Wol 'se tyd sal kom'

 

Australiese wol "se tyd sal kom", sê mnr. Laurence Madiano, die internasionale wolkoper.

Dié kenner sê al vir 'n geruime tyd dat die wolbedryf in 'n swak toestand is en dat kwekers "hulle tande moet kners en voortploeg" deur wat hy verwag 'n moeilike tyd vir wol gaan wees. Hy sê ook dat verskille opsy gesit moet word vir die voordeel van die kwaliteit van die produk, waarop kwekers en verwerkers staatmaak.

Hy sê die vraag na wol het sedert April, ten spyte van 'n 4% afname in Australiese wolvoorraad vir die nuwe seisoen, afgeneem. Hy meen die bemarking van wol is krities en dat projekte geen waarde sal hê as die internasionale vraag na wol aanhou "duik" nie.

"Op een of ander stadium sal kleinhandelaars voorraad moet aankoop, maar ek vrees dat dit nie op dieselfde vlak as onlangse seisoene sal wees nie. Hopelik sal die Australiese geldeenheid se waarde sak, wat die spoed van die afname van pryse vir Australiese kwekers sal matig."

Madiano is wel positief oor die toekoms vir die wolbedryf in Australië indien die regte strategie rakende die bemarking van die storie van wol, die mense wat daarin betrokke is, die diere, geskiedenis en voordele bo ander vesels toegepas word.

Hy het nie bevestig of hy homself sal beskikbaar maak vir verkiesing as 'n lid van Australian Wool Innovation se raad nie en wou nie oor sy agri-politiese ambisies praat nie. Sommige belanghebbendes meen hy sal 'n aanwins vir die organisasie wees, terwyl ander dit as 'n bedreiging beskou.

5 September 2008

0