Vooruitsigte vir lentereën

 
Son agter mielies. Foto: CHARLES SMITH
Son agter mielies. Foto: CHARLES SMITH

Lentereën kan dalk later as normaal in dele van die somerreëngebiede val, voorspel Suid-Afrika se voorste landbouweerkundige. In die noorde en noordooste van die land kan selfs minder lentereën val.

Met die trae verandering van die SOI om see temperature te volg, kan die aanvang van lentereën dalk eerder in die September/Oktober-tydperk wees as die Augustus/September-tydperk. Die noordelike en noordoostelike dele van die land wat Mpumalanga, KZN en Limpopo insluit, asook verre westelike binneland, kan dalk ondergemiddelde lentereëns verwag.  
 
1. Die afgelope twee weke
Swaar reen met oorstromings het oor veral die Suidwes-Kaap voorgekom. Daarmee saam het redelike swaar sneeu oor die hoogliggende gedeeltes van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap voorgekom. Die swaarste ryp tot op hede het ook oor groot gebiede van binneland voorgekom.
 
2. Verwagting vir die volgende twee weke (23 Julie tot 8 Augustus)
2.1 Somerreëngebied
Min reen word verwag oor die sentrale tot westelike binneland maar dit lyk asof veral die suid- en ooskusgebiede en aangrensende binneland ‘n redelike goeie kans het om ‘n 20 mm of selfs meer te kry in die volgende twee weke. Dit lyk tog asof aktiwiteite besig is om vanaf die suidwestelike dele te begin skuif na die suidoostelike dele van die land, wat ‘n aanduiding kan wees van van die begin van die somerreënseisoen.  
 
Baie koue toestande met ryp gaan steeds voortduur. Daar is nog ‘n reeks koue fronte wat die land tref en veral nagtemperature gaan steeds baie laag bly. 
 
2.2 Winterreëngebied      
Min reën word verwag oor die Suidwes-Kaap en dit kan koringproduksie in veral die Swartland begin knou. Die goeie reën van die afgelope weke sal egter sorg dat daar nog nie groot probleme behoort te ontstaan nie.
 
Die toestande lyk egter beter vir die Suid-Kaap.  
 
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) - Stille Oseaan
Die belangrike Niño3.4-gebied is tans ongeveer 0,9grade C warmer as normaal wat geklassifiseer kan word as ‘n swak tot selfs matige El Niño. Klik hier.
 
Voorspellings dui steeds op ‘n maksimum verwarming van tussen 2grade C en 2,5grade C warmer as normaal in die komende somer, wat as ‘n sterk El Niño beskou kan word. Hierdie voorspelling bly redelik konstant die afgelope twee maande wat aandui dat daar ‘n redelike mate van sekerheid is. Klik hier.
 
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).) 
 
Die 30 dae gemiddelde SOI het die afgelope twee weke terugbeweeg na redelik positief (+10.15) wat eintlik nie ‘n aanduiding is van die ware stand van die see-oppervlaktemperature nie. Dit was op 1 Julie -2.5 op ‘n skaal van -30 tot +30 (-30 is baie sterk El Niño-neigend en +30 baie sterk La Niña-neigend). Hierdie teenstelling is waarskynlik net van korte duur met lokale stelsels wat die tendens op die korttermyn versteur. Klik hier.
 
Die maand van Junie was amptelik volgens die SOI fase sisteem in Fase 5 of neutraal. (Klik hier.)
 
Vooruitskouings met Fase 5 as basis kan misleidend wees omdat dit tans meer El Niño neigend is as wat die SOI se Fase 5 aandui.
  
4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
4.1 Somerreëngebied
Met die huidige SOI wat rondom neutraal neig en die werklike see-oppervlaktemperature wat na El Niño neig, is die kanse vir lentereën oor die sentrale tot selfs westelike binneland steeds bogemiddeld. Met die trae verandering van die SOI om see temperature te volg, kan die aanvang van lentereën dalk eerder in die September/Oktober-tydperk wees as die Augustus/September-tydperk. Die noordelike en noordoostelike dele van die land wat Mpumalanga, KZN en Limpopo insluit, asook verre westelike binneland, kan dalk ondergemiddelde lentereëns verwag.  
 
4.2 Winterreëngebied
Die kanse vir reën verswak of lyk effens ondergemiddeld in die Augustus/September-tydperk oor die Swartlandgebied en Weskusgedeeltes maar is steeds redelik goed oor die Suid-Kaap. Min reën word verwag in Oktober-tydperk oor die Swartland maar redelike goeie reën is moontlik oor die Suid-Kaap wat dalk probleme kan skep tydens strooptyd. 
 
5. Waarskuwings en aanbevelings:
5.1Kleinveeboere
Met die bogemiddelde kans vir reën in die lente kan dit gevaarlike toestande skep vir kaalgeskeerde vee. Die tydperk rondom die tweede deel van Julie asook eerste deel van Augustus kan dalk ‘n laer risiko inhou vir die sentrale tot westelike binneland. Daar is egter aanduidings van reen en koue toestande in vanaf 25 Julie oor die Oos-Kaap asook gedeeltes van KZN wat gevaarlike toestande kan skep.  
 
5.2 Somergraanboere
* Grondboon- en ander somergraanboere behoort min probleme te ondervind met verdere nat toestande wat die oesproses of kwaliteit behoort te benadeel vir ten minste die volgende twee weke tot na die eerste week in Augustus.
* Plantdatums vir somergrane gaan vanjaar baie kritiek wees met die verwagte droë toestande rondom die midsomer. Gewoonlik is die normale tot ietwat later as normale plantdatum die beste maar dit kan gebeur dat die grondvogtoestande op die “beste” datum nie gunstig is nie. Verdere inligting sal later verskaf word ook na aanleiding van wanneer die reënseisoen begin.
 
Deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein.
 
22 Julie 2009
3.333335
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.