|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Hoofnuus
Toestande vir reën lyk redelik goed oor die oostelike tot noordoostelike dele van die land rondom 18 Oktober tot 20 Oktober en weer vanaf 26 Oktober. Min of geen reën word verwag oor die westelike dele.
Die La Niña-ontwikkeling duur voort en het die afgelope week redelik versterk om alreeds as ’n swak/matige La Niña geklassifiseer te kan word.
1. Die afgelope twee weke tot 17 Oktober 2011
Die afgelope twee weke is gekenmerk deur redelik stabiele weerstoestande met min reën oor bykans die hele land. Reën wat met hael gepaardgegaan het, het egter in gedeeltes van die Laeveld voorgekom. Temperature het redelik gestyg en veral maksimum temperature is warm tot baie warm.
2. Verwagting vir die volgende twee weke (17 tot 31 Oktober 2011)
2.1 Somerreëngebied
Reënval
Tropiese vog beweeg vanaf Sentraal-Afrika suidoos oor Angola en Botswana. Die Atlantiese hoogdrukstelsel veroorsaak dat Namibië en die westelike, suidwestelike en suidelike gedeeltes van Suid-Afrika se kanse vir reën nog swak is vir ten minste die volgende twee weke.
Reën kan egter vanaf ongeveer 18 Oktober tot 20 Oktober oor die noordoostelike dele van Noordwes, die Sentraal-, Noord- en Oos-Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, KwaZulu-Natal en noordelike dele van die Oos-Kaap begin voorkom.
Toestande verbeter weer vir reën vanaf ongeveer 26 Oktober tot 28 Oktober en behoort ook verder weswaarts uit te brei om die Wes-Vrystaat en oostelike dele van die Noord-Kaap te bereik.
Temperatuur
Dagtemperature gaan warm tot baie warm wees met nagtemperature ook ietwat warmer. ’n Daling in temperatuur is weer moontlik rondom 20 en 21 Oktober wanneer ’n kouefront weer die suidwestelike dele van die land gaan tref en kouer lug invoer.
2.2 Winterreëngebied
Met frontale stelsels rondom 19 Oktober asook 22 en 23 Oktober is ligte reën moontlik oor die Wes- en Suid-Kaap.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
Die La Niña-neiging of koeler wordende oppervlaktemperature word voortgesit met die belangrike Niño-3.4-gebied se temperature wat in die laaste week verder afgekoel het vanaf ongeveer 0,7 °C koeler as normaal tot ongeveer 0,9 °C koeler as normaal. Dit kan alreeds as ’n swak of matige La Niña geklassifiseer word.
Die nuutste voorspellings dui ook telkens met opdatering ’n sterker La Niña-ontwikkeling vir 2011/’12 as wat aanvanklik verwag is, maar steeds swakker as in 2010/11.
Voorspellings van see-oppervlaktemperature kan gesien word in die webwerf:
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie-indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook 'n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en 'n aanduiding gee van die stand van seetemperature. Die “ossillasie”-gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlaktewinde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI 'n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI-waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die gemiddelde SOI was teen einde September 2011 op +11.1 nadat dit teen die einde van Augustus 2011 op +2.6 was. Op 17 Oktober was dit +10.7.
4. Reënvooruitsigte vir die komende maande
Die SOI was in Augustus reeds in ’n La Niña-fase (Fase 2) maar dit het verder versterk en in die vinnig stygende fase (Fase 4) in September inbeweeg . Tradisioneel is Augustus en September reeds ’n sterk aanduiding van see-temperatuurontwikkeling vir die res van die seisoen.
In die meeste jare waar Augustus/September alreeds La Niña-neigend was, het dit aangehou tot in die herfs (Maart/April) van die volgende kalenderjaar.
Grafiek 3
4.1 Somerreëngebied
Met die versterking van La Niña-neigings begin die reënseisoen gewoonlik later. Tans is die begin van die somerreënseisoen reeds later as normaal wat tipies van La Niña-neigende seisoene is.
Dit lyk egter asof reën in die laaste week van Oktober kan begin voorkom oor die sentrale tot oostelike en noordelike dele van die land, maar dit gaan droog bly in die westelike tot suidwestelike dele en eers later (November/Desember) daar begin reën.
4.2 Winterreëngebied
Die reënval oor die Wes-Kaap was tot op hede beter as wat verwag is, maar droër toestande het begin voorkom sedert die tweede deel van September oor veral die Swartland.
5. Tropiese siklone
Die sikloonseisoen in die Suidelike Halfrond behoort weer vanaf November aktief te wees. Tans is see-oppervlaktemperature te laag as gevolg van wintertoestande om sikloon-ontwikkeling te stimuleer, veral in die suidelike Indiese Oseaan.
Voorspellings dui ook dat die temperature in die Indiese Oseaan redelik koel gaan bly, wat die kanse vir siklone baie verswak en gunstig kan wees vir reënval.
6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Toestande vir droëland-wintergraanproduksie in die Vrystaat lyk steeds baie belowend met die groot hoeveelhede grondvog beskikbaar. Die warm toestande laat waterverbruik styg en reën kan help om optimale groei te verseker.
Daar is ’n moontlikheid van rypskade as gevolg van lae nagtemperature sedert middel September.
Produksietoestande het verswak in die Wes-Kaap, maar is steeds goed in die Suid-Kaap. Droogteskade het begin voorkom oor die Swartland en omliggende gebiede wat die oes in hierdie kritieke stadium kan knou. Dit is egter goeie toestande vir die stroop van grane en goeie kwaliteit word verwag.
6.2 Somergraan
Die Oesskattingskomitee het die 2010/’11-mielie-oes met ongeveer 1,6% afwaarts aangepas tot 10,608 miljoen ton.
7. Internasionaal
7.1 VSA
Dit lyk asof produksietoestande gestabiliseer het met die grane wat begin ryp word. Slegs 53% van mielies word as goed tot baie goed beskou teenoor meer as 70% verlede seisoen. Ongeveer 40% van die mielie-oes is reeds ingesamel.
Die skakel gee weeklikse inligting van die vordering van die Amerikaanse graangewasse. Klik ook hier.
Gebruik die skakel om die afgelope weke en maande se reënval in die VSA te kan sien.
7.2 Australië
Toestande lyk in die algemeen baie goed vir koringproduksie behalwe in kleiner kolle in Wes-Australië waar droogteskade voorkom. Hoewel Augustus swakker as verwagte reënval gehad het, lyk die toestande steeds goed, maar skade begin voorkom.
In September het daar kol-kol redelik goeie reën voorgekom oor die suidelike dele van Queensland asook Suid-Australië. Dit lyk egter asof redelike swaar neerslae in die laaste week van Oktober oor veral Suid-Australië asook die suidelike dele van Queensland kan begin voorkom waar die meeste koring aangeplant is. Reën is ook moontlik oor Wes-Australië.
Kyk gerus na die voorspelling vir die volgende twee weke:
7.3 Suid-Amerika
Tradisioneel is veral Argentinië droog tydens La Niña-seisoene met Brasilië wat weer bogemiddelde reënval te wagte kan wees.
Voorspellings dui dat daar ’n kans is vir redelike goeie neerslae vir Argentinië vir die volgende twee weke. Veral in die laaste week van Oktober kan die noordelike gedeeltes baie goeie neerslae verwag.
19 Oktober 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)