Swaar reën vir Ooskus, binneland

 
Wolke. Foto: THEUNS BOTHA
Wolke. Foto: THEUNS BOTHA

Swaar reën kan in die volgende twee weke oor die Ooskus- en die aangrensende binneland voorkom, maar ’n intense midsomerdroogte kan in die somer graangebiede verwag word.

Waarskuwings:
Swaar reën is moontlik in die volgende twee weke oor die Ooskus- en die aangrensende binneland.

1. Die afgelope twee weke
Wydverspreide reën het die afgelope week voorgekom. Goeie neerslae het veral oor die Noord-Kaap, Noordwes Provinsie en selfs Mpumalanga, die Vrystaat en die Ooz-Kaap en KwaZulu/Natal voorgekom. Plekke soos Askham in die Noord-Kaap het tot 40mm gehad, Graaff-Reinet in die Oos-Kaap 20mm, Bethlehem 30mm, Delareyville 40mm en Bloemfontein 12mm. Die Suid-Vrystaat en aangrensende gedeeltes van die Noord-Kaap en Oos-Kaap het min reën gehad. Dit wil dus lyk asof die grootste deel van die somerreëngebied ten minste 10mm of meer gehad het. Die reën is veral baie goed vir die koring-oes in die Vrystaat waar droogteskades in veral die sentrale tot westelike gedeeltes begin voorkom het. Weidingstoestande sal ook baie baat nadat baie min of geen groei tot op hede plaasgevind het nie.

Haelskade het voorgekom in die gebied wes van Upington, in die Vaalharts besproeiingsgebied, Klerksdorp asook enkele ander kolle.

2. Verwagting vir die volgende twee weke (6 tot 20 Oktober 2009)
2.1 Somerreëngebied
Reënval

Dit lyk asof enkele tot verspreide buie moontlik is rondom 9 tot 12 Oktober oor die Vrystaat, Noordwes, KZN, die Oos-Kaap, Mpumalanga, Limpopo asook Guateng. Min of geen reën word verwag oor die Noord-Kaap, die westelike dele van die Noordwes Provinsie en noordelike gedeeltes van Limpopo nie.

Toestande lyk ook redelik gunstig vir reen vanaf ongeveer 15 Oktober oor die oostelike helfte van die land met redelike swaar neerslae wat moontlik is oor KZN asook aangrensende gedeeltes van die Oos-Kaap, Vrystaat en Mpumalanga.

Temperatuur
Temperature kan weer skerp daal rondom 10 tot 12 Oktober oor veral die suidelike helfte van die land maar ryp word nie verwag nie. Dit is veral dagtemperature wat tot onder 20 grade C en selfs 15 grade C kan daal.

2.2 Winterreëngebied
Koue fronte gaan nog in die volgende week die Kaap tref, maar dit lyk nie asof dit baie reën gaan veroorsaak nie. Enkele buie is moontlik rondom 7 en 8 Oktober asook 11 Oktober en dan weer rondom 14 en 15 Oktober.

3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
Die Niño3.4-gebied se temperatuur het weer sywaarts beweeg en selfs effens afgekoel vanaf die vorige week. Die ontwikkeling van die El Niño is stadiger as was verwag is vir hierdie tyd van die jaar. Kyk op meegaande webbladsy.
Die meeste ander Niño-gebiede se temperatuur-afwykings het die afgelope week of twee ook weer sywaarts beweeg of selfs effens koeler geword. Kyk hier.

Die intensiteit van die voorspelde El Niño is weekliks byna swakker. Die maksimum uitwyking word tans beraam net bokant 1.5 grade C warmer as normaal wat as ’n swak tot matige El Niño beskryf kan word. Alle voorspellings dui egter steeds op ‘n El Niño-ontwikkeling, alhoewel swakker. Die SA Weerdiens se voorspelling dui nou op ‘n sterker ontwikkeling in die tweede helfte van die somer.  Kyk hier.

3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)

Die 30 dae gemiddelde SOI is weer effens positief (weg van El Niño) en op 5 Oktober was die 30dae lopende gemiddelde SOI +2.76. Klik hier.

Die maand van September was amptelik volgens die SOI fase sisteem in Fase 4 of vinnig stygend (weg van El Niño) wat in teenstelling is met die verwagting. Kyk na meegaande webbladsy deur op “World“ te kliek.

4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
4.1 Somerreëngebied

Die kanse vir reën bly redelik goed vir die volgende maand tot ses weke oor die sentrale tot oostelike gedeeltes van die somerreëngebied. Min verdere reën word verwag oor die westelike gedeeltes.

Die midsomer lyk steeds ondergemiddeld oor die sentrale tot westelike dele (Noord-Kaap, die Noordwes Provinsie, die Vrystaat, die westelike dele van die Oos-Kaap en Limpopo).

4.2 Winterreëngebied
Op die kort termyn (volgende twee weke) is daar ’n skraal kans vir goeie reën maar noemenswaardige reën is nog moontlik in veral die eerste deel van November oor die Suid-Kaap.

5. Waarskuwings
Swaar neerslae is moontlik in die volgende twee weke oor die oostelike kusgebiede en aangrensende binneland.

6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Met die goeie reen oor die Vrystaat in die afgelope week kan dit help om bogemiddelde opbrengste in die Oos-Vrystaat te verseker maar droogteskade het reeds voorgekom in die sentraal tot Wes-Vrystaat en minder as 20mm het ook voorgekom in hierdie gebiede in die afgelope week.

Toestande lyk steeds baie goed vir baie goeie opbrengste alhoewel die gebiede nader aan George swak oeste verwag as gevolg van droogte.

6.2 Somergraan
Aanvangstoestande baie gunstig met bogemiddelde hoeveelheid grondvog. Reën op strategiese tye kan steeds ’n baie goeie mielie-oes verseker hoewel ’n intense midsomerdroogte verwag kan word.

Die oostelike produksiegebiede kan ook baie goeie oeste verwag met die tradisonele swakker uitwerking van El Niño op reënval.

* Johan van den Berg is ’n weerkundige in diens van Santam Landbou, Bloemfontein.

5 Oktober 2009
 

5
 
 

Kommentaar

cj labuschagne 

goed

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.