|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Die siening dat talle plaaswerkers hul werk verloor as beesplase in wildondernemings omskep word, is van alle waarheid ontbloot. Wildboerderye neem tot 20 keer meer werkers in diens as beesplase.
Mnr. Borrie Erasmus, voorsitter van Wildbedryf SA (WRSA), sê die gemiddelde wildplaas skep meer werk omdat dit verskillende vaardighede vereis wat met bykomende opleiding gepaard gaan.
Meer werkers is nodig omdat die instandhouding van heinings en infrastruktuur groter aandag vereis, veld- en toergidse nodig is en personeel vir die gastehuise nodig is. Dit lei tot beter lone en 'n opheffing van die gemeenskap.
"Die sowat 9 000 wildplase beslaan meer as 18 miljoen hektaar wat werksekerheid in afgeleë gebiede skep en beleggings van miljarde rande verteenwoordig."
Volgens hom word die indruk gewek dat die verskillende raadgewers van die Minister van Omgewingsake en Toerisme, mnr. Marthinus van Schalkwyk, bevooroordeeld is teenoor die bedryf, "terwyl die wildbedryf binne drie tot vyf jaar die voorloper kan word op die gebied van swart bemagtiging en grondhervorming".
"Die voorgestelde moratorium op die ontwikkeling van nuwe wildplase is 'n terugwaartse stap wat groei sal benadeel en dit kan vir die hele land voordelig wees as die bedryf by die beplanning van die minister en sy departement betrek word," het hy gesê.
2 Junie 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24