanvulling te kry, maar in die res van die land is genoeg water vir die komende seisoen se besproeiing.

2. Verwagting vir die volgende twee weke (12 tot 26 Julie 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval

Min of geen reën word oor die grootste gedeelte van die Somerreëngebied verwag vir ten minste die volgende twee weke nie. Die uitsondering is dat die Oos-Kaap en KwaZulu/Natal se kusgebiede en aangrensende binneland egter reën kan verwag vanaf 12 tot 14 Julie. Ligte reën kan ook oor die Laeveld voorkom in die week vanaf 19 tot 26 Julie.

Temperatuur
Nag- of minimum temperature gaan vir ten minste die tydperk tot 18 Julie baie koud wees met ’n reeks koue fronte wat koue lug invoer vanuit die suide. Redelike swaar ryp is moontlik in hierdie tydperk. Dagtemperature gaan ook laag bly, maar stadig herstel vanaf ongeveer 18 Julie.

2.2 Winterreëngebied
Meer reën word verwag in die volgende ten minste twee weke.

3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan

Al die Niño-gebiede in die sentrale Stille Oseaan se see-oppervlaktemperature is nou koeler as normaal. Die belangrike Niño 3,4-gebied is ongeveer 0,7 grade C koeler as normaal wat dui op ’n La Niña-tipe ontwikkeling. Kouer water uit die dieper lae van die oseaan is ook steeds besig om na die oppervlakte te beweeg en het begin om die oppervlakte te bereik en die warm water te verplaas. Voorspellings dui dat daar ’n ten minste 60% kans is dat die komende seisoen La Niña-neigend sal wees en ongeveer 40% vir neutraal. Die kans vir El Niño is omtrent nul.

Grafiek 1:

Grafiek 2:

3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)

Die 30-dae gemiddelde SOI was op 12 Julie +7,07 wat La Niña neigend is. Die maand van Junie 2010 was alreeds in die Fase 2 (La Niña) volgens die SOI-fase sisteem.

4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
4.1 Somerreëngebied

Met die La Niña-tipe ontwikkeling begin kanse vir reën verswak oor veral die sentrale, westelike en noordelike gedeeltes vir die tydperk tot ongeveer Oktober/November. Redelike goeie reën kan egter in die volgende maande begin voorkom oor die oostelike kusgebiede en aangrensende binneland. Verdere sneeu is nog steeds moontlik in veral die eerste deel van Augustus. Die reënseisoen kan later as normaal begin oor die somerreëngebied, maar behoort vir die seisoen as geheel redelik gunstig te wees.

4.2 Winterreëngebied
Die kanse vir reën lyk nog redelik gunstig vir die res van Julie en Augustus, maar heelwat swakker vanaf die laaste deel van Augustus.

5. Tropiese siklone
Die tropiese sikloonseisoen is verby. Die 2009/’10-seisoen was een van die seisoene met die laagste sikloonaktiwiteit in die Indiese Oseaan.

Tans is groot gedeeltes van die Indiese Oseaan se oppervlakwater warmer as normaal wat dalk ’n aanduiding van groter sikloonaktiwiteit kan wees in die sikloonseisoen vanaf November. Dit is egter nog te vroeg om akkurate aanduidings te kry.

6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).

Baie minder koring is aangeplant in die droëland-produksiegebied van die Vrystaat. Besproeiingsoppervlaktes in die Noord-Kaap, Noordwes en Limpopo gaan egter redelik normaal aangeplant word as gevolg van ’n gebrek aan ’n alternatiewe wintergewas. Effens minder koring is ook in die Wes-Kaap aangeplant maar die afwyking is nie so groot soos in die Vrystaat nie. Swak koringpryse is die hoofrede vir die afname.

Die Nasionale Oesskattingskomitee se vooruitskatting van aanplantings vir die komende seisoen dui egter dat ongeveer 548 000 ha koring geplant gaan word, wat meer as 100 000 ha of 16% minder is as die vorige seisoen en ongeveer 32% minder as in 2008. Dit is veral in die Vrystaat waar baie minder koring aangeplant gaan word (180 000 ha in 2010 teenoor 235 000 ha in 2009).

6.2 Somergraan
Probleme word ondervind met veral mielies waar diplodia-kopvrot redelike ernstige oesverliese tot gevolg het. Dit is ’n gevolg van die nat toestande gedurende die afgelope seisoen wat gunstige toestande geskep het vir siektes en peste.

Geskatte mielie-oes
Die Ceres-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes. Die oes teen die einde van Maart 2010 is beraam op 12,7 tot 12,9 miljoen ton met die mees waarskynlike oes ongeveer 12,9 miljoen ton. Die skatting van die komitee dui op ’n oes van ongeveer 13.4 miljoen ton.

Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein

12 Julie 2010

4.25
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.