Reën verwag oor suidelike dele

 
Rivier in Oos-Kaap. Foto: THEUNS BOTHA
Rivier in Oos-Kaap. Foto: THEUNS BOTHA

Hoofnuus
Beter as verwagte reën het in die vierde week van Augustus oor die Wes-Kaap voorgekom. Verdere reën word verwag in die Wes-, Suid- en Oos-Kaap asook suidelike gedeeltes van KwaZulu-Natal in die eerste week van September.

Die La Niña-ontwikkeling het baie sterk gevorder en kan reeds as ’n matige tot sterk La Niña beskryf word. Daar is ’n groter as 90% kans dat die La Niña sal voortduur tot in die herfs van 2011.

Dit lyk asof die huidige La Niña-gebeurtenis die “normale” effek wêreldwyd toon. Die droogte in Rusland en die oormaat reën in China, Indië en Pakistan, asook goeie reën in Oos- en Suid-Australië is tipies van La Niña.
Die verwagte droër toestande in Amerika het egter nie gerealiseer nie maar daar is aanduidings dat die suidelike gedeeltes van dié land, asook groot gedeeltes van Meksiko, droogte toestande gaan ervaar in die volgende maande.

Die kans is egter ook goed dat Argentinië droogtetoestande kan ervaar in die Suidelike Halfrond se somer van 2010/’11. Die somerreëngebied van Suidelike Afrika kan goeie reënvaltoestande in die mid- tot laatsomer verwag, maar redelike ernstige droogtes kan voorkom in Kenia, Uganda en die aangrensende lande in Oos-Afrika.

1. Die afgelope twee weke
Beter as verwagte reën het in die Wes-Kaap voorgekom rondom 22 en 23 Augustus, wat baie sal help om droogteskade aan die wintergraan-oes wat tans in baie sensitiewe ontwikkelingstadium is, te voorkom. In die binneland was veral nagtemperature steeds baie laag en ryp het voorgekom oor groot gedeeltes van veral die sentrale tot westelike binneland.

Die mielie-oes is baie naby aan klaar ingesamel en bogemiddelde opbrengste is in die meeste gebiede behaal, behalwe in gebiede waar versuiptoestande voorgekom het. Oor die algemeen is landbou-produksietoestande redelik gunstig vir hierdie tyd van die jaar, behalwe in gedeeltes van die Suid- en Oos-Kaap, waar droogtetoestande nog steeds voorkom.

2. Verwagting vir die volgende twee weke (24 Augustus tot 6 September 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval

Min of geen reën word oor die grootste gedeelte van die Somerreëngebied verwag vir ten minste die volgende twee weke nie. Dit lyk egter asof reën moontlik is oor die Oos-Kaapse en Natalse kusgebiede en selfs aangrensende binneland in die eerste week van September. Die reëntoestande kan dalk uitbrei tot so ver as die Oos-Vrystaat.

Temperatuur
Dit lyk asof dagtemperature redelik matig tot warm gaan wees in die volgende tyd maar nagtemperature gaan steeds laag bly. Ryp bly steeds moontlik oor die sentrale tot suidelike dele van die land, maar swaar ryp word nie verwag in die res van die land nie.

2.2 Winterreëngebied
Die kanse vir reën het verbeter en veral vir die tydperk rondom 28 Augustus asook die eerste week van September kan reën verwag word oor die Wes- sowel as Suid-Kaap.

3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) - Stille Oseaan
Al die Niño-gebiede in die sentrale Stille Oseaan (met die uitsondering van die Niño-4-gebied naaste aan Australië) is alreeds meer as 1 graad C koeler as normaal (Die Niño 1+2 gebiede teen Suid-Amerika is reeds meer as 2 grade C koeler as normaal. Dit kan dus alreeds vanaf Junie geklassifiseer word as ’n matige tot swak La Niña. Voorspellings dui nou dat daar ’n ten minste 90% kans is dat die komende seisoen La Niña-neigend sal bly en ongeveer 10% vir neutraal. Die kans vir El Niño is feitlik nul.

Sedert die middel van Augustus het die afkoeling effens sywaarts beweeg maar daar is sterk aanduidings dat dit wel verder kan afkoel in die seisoen vorentoe. Die ontwikkeling van die afgelope tyd dui op ’n redelike sterk La Niña verskynsel.
Grafiek 1:
Grafiek 2:

3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van seetemperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)

Die 30-dae gemiddelde SOI was op 24 Augustus +19,0 wat sterk La Niña neigend is. Die maand van Julie 2010 was in Fase 4 (vinnig ontwikkelende La Niña) volgens die SOI-fase sisteem.

4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
4.1 Somerreëngebied

Met die La Niña-tipe ontwikkeling is die kanse vir reën swak oor die grootste gedeelte van die land vir die tydperk tot ongeveer middel Oktober, maar goeie reënvalneerslae is moontlik in die mid- tot laatsomer. Dit wil egter ook voorkom asof reënvalvooruitsigte verswak het vir die suidoostelike gebiede van die land nadat dit aanvanklik redelik goed gelyk het. Die reënseisoen kan later as normaal begin oor die Somerreëngebied maar behoort vir die seisoen as geheel redelik positief te wees.

4.2 Winterreëngebied
Die kanse vir reën het baie verswak met die sterk La Niña-ontwikkeling. Reën is weer moontlik is die eerste twee weke van September.

4.3 Internasionaal
Asië

Die huidige baie droë toestande in Rusland asook die baie swaar reën oor Indië, Pakistan, China en ander lande in Suid-Oos Asië kan aan die huidige La Niña-verskynsel toegeskryf word. Dit kan nog voortduur.

Suid-Amerika
Vooruitsigte lyk swak vir die Argentynse somergraanoes met ondergemiddelde reënval wat verwag kan word. Dit kan internasionale somergraanpryse gunstig raak.

Australië
Koringproduksietoestande lyk tans nog baie goed oor die oostelike produksiegebiede maar swakker oor Wes-Australië. Goeie reën word verwag in die volgende maande wat ’n groot koringoes kan verseker.

Amerika
Die voorspelde droër toestande oor die noordwestelike mieliegordel het nie ‘n werklikheid geword nie en produksietoestande is oor die algemeen beter as die laaste vyf jaar se gemiddeld.

Afrika
Goeie reënvaltoestande word verwag oor Suidelike Afrika vanaf Oktober 2010 maar in Oos-Afrika kan ernstige droogtes voorkom.

Europa
Normale toestande vir die tydperk tot Oktober maar droër toestande in die Europese winter. Dit kan koringproduksie benadeel.

5. Tropiese siklone
Die tropiese sikloonseisoen in die suidelike Indiese Oseaan begin gewoonlik vanaf November. Tans is daar nog geen aktiwiteite. Daar is egter tans baie sterk aktiwiteit in die Noordelike Halfrond met groot hoeveelhede warm warm in Suid-Oos Asië en die noordelike Indiese Oseaan as gevolg van die huidige La Niña-verskynsel, wat warm water ooswaarts laat beweeg om noord van Australië te versamel. Dit is veral China wat tans gebuk gaan onder tropiese storms maar ook Indië en aangrensende gebiede ondervind tans swaar reën as gevolg van die La Niña-ontwikkeling en gevolglike warmer as normale oppervlakwater in die gebied.

6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).

Baie minder koring is aangeplant in die droëlandproduksiegebied van die Vrystaat. Besproeiingsoppervlaktes in die Noord-Kaap, Noordwes en Limpopo gaan egter redelik normaal aangeplant word as gevolg van ’n gebrek aan ’n alternatiewe wintergewas. Effens minder koring is ook in die Wes-Kaap aangeplant maar die afwyking is nie so groot soos in die Vrystaat nie. Swak koringspryse tydens planttyd is die hoofrede vir die afname.

Die Nasionale Oesskattingskomitee se vooruitskatting van aanplantings vir die huidige seisoen dui dat ongeveer 570 000 ha koring geplant is wat meer as 72 000 ha of 11% minder is as die vorige seisoen.

Met die droogte in Rusland het die prys egter heelwat gestyg, wat tot voordeel is vir koringprodusente.

6.2 Somergraan
Die mielie-oes is ook byna voltooi en bogemiddelde opbrengste het voorgekom.

Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes. Die oes teen die einde van April 2010 is beraam op tussen 12,7 en 12,9 miljoen ton met die mees waarskynlike oes ongeveer 12.9 miljoen ton. Die skatting van die Oesskattingskomitee dui op ’n oes van ongeveer 13,4 miljoen ton.

Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein

23 Augustus 2010

5
 
 

Kommentaar

Johan Buys  

Baie goeie inligting

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.