Skraps vooruitsigte vir reën

 
Koring. Foto: ANDRIES GOUWS
Koring. Foto: ANDRIES GOUWS

Min of geen verdere reën word verwag tot ten minste 14 September oor die westelike gedeeltes van die Wes-Kaap nie, maar die kanse vir reën is effens beter oor die Suid-Kaap en heelwat beter oor die Oos-Kaap.

Hoofnuus
Min of geen reën word verwag vanaf ongeveer 7 tot 14 September oor die Wes-Kaap nie. Effens beter toestande kan verwag word oor die Suid- en Oos-Kaap. Min of geen reen vir die res van die land nie. Teen 15 September verbeter toestande oor die suid-oostelike dele van die land vir reën.
Temperatuurdalings is weer moontlik rondom 15 tot 20 September met die moontlikheid van ligte ryp.

1. Die afgelope twee weke
Kouer as verwagte nagtemperature het voorgekom rondom 1 tot 5 September met minimum temperature wat onder vriespunt gedaal het oor veral gedeeltes van die Vrystaat, Noordwes, asook die Noord- en Oos-Kaap. Baie droë lug is tans nog oor die land in omloop wat hitte-uitstraling snags verhoog en gevolglike baie koue toestande tot gevolg het. Dit gebeur veral wanneer ’n frontale stelsel oor die land inbeweeg en koue lug agter hierdie stelsel invoer.

Reën het oor gedeeltes van die Wes-Kaap voorgekom maar oor die algemeen was neerslae baie lig. Reën word veral dringend benodig oor die Suid-Kaap en gedeeltes van die Wes-Kaap, noord van Piketberg.

Oor die Somerreëngebied sal reën welkom wees maar dit is nog nie krities nodig nie behalwe oor die sentraal tot Wes-Vrystaat waar koringboere reën benodig in die volgende 2 tot 3 weke. Verder is dit nog te koud vir die weidings om veel baat te vind by reën en sal reën vanaf Oktober baie help vir weidingherstel.

2. Verwagting vir die volgende twee weke (7 tot 20 September 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval

Min reën word nog verwag oor die grootste gedeelte van die Somerreënvalgebied behalwe oor die Oos-Kaap se kusgebiede asook gedeeltes van KZN waar reën moontlik is rondom 9 tot 11 September asook vanaf 15 tot 20 September. Bewolkte toestande met die moontlikheid van ligte reën kan voorkom oor die oostelike gedeeltes van die Vrystaat, Mpumalanga en Gauteng rondom 7 en 8 September, maar dit lyk nie asof dit neerslae gaan wees wat vir die landbou van waarde kan wees nie.

Temperatuur
Dit lyk asof dagtemperature warm gaan wees in die volgende tyd maar nagtemperature gaan steeds laag bly. Ryp bly steeds moontlik oor die sentrale tot suidelike dele van die land maar swaar ryp word nie verwag in die res van die land nie. Dit is veral rondom 15 tot 20 September waar temperature weer kan daal en ryp kan veroorsaak oor die sentrale maar veral suidelike gedeeltes van die land.

2.2 Winterreëngebied
Min of geen verdere reën word verwag tot ten minste 14 September oor die westelike gedeeltes van die Wes-Kaap nie, maar die kanse vir reën is effens beter oor die Suid-Kaap en heelwat beter oor die Oos-Kaap.

3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
Al die Niño-gebiede in die sentrale Stille Oseaan is alreeds ongeveer 1,5 grade C koeler as normaal. Dit kan dus alreeds vanaf Junie geklassifiseer word as ’n matige en tans al byna ’n sterk La Niña. Voorspellings dui nou dat daar ’n ten minste 90% kans is dat die komende seisoen La Niña-neigend sal bly en ongeveer 10% vir neutraal. Die kans vir El Niño is omtrent nul.

Webwerf 1:
Webwerf 2:
Webwerf 3:

3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)

Die 30-dae gemiddelde SOI was op 6 September +22.6 wat sterk La Niña neigend is. Die maand van Augustus 2010 was in Fase 2 (konstant La Niña) volgens die SOI-fase sisteem.

4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
4.1 Somerreëngebied

Met die redelike sterk La Niña-ontwikkeling is die kanse vir reën swak oor die grootste gedeelte van die land vir die tydperk tot ongeveer middel Oktober, maar goeie neerslae is moontlik in die mid- tot laatsomer. Die reënseisoen kan later as normaal begin oor die Somerreëngebied maar behoort vir die seisoen as geheel redelik positief of bogemiddeld te wees.

4.2 Winterreënvalgebied
Die kanse vir reën het baie verswak met die sterk La Niña ontwikkeling, veral oor die westelike gedeeltes.

4.3 Internasionaal
Asië

Die huidige baie droë toestande in Rusland asook die baie swaar reën oor Indië, Pakistan, China en ander lande in Suid-oos Asië kan aan die huidige La Niña verskynsel toegeskryf word. Dit kan nog voortduur.

Suid-Amerika
Vooruitsigte lyk swak vir die Argentynse somergraan-oes met ondergemiddelde reënval wat verwag kan word. Dit kan internasionale somergraanpryse gunstig beïnvloed. In die afgelope week het reën oor die oostelike dele van Argentinië voorgekom maar die res van Augustus was baie droog. Dit kan veral die koring-oes want nou ’n kritiese stadium bereik, erg knou.

Australië
Koringproduksietoestande lyk tans nog baie goed oor die oostelike produksiegebiede maar swakker oor Wes-Australië. Die maand van Augustus was een van die natste maande oor die sentrale tot oostelike gedeeltes van Australië. Dit is gewoonlik ’n baie goeie teken van wat te wagte kan wees in Suid-Afrika in die vroeë tot midsomer.

Amerika
Droër en baie warm toestande het begin intree oor die westelike en suidwestelike gedeeltes. In die laaste week van Augustus het byna geen reën oor die hele Amerika voorgekom nie.

Afrika
Goeie reënvaltoestande word verwag oor suidelike Afrika vanaf Oktober 2010 maar in Oos-Afrika kan ernstige droogtes voorkom.

Europa
Normale toestande vir die periode tot Oktober maar droër toestande in die Europese winter. Dit kan koringproduksie benadeel.

5. Tropiese siklone
Die tropiese sikloonseisoen in die suidelike Indiese Oseaan begin gewoonlik vanaf November. Tans is daar nog geen aktiwiteite. Daar is egter tans baie sterk aktiwiteit in die Noordelike Halfrond met groot hoeveelhede warm warm in Suid-Oos Asië en die noordelike Indiese Oseaan as gevolg van die huidige La Niña-verskynsel wat warm water ooswaarts laat beweeg om te versamel noord van Australië. Dit is veral China wat tans gebuk gaan onder tropiese storms maar ook Indië en aangrensende gebiede ondervind tans swaar reën as gevolg van die La Niña-ontwikkeling en gevolglike warmer as normale oppervlakwater in die gebied.

6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Oor die algemeen lyk toestande nog redelik goed maar die volgende maand tot ses weke sal die mees kritiese tyd wees en reën sal beslis benodig word.

6.2 Somergraan
Die mielie-oes is ook voltooi en bogemiddelde opbrengste het voorgekom. Die Oesskattingskomitee het die mielie-oes met ongeveer 1,7% verlaag.

Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes. Die oes word beraam op 12,9 miljoen ton. Die skatting van die Oesskattingskomitee dui op ’n oes van ongeveer 13,09 miljoen ton.

Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein

6 September 2010

4.18182
 
 

Kommentaar

Onbekende besoeker 

Ons soek meer inligting oor karoo . Ons boere in oos kaap het groot droogte en wil beplan vir toekoms . Jansenville omgewing asb

Onbekende besoeker 

Die web adresse van sommige mense is pateties wys vir jou 90 dae voorspelling hulle laat jou dit download dan kry jy net oorsee weervoorspellings, swak tot uiters swak, waneer sal ons moontlik reen kry in die vrystaat, julle lyk meer akuraat

Onbekende besoeker

Johan ek dink nie julle besef hoe droog dit regtig in dele van die suid-kaap is nie, kan jy vir ons bietjie meer inligting in detail gee oor die verwagte weervoorspelling vir die volgende maand asb in die Suid-kaap.

D Wessels 

Baie goeie artikel. Net een probleem. Verlede seisoen was as 'n El-Nino jaar voorspel. As dit toe soveel gereen het, hoeveel reen gaan ons kry met 'n La-Nina?

Julius SchuldOnbekende besoeker 

Komplimente aan Johan. Julle weervoorspellings en kommentaar is veel beter as nasionale weerkantoor se verslae. Maak net veel meer sin. Dankie

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.