Hoofnuus
Verdere koue en nat toestande kan voorkom oor die suidelike gedeeltes van die land vanaf 28 tot 31 Julie. Dit lyk nie asof dit die sentrale tot noordelike gedeeltes veel gaan beïnvloed nie.
Min of geen reën word verwag oor die binneland en noordelike gedeeltes in ten minste die tydperk tot 10 Augustus.
Daar is ’n moontlikheid van koue toestande wat kan inbeweeg oor die binneland rondom 8 tot 12 Augustus en boere moet veral versigtig wees vir kaalgeskeerde skape en rypgevoelige gewasse.
1. Die afgelope twee weke
Verdere goeie neerslae van reën en sneeu het voorgekom in die middelste deel van Julie oor die Wes-Kaap, maar veral ook oor die Suid- en selfs Oos-Kaap. Min of geen reën het verder oor die land voorgekom, alhoewel heelwat bewolkte toestande geheers het. Baie swaar ryp het ook gedurende hierdie tyd oor die binneland voorgekom en baie lae temperature is so ver noord as Limpopo gemeet. Verdere rypskade het voorgekom aan tamaties en aartappels in die noordelike produksiegebiede. Alhoewel hierdie gebiede tradisioneel nie rypvry is nie, vergelyk die intensiteit van ryp vanjaar met die 20% swaarste rypseisoene in die noorde. Droëland-wintergraanboere se grane is klaar geplant en gevestig maar besproeiingsboere is nog besig met die laaste aanplantings. Die insameling van die mielie-oes is in volle swang maar kwaliteit is oor die algemeen swakker as gemiddeld, met heelwat groter hoeveelhede swakker grade mielies wat gestroop word.
2. Verwagting vir die volgende twee weke (26 Julie tot 9 Augustus 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval
Min of geen reën word oor die grootste gedeelte van die Somerreëngebied verwag vir ten minste die volgende twee weke nie. Die uitsondering is dat reen moontlik is oor die suidelike gedeeltes van die Noord-Kaap maar veral die Oos-Kaap en selfs so ver as KZN vanaf ongeveer 28 tot 31 Julie.
Temperatuur
Temperature behoort oor die algemeen matig tot koud te wees. Dit lyk nie asof die frontale stelsels wat vanaf 28 tot 31 Julie die suidelike gedeeltes van die land gaan beinvloed ’n groot invloed op die res van die land gaan uitoefen nie. Minimum-temperature gaan egter nog laag bly en ryp is steeds moontlik oor veral die suidelike gedeeltes van die land asook die oostelike Hoëveld.
2.2 Winterreëngebied
Redelike goeie reenneerslae van tot 20mm is veral moontlik vanaf 28 tot 31 Julie oor die grootste gedeelte van die Winterreëngebied. ’n Volgende frontale stelsel kan weer reën en koue toestande veroorsaak vanaf ongeveer 8 Augustus.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
Al die Niño-gebiede in die sentrale Stille Oseaan (met die uitsondering van die Niño-4-gebied naaste aan Australië) is alreeds meer as 1 graade C koeler as normaal. Dit kan dus alreeds vanaf Junie geklassifiseer word as ’n matige tot swak La Niña. Voorspellings dui nou dat daar ’n ten minste 80% kans is dat die komende seisoen La Niña-neigend sal bly en ongeveer 20% vir neutraal. Die kans vir El Niño is omtrent nul.
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie”-gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die 30-dae gemiddelde SOI was op 26 Julie +16,98 wat sterk La Niña-neigend is. Die maand van Junie 2010 was alreeds in die Fase 2 (La Niña) volgens die SOI-fase sisteem.
4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
4.1 Somerreëngebied
Met die La Niña-tipe ontwikkeling is die kanse vir reën swak oor veral die sentrale, westelike en noordelike gedeeltes van die land vir die tydperk tot ongeveer middel Oktober, maar goeie reënval is moontlik oor die mid- tot laatsomer. Redelike goeie reën kan egter in die volgende maande steeds voorkom oor die oostelike kusgebiede en aangrensende binneland. Verdere sneeu is steeds moontlik in veral die eerste deel van Augustus. Die reënseisoen kan later as normaal begin oor die somerreëngebied maar behoort vir die seisoen as geheel redelik positief te wees.
4.2 Winterreëngebied
Die kanse vir reën lyk nog redelik positief vir die res van Julie en Augustus maar heelwat swakker vanaf die laaste deel van Augustus.
5. Tropiese siklone
Die tropiese sikloonseisoen is verby. Die 2009/’10-seisoen was een van die seisoene met die laagste sikloonaktiwiteit in die Indiese Oseaan.
Tans is groot gedeeltes van die Indiese Oseaan se oppervlakwater warmer as normaal, wat dalk ’n aanduiding van groter sikloon-aktiwiteit kan wees in die sikloonseisoen vanaf November. Dit is egter nog te vroeg om akkurate aanduidings te kry.
6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Baie minder koring is aangeplant in die droëlandproduksiegebied van die Vrystaat. Besproeiingsoppervlaktes in die Noord-Kaap, Noordwes en Limpopo gaan egter redelik normaal aangeplant word as gevolg van ’n gebrek aan ’n alternatiewe wintergewas. Effens minder koring is ook in die Wes-Kaap aangeplant, maar die afwyking is nie so groot soos in die Vrystaat nie. Swak koringpryse is die hoofrede vir die afname.
Die Oesskattingskomitee se vooruitskatting van aanplantings vir die huidige seisoen dui dat ongeveer 570 000ha koring geplant is wat meer as 72 000ha of 11% minder is as die vorige seisoen.
6.2 Somergraan
Probleme word ondervind met veral mielies, waar diplodia-kopvrot redelike ernstige oesverliese tot gevolg het. Dit is ’n gevolg van die nat toestande gedurende die afgelope seisoen wat gunstige toestande geskep het vir siektes en peste.
Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes.
Die oes teen die einde van April 2010 is beraam op tussen 12,7 en 12,9 miljoen ton met die mees waarskynlike oes ongeveer 12,9 miljoen ton. Die skatting van die Oesskattingskomitee dui op ’n oes van ongeveer 13,4 miljoen ton.
Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein
26 Julie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)