Die wolbedryf gaan verwater word tot die vlak van 'n tuisnywerheid as wol nie winsgewender geproduseer kan word nie, sê die voorsitter van die NWKV, mnr. Petrus de Wet.
De Wet het op die Vrystaatse kongres van die NWKV in Bloemfontein gesê die vraag na die Suid-Afrikaanse skeersel moet internasionaal aangewakker word. Die NWKV moet hom ook beywer om die plaaslike vraag te verhoog in só 'n mate dat die land se wolverbruik verdubbel. Dié stap sal egter ongunstige geldelike implikasies inhou vir die wolkweker en ander belanghebbendes in die wolpyplyn.
Mnr. Smiley de Beer van die NWKV op Caledon stem saam met De Wet se bemarkingsiening. Hy sê Suid-Afrika se voorste vervaardigers het die nodige kontakte om dié land se produkte oorsee te bemark.
De Beer sê as die plaaslike tekstielbedryf 'n gehalte-wolproduk kan lewer wat aan die waardestelsels en -vereistes van die buiteland voldoen, is daar onbeperkte markte oorsee. Hy sê as die Suid-Afrikaanse tekstielbedryf 'n waardestelsel vir 'n wolproduk met 'n bepaalde handelsmerk kan vestig, kan die uitvoerders van tekstielprodukte waarde deur middel van hul kontakte oorsee aan die plaaslik verwerkte wolskeersel toevoeg.
De Beer sê die kapasiteit moet binne die plaaslike mark verbeter word en dat die plaaslike skeersel gedifferensieer moet word. Dit is in teenstelling met die siening dat onverwerkte wol uitgevoer moet word na oorversadigde markte, soos Italië, wat 'n negatiewe groeikoers het. Hy sê produkte waarby reeds waarde toegevoeg is, behoort eerder in gebiede verhandel te word wat die nodige geld daarvoor het en waar daar 'n vraag na die produk bestaan.
Dr. Jan van der Westhuysen, besturende direkteur van CMW, sê dit sal na verwagting 'n jaar of twee duur voor die huidige bemarkingspogings vir die wolbedryf begin vrugte afwerp. Hy ondersteun die inisiatiewe om die eindprodukte van wol te bevorder, aangesien die produkte wat nie op die winkelrak verkoop nie, nie 'n mark vir wol skep nie.
Van der Westhuysen het die NWKV se deurlopende bekendstelling van die Suid-Afrikaanse skeersel in Europa geloof en gesê die internasionale wolbedryf is nou besig om wol én die eindprodukte daarvan te bevorder.
Die NWKV se Europese bemarking behels onder meer die bevordering van die Suid-Afrikaanse skeersel onder Italiaanse verwerkers op 'n individuele grondslag.
Mnr. Wolf Edmayr, besturende direkteur van BKB, sê die Suid-Afrikaanse wolprodusent mag nie op die gehalte van sy produk inboet nie. Hy sê die produsent is eerstens verplig om die bes moontlike wolskeersel te lewer. Edmayr sê alle belanghebbendes in die bedryf moet saamstaan en die inisiatiewe ter bevordering van die bedryf ondersteun.
17 Maart 2006