|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Hoofnuus
Warmer toestande word verwag en dit lyk nie asof daar ernstige koue op pad is vir ten minste tot 26 September nie.
Die eerste werklike somerreënval kan vanaf 24 September voorkom oor KwaZulu-Natal, die suide van Mpumalanga, die noorde en ooste van die Vrystaat, Gauteng, die noorde van Noordwes asook in die Oos-Kaap.
1. Die afgelope twee weke tot 12 September 2011
Sterk winde het steeds die afgelope twee weke oor groot dele van die land voorgekom. Nagtemperature het begin styg, maar dit bly koel tot koud. Dagtemperature is warm tot baie warm. Reën in die afgelope week was beperk tot die kusgebiede van die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.
2. Verwagting vir die volgende twee weke tot 26 September 2011
2.1 Somerreënvalgebied
Reënval
Baie min reën word verwag tot ten minste 24 September oor die grootste deel van die somerreëngebied. Ligte reën kan egter vanaf 24 September begin voorkom oor KwaZulu-Natal, die suidelike en oostelike dele van Mpumalanga, die Oos- en Noord-Vrystaat, Gauteng, asook dele van Noordwes en die noorde van die Oos-Kaap.
Dit wil voorkom asof tropiese vog verantwoordelik is vir die eerste werklike somerstelsel vanaf 24 September. Die ontwikkeling moet noukeurig gevolg word om te sien of die kanse verswak of verbeter.
Temperatuur
Dagtemperature gaan matig tot warm wees, maar nagtemperature bly steeds laag. Rondom 14 tot 17 September kan minimum temperature weer effens daal oor die sentrale tot suidelike dele van die land. Dit lyk nie asof daar vir ten minste die volgende twee weke ’n ernstige risiko is vir ryp nie.
2.2 Winterreëngebied
Vanaf 13 tot 15 September kan ligte neerslae oor die Wes- en Suid-Kaap voorkom, maar min of geen reën word tot ten minste 26 September verwag nie.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
In die week tot 12 September het see-oppervlaktemperature van al die Niño-gebiede die La Niña-neiging of koelerwordende oppervlaktemperature voortgesit. Die belangrike Niño-3.4-gebied is tans reeds ongeveer 0,6 oC koeler as normaal, wat reeds ’n swak La Niña-aandui. Die Niño-1-, -2- en -3-gebied is ook meer as 0,5 oC koeler as normaal.
Die meeste voorspellings dui op ’n verdere La Niña-versterking om rondom die midsomer van die Suidelike Halfrond ’n hoogtepunt te bereik. Dit lyk asof die intensiteit van die verwagte La Niña-verskynsel vir 2011/’12 swakker gaan wees as die baie sterk ontwikkeling van 2010/’11.
Voorspellings van see-oppervlaktemperature kan op dié webwerf gesien word:
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie-indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdrukverskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ’n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ’n aanduiding gee van die stand van seetemperature. Die “ossillasie”-gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlaktewinde uit die suidoostelike Stille Oseaan, wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ’n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI-waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die gemiddelde SOI was teen einde Augustus 2011 op +2,6. Op 12 September was dit +4,3. Lees hier meer.
4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
Die SOI was in Augustus reeds in ’n La Niña-fase (Fase 2). Tradisioneel is Augustus en September reeds ’n sterk aanduiding van see-temperatuurontwikkeling vir die res van die seisoen. In die meeste jare waarin Augustus reeds na La Niña geneig het, het dit aangehou tot in herfs (Maart/April). Lees hier meer.
4.1 Somerreëngebied
Met die versterking van La Niña-neigings kan dit die kans op lentereën verswak en die begin van die reëntyd meer na die somer aanskuif. Dit lyk egter asof die eerste somerreën oor die sentrale tot oostelike dele van die land vanaf 24 September moontlik is.
4.2 Winterreëngebied
Die reënval oor die Wes-Kaap was tot op hede beter as wat verwag is. Die volgende maand (September) gaan egter baie kritiek wees vir koringproduksie en dit lyk asof minder reën gaan voorkom.
5. Tropiese siklone
Die sikloonseisoen in die Suidelike Halfrond behoort weer vanaf November 2011 aktief te wees. Tans is see-oppervlaktemperature te laag as gevolg van wintertoestande om sikloon-ontwikkeling te stimuleer, veral in die suidelike Indiese Oseaan.
6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Toestande vir droëland-wintergraanproduksie in die Vrystaat lyk baie belowend met die groot hoeveelhede grondvog beskikbaar. Die sterk winde die afgelope tyd het egter windskade begin veroorsaak.
Produksietoestande is tans nog baie goed in die Wes- en Suid-Kaap met meer as die verwagte reën tot op hede. Verwagte droër toestande in September kan egter probleme gee in die belangrike reproduktiewe stadiums, maar die kans op ’n misoes is baie klein.
6.2 Somergraan
Die Oesskattingskomitee het die 2010/’11-mielie-oes met ongeveer 1,6% afwaarts aangepas tot 10,679 miljoen ton. Die verwagting is dat die oes dalk steeds te hoog geskat word.
7. Internasionaal
7.1 VSA
Dit lyk asof produksietoestande steeds verswak en volgens inligting is die oes nou gemiddeld die swakste in die laaste ses jaar met slegs 54% van die mielies wat as goed tot baie goed geklassifiseer word teenoor die meer as 70% verlede seisoen.
Die risiko van koue en rypskade bly groot omrede die oes later as normaal aangeplant is. Weidingstoestande is swak en daar sal waarskynlik meer grane vir voer gebruik word. Die toestand van ander gewasse, soos sorghum en sojabone, is ook swak.
Die webadres gee weeklikse inligting oor die vordering van die Amerikaanse graangewasse.
7.2 Australië
Toestande lyk baie goed vir koringproduksie behalwe in kleiner kolle in Wes-Australië waar droogteskade voorkom. Hoewel Augustus en die eerste deel van September minder as die verwagte reënval gehad het, lyk die toestande steeds goed.
Daar moet egter binne die volgende week of twee reën voorkom om skade te voorkom. Dit lyk asof die laaste week van September redelike goeie neerslae oor veral Suid-Australië tot gevolg kan hê.
Kyk gerus na die voorspelling vir die volgende twee weke:
Gebruik die webadres om die afgelope weke en maande se reënval in Amerika te sien.
14 September 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)