Wes-Kaap 'rampgebied', maar geen hulp

 

Van werklike droogtehulp in die Wes-Kaap blyk daar geen sprake te wees nie. Volgens mnr. Alie van Jaarsveld, 'n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van landbou, het die Regering nog nie laat weet hoeveel van die R130 miljoen bykomende droogtehulp aan die Wes-Kaap toegeken gaan word nie.

Die R26 miljoen wat in Januarie toegeken is ná die Wes-Kaapse kabinet se aansoek om hierdie provinsie tot 'n rampgebied te verklaar, is ook nog nie uitbetaal nie.

"Dit gee maar net vir ons 'n duidelike sein dat die Wes-Kaapse boere nie belangrik genoeg is nie," het mnr. Gerrit van Rensburg, die DA se woordvoerder oor landbou, gesê. Hy sê ná al die ophef wat gemaak is met die verklaring van die Wes-Kaap as rampgebied het daar niks van gekom nie.

"Hierdie is nie 'n ramp wat vinnig verbygaan nie. Inteendeel, dit word toenemend erger."

Hy is bekommerd, want die eerste stap tot verligting is nog nie geneem nie. Die gesprek met die Minister van Landbou rondom verdere droogtehulp is al in Desember gehou. Hy sê dit help nie die geld word in Mei beskikbaar gestel nie, want die boere het dit juis nóú nodig.

Hy meen daadwerklike optrede is nodig aangesien "al die damme leeg is en selfs die Bergrivier nie meer loop nie".

Ondanks gunstige voorspellings vir reën in dele van die Wes-Kaap het daar volgens boere van Piketberg slegs sowat 2 mm tot 5 mm geval. Op Moorreesburg was glo net 2,8 mm se reën gemeet.

"Vir die boere lyk die prentjie dieselfde," sê mnr. Leopold Human, hoofbestuurder van krediet by Boland Agri. Hy meen die boere sal vanjaar saai, maar dat hulle skepties is oor hóéveel hulle gaan saai.

"Een ding is seker, hulle gaan heelwat minder plant." Hy sê die risiko en hoë koste van produksiemiddele is net te groot teen 'n koringprys van R1 000 per ton. "Die kans is skraal dat enige boer teen hierdie prys sy skuld sal kan delg selfs as hy 'n gewone oes sou afhaal," het hy gesê. Hy sê boere word tot hul uiterste beproef en dat meeste produsente op hul limiet by die banke is.

18 Maart 2005

0