Soos voorspel, het die rand kwaai verswak teenoor die dollar, euro en pond in reaksie op die wêreldwye finansiële krisis, maar vandeesweek het die rand-dollar wisselkoers letterlik begin bokspring in wat 'n ontleder in die graanmark beskryf as "gekke volatiliteit".
"Daar is nie reëls nie. Die wisselkoers is erg onbestendig en het 'n enorme uitwerking op die invoerpariteitsom," sê mnr. Kevin Robertson, verkrygingsbestuurder van Bester Voer- en Graanbeurs op Stellenbosch.
Die rand-dollar wisselkoers het sedert Dinsdag (14 Oktober) van rondom R8,80 per dollar begin styg tot skuins onder R11/$ vroeg vanoggend. Sedertdien het dit gedaal en rondom R10 per dollar op en af beweeg.
"Ons maak letterlik elke vyf minute nuwe berekeninge net om te sien waar ons staan in verhouding tot invoerpariteit. Normaalweg is die wisselkoersbewegings relatief konstant, maar wat ons nou sien, is gek. Ons het intra-dag bewegings van amper 'n rand gesien."
Robertson sê die netto prys vir B1-koring was teen oopmaaktyd - R2 550/t en na 11:00 het dit op - R2 485/t gestaan. Die verswakking van die rand teenoor die dollar sal ook 'n uitwerking op die mielieprys hê. Volgens mnr. Gert van Wyk, graan- en valutahandelaar by Vrystaat Mielies op Potchefstroom, dui 'n hoë finansiële volatiliteitsindeks ($VIX) wat tans op 72% staan, daarop dat 'n rand-dollar wisselkoers in 'n band van R9 tot R10,50 vir die korttermyn kan handel.
"Dit sal ondersteuning bied vir 'n mielieprys bo die vlakke van R1 800/ton. Sodra daar 'n bietjie kalmte in die finansiële markte kom - en die $VIX dus afneem - sal ons 'n sterker rand van dalk onder R9/$ sien, en kan ons verwag dat die mielieprys sal daal vanweë 'n verlaging in die vraag na internasionale graan."
Aan die vooraand van planttyd in die somerreëngebiede, meen Van Wyk dat dat daar mettertyd meer gefokus sal word op onderliggende faktore soos die weer en die volgende oes as bloot op die wisselkoers en internasionale graanpryse.
Die volgende oes, en ook vraag en aanbod, is onseker.
Van Wyk sê dis nog te vroeg om voorspellings te waag, maar die plantseisoen het droog weggespring. As die reën wegbly, kan boere minder mielies plant, en dalk na sonneblom, waarvan die eindvoorraad redelik groot is, oorslaan. Dit kan sonneblompryse onder druk plaas en die mielieprys verder ondersteun.
Kyk hier na die rand-dollar wisselkoers se bewegings op 14 en 15 Oktober 2008. Dit is in PDF-formaat.
17 Oktober 2008