Ryp en reën voorspel

 
Ryp op stoppels. Foto: LOUW PRETORIUS
Ryp op stoppels. Foto: LOUW PRETORIUS

Hoofnuus
1) Die eerste sterk koue front van die winterseisoen kan die naweek van 15 tot 18 April reën veroorsaak oor die land (Winter- en Somerreëngebied) en sterk afkoeling oor die sentrale tot suidelike binneland.
2) Die eerste ryp van die seisoen is moontlik vanaf 18 tot 20 April oor veral die sentrale tot suidelike binneland.
3) Die huidige El Niño begin om sterk om te swaai en dit lyk nou asof die 2010/11-seisoen kan oorgaan in ’n La Niña-fase wat steeds op goeie reënvalvooruitsigte dui vir die 2010/11-somerseisoen.

1. Die afgelope twee weke
Swaar reënneerslae het voorgekom oor veral die Noordwes-provinsie, waar tot 200 mm sedert die begin van April gemeet is, byvoorbeeld in die Koster-omgewing. Goeie neerslae het ook oor die Vrystaat, Mpumalanga, KZN, Gauteng en Limpopo voorgekom. Goeie neerslae het ook oor gedeeltes van die Oos-Kaap voorgekom maar min reën het steeds voorgekom oor die baie droë Mosselbaai/George/Knysna- asook Langkloof-omgewing. Min reën het tot op hede nog oor die Winterreënstreek van die Wes-Kaap voorgekom.

2. Verwagting vir die volgende twee weke (12-28 April 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval

Min of geen reën word verwag tot ongeveer Vrydag 16 April nie. Toestande vir reën verbeter weer oor veral die sentrale binneland rondom die naweek van Saterdag, 17 April tot Maandag, 19 April. Opklaring kan begin plaasvind uit die weste - vroeg volgende week - maar reën kan nog vir die res van volgende week oor veral Mpumalanga, KZN, Gauteng, Limpopo en die Oos-Kaap voorkom. Redelik swaar neerslae is moontlik oor veral die Oos-Kaapse kusgebiede vanaf ongeveer 16 April.

Temperatuur
Met ’n sterk koue front wat die land oor die naweek tref, kan veral minimum temperature sterk daal en die eerste ryp van die seisoen is moontlik oor veral die sentrale tot suidelike binneland vanaf ongeveer Sondag, 18 April. Dagtemperature behoort egter steeds redelik normaal te wees maar kan ook daal vanaf 16 April met die bewolkte en nat toestande wat verwag word. Temperatuurdalings van tot 10 grade C is moontlik oor die naweek oor veral die Noord-Kaap, Gauteng, Vrystaat, Oos-Kaap, die Noordwes-provinsie asook Mpumalanga.

2.2 Winterreëngebied
’n Sterk frontale stelsel kan vanaf ongeveer 15 tot 22 April reën en koue toestande oor die Wes- en aangrensende Oos-Kaap veroorsaak. Dit lyk asof 10-20 mm moontlik is oor die grootste gedeelte van die Wes- en Suid-Kaap.

3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan

Sedert die middel van Februarie 2010 het see-oppervlaktemperature sywaarts beweeg maar het in die laaste twee weke weer begin afkoel en is die belangrike Niño3.4-gebied tans minder as 1 graad C warmer as normaal nadat dit in Desember op die piek ongeveer 2 grade C warmer as normaal was. Dit verteenwoordig steeds ’n swak El Niño-fase alhoewel dit baie naby aan neutrale toestande begin beweeg.

Kyk na onderstaande webbladsye:

Webwerf 1
Webwerf 2:

Baie sterk tekens is dat die huidige El Niño kan oorgaan in ’n La Niña-fase vir die komende somer.

Kyk na die webadres:

Dit kan veroorsaak dat die 2010/11-somer ook bogemiddeld nat kan wees.

3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)

Die 30 dae gemiddelde SOI was op 31 Maart 2010 = -10,93 maar het in die eerste twee weke van April baie vinnig begin verander. Dit was op 12 April reeds +6,04 wat ’n baie sterk styging verteenwoordig. ‘n Styging in SOI verteenwoordig ‘n beweging weg van El Niño.

Die maand van Maart 2010 was volgens die SOI-fase sisteem in Fase 1, (El Niño neigend). Kyk na die meegaande webbladsy deur op “World“ te kliek.

4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande (Implikasies van El Niño)
4.1 Somerreënvalgebied

Met die sterk afbreekfase van El Niño wat nou begin plaasvind, is reën nog moontlik oor die somerreëngebied in Mei maar kan dalk ’n laat lenteseisoen aandui.

4.2 Winterreëngebied
Hoewel die huidige El Niño verswak, bly die reënvalvooruitsigte steeds goed vir die tydperk vanaf veral April tot Junie. Die lente dui ondergemiddelde reenval aan.

5. Tropiese siklone
Die tropiese sikloon-seisoen is vir praktiese doeleindes verby. Die 2009/10-seisoen was een van die seisoene met die laagste sikloonaktiwiteit in die Indiese Oseaan.

6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).

Grondvogtoestande in die droëland gebiede van die Vrystaat is egter baie gunstig vir aanplantings. Die baie lae en onwinsgewende koringprys veroorsaak egter dat boere nie gretig is om koring te plant nie. Met koue fronte wat die Kaap begin tref, behoort voldoende reën voor te kom om redelike goeie toestande te skep vir aanplantings in die Wes- en Suid-Kaap.

Die huidige swak mielieprys en verwagte groot mielie-oes tesame met ’n moontlike verhoging in die koringprys as gevolg van die oorweging van invoertariewe, kan egter die aanplantings vir 2010 ’n hupstoot gee.

6.2 Somergraan
Met die koeler toestande wat begin intree gaan verdere ontwikkeling van somergrane baie stadig wees. Ligte ryp is moontlik teen ongeveer 18 April wat moontlik skade aan die baie laat aanplantings kan veroorsaak maar skade behoort minimaal te wees.

Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes. Die oes teen die einde van Januarie 2010 is beraam op tussen 11,9 en 13,1 miljoen ton met die mees waarskynlike oes ongeveer 12,4 miljoen ton.

Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein

12 April 2010
 

4.11111
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.