Deur JOHAN VAN DEN BERG
18 Julie 2011

2759 keer gelees | 0 kommentaar

Temperature herstel in die binneland maar dit bly steeds koud terwyl die kanse vir lentereën in September in die sentrale dele van die land goed lyk.


Hoofnuus
Temperature herstel, maar ryp word steeds verwag oor die sentrale tot suidelike binneland asook die Hoëveld. Die heersende windrigtings gaan tot ongeveer 20 Julie uit die noorde wees oor die somerreëngebied en oos tot suidoos oor die Wes-Kaap.

Die kanse is goed dat lentereën in September oor die sentrale tot noordoostelike dele van die land kan begin voorkom.
 
1. Die afgelope twee weke tot 13 Julie 2011
Baie koue toestande het voortgeduur in die afgelope paar weke met minimum temperature wat konstant onder die vriespunt gebly het oor groot dele van die land.

Abnormaal koue toestande het ook oor die noordelike dele van die land voorgekom en rypskade veroorsaak. Swaar reën het in die laaste week van Junie en eerste paar dae van Julie in die Oos-Kaapse kusgebiede voorgekom.

Die koue toestande is egter bevordelik vir die versameling van koue-eenhede vir vrugte- en druiwe asook wintergrane. Die gehalte van die koue (konstant koud oor ’n redelike lang tydperk) is veral goed om seker te maak dat plante in ’n rusfase gaan om die nodige hormoonveranderings teweeg te bring. Genoegsame koue-eenhede verseker ’n hoër produksiepotensiaal vir die komende seisoen by veral druiwe en neutbome.

2. Verwagting vir die volgende twee weke (13 tot 25 Julie 2011)
2.1 Somerreëngebied
Reënval

Baie min of geen reën word verwag oor die grootste deel van die somerreëngebied vir ten minste die volgende twee weke. Die uitsondering is moontlike ligte reën oor die ooskusgebiede van die land.

Dit lyk asof die heersende winde vir ten minste die tydperk tot 20 Julie uit die noorde gaan kom wat ’n aanduiding kan wees van ’n verandering in die weerpatroon. Die windpatroon in Julie is tradisioneel meer wes of windstil.

Temperatuur
Minimum temperature gaan laag bly met redelike swaar ryp oor veral die sentrale tot suidelike dele van die land, maar dit wil tog voorkom asof temperature herstel in die noordelike en westelike dele van die land.

2.2 Winterreëngebied
Slegs ligte reën is moontlik rondom 18 Julie oor die Suidwes-Kaap, maar andersins word baie min of geen reën verwag tot ongeveer 22 Julie.

Toestande verbeter weer vir reën oor die Wes- en Suid-Kaap asook Oos-Kaapse kusgebiede in die laaste week van Julie. Die windrigting tot ongeveer 20 Julie gaan uit die ooste tot suidooste wees.

3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan

See-temperature in die Niño-gebiede is met die uitsondering van die Niño-4-gebied (naaste aan Australië) normaal of selfs al effens warmer as normaal. Die Niño-4-gebied is nog ongeveer 0.1oC koeler as normaal.

Grafiek 1

Grafiek 2

Voorspellings dui dat die neutrale of normale see-oppervlaktemperature vir die 2011/’12-seisoen kan voortduur. Daar bly egter steeds ’n kans dat ’n tydelike terugkeer op kort termyn na swak La Niña-toestande kan plaasvind rondom midsomer.

Die webwerf gee ’n kans van 70% kans vir neutrale toestande en ’n ongeveer gelyke kans van 15% vir die ontwikkeling van of ’n El Niño of ’n La Niña. Soortgelyke jare in die verlede (waar see-oppervlaktemperature ongeveer dieselfde patroon as die afgelope seisoen gevolg het) het in die meeste gevalle egter ’n effense terugkeer na La Niña gemaak rondom Oktober tot Januarie. Die tweede jaar daarna het die meeste jare geneig na El Niño.

Voorspellings van see-oppervlaktemperature kan gesien word op dié webwerf:

3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdrukverskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ’n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ’n aanduiding gee van die stand van seetemperature. Die “ossillasie”-gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlaktewinde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ’n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
 
Die gemiddelde SOI teen einde Junie 2011 was +0,91. Teen 13 Julie was die 30-dae gemiddelde SOI steeds effens positief op +1,1. Teen einde April 2011 was dit nog sterk positief op 23,9. Kliek hier vir meer.
 
4. Reënvooruitsigte vir die komende maande

Met die SOI wat nou rondom nul is, is dit in die sogenaamde neutrale fase (Fase 5). Die komende maande gaan ook waarskynlik in die neutrale fase wees (Fase 5). Kliek hier vir meer.

4.1 Somerreëngebied
Daar is ’n bogemiddelde kans dat die sentrale tot noordoostelike dele van die land redelike vroeë lentereëns kan kry (waarskynlik rondom middel September).

4.2 Winterreëngebied
Hoewel beter as verwagte reën in die afgelope maand of twee oor die Wes-Kaap voorgekom het, lyk dit asof die winterstoestande besig is om uit te woed en vinnig kan omswaai na somertoestande in die lente. Dit kan die kanse vir reën vir die winterreëngebied vir veral Augustus en September knou.
 
5. Tropiese siklone
Die sikloonseisoen in die Suidelike Halfrond behoort weer vanaf November 2011 aktief te wees. Tans is see-oppervlaktemperature te laag as gevolg van wintertoestande om sikloon-ontwikkeling te stimuleer.

6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).

Toestande vir wintergraanproduksie op droëland in die Vrystaat lyk belowend met die groot hoeveelhede grondvog beskikbaar. Die besonder nat toestande het in sekere gebiede veroorsaak dat aanplantings nie gedoen kon word nie.

Produksietoestande is nog baie goed in die Wes- en Suid-Kaap. Verwagte droër toestande in Augustus/September kan egter probleme skep in die belangrike reproduktiewe stadiums.

6.2 Somergraan
Die sonneblom- en sojaboonoes is klaar ingesamel en boere is besig om die mielie-oes te stroop. In sommige gevalle is landerye nog te nat om te stroop, maar veral in die oostelike produksiegebiede waar minder reën voorgekom het, is boere reeds ver gestroop.

In die algemeen word goeie opbrengste behaal, maar dit is in die meeste gevalle swakker as wat aanvanklik geskat is. Min hitte-eenhede en ’n oormaat reën was die grootste oorsaak.

7. Internasionaal
7.1 VSA

Ongunstige klimaatstoestande het veroorsaak dat die plantproses van grane heelwat vertraag is en die mielie-oppervlakte aangeplant is ook minder (2%) as die aanvanklike oppervlakte wat beoog is. Aanplantings is ook later as normaal gedoen en dit kan die opbrengspotensiaal nadelig beïnvloed.

Wêreldvoorraadvlakke is op baie lae vlakke en al hierdie faktore saam kan groot volatiliteit in die komende maande veroorsaak. Tans word ongeveer 70% van die aangeplante mielie-oes beskryf as baie goed. Dit is die naasswakste persentasie van hierdie kategorie in die afgelope vyf jaar vir hierdie tyd van die jaar.

Die kanse bly steeds goed dat droogteskade kan voorkom in Julie/Augustus nadat ‘n oormaat reën ’n kenmerk was aan die begin van die seisoen (Maart tot Mei).

Die webwerf gee weeklikse inligting van vordering van die Amerikaanse graangewasse:

Kyk gerus na die voorspelling vir die volgende twee weke:

Gebruik hierdie webwerf om die afgelope weke en maande se reënval in die VSA te kan sien.

Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein.

18 Julie 2011


Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 08/05/13 15/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2790c 2794c down 0.1
Speenkalf (lewend) 1594c 1583c down -0.7
Skaapvleis A2/A3 4328c 4374c down 1.1
Varkvleis (gem. prys) 1765c 1767c down 0.1
Braaikuikens 1478c 1483c down 0.3

Aandele

Pricecheck Flights