|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Wol- en Bokhaarbeurs dat die kopers uitstap. Hulle het egter sowat tien minute later teruggekeer.
In 'n kort verklaring wat tydens die protesaksie deur mnr. Vince Knapton, namens die lede van die Suid-Afrikaanse Wolbeurs, voorgelees is, is beswaar aangeteken dat BKB kopers toegelaat het om wol te waardeer wat ingevolge die BKBPlus-skema heraangebied word, maar die dag vóór die veiling ingelig is dat dit in opdrag van die Australiese maatskappy Lempriere onttrek is.
Die sowat 1 800 bale (sowat 20 % van die aanbod) wat onttrek is, was langwol met 12 maande se groei en was van puik gehalte. Hierdie soort wol is tans baie skaars. Daar was groot belangstelling in die wol en voorlopige kontrakte was reeds met oorsese klante beding. Van die plaaslike meulens het ook na bewering reeds hul programme aangepas om die wol te verwerk.
Luidens die verklaring is reeds aangedui dat dieselfde neiging in volgende seisoen herhaal kan word vir wol wat ingevolge die BKBPlus-skema bemark word. Die kopers sê hulle vind die praktyk onaanvaarbaar en is heeltemal teen die beginsels waarvoor hulle staan.
Mnr. Martin Schwellnus, hoofbestuurder van veselbemarking by BKB, het aan Landbouweekblad gesê dit staan die eienaar van wol vry om dit enige tyd van 'n veiling te onttrek. "Met die rigting waarin die wisselkoers die afgelope week beweeg het, was daar beter geleenthede buite die veilingslokaal. Die poelbestuurder Lempriere kon dus óf die wol op die veiling aanbied en elke lot onverkoop verklaar óf dit vóór die veiling onttrek. Daar is op laasgenoemde besluit."
Schwellnus meen die feit dat só 'n groot hoeveelheid wol onttrek is, het 'n gunstige uitwerking op die res van BKB se aanbieding gehad aangesien pryse met gemiddeld 8 % gestyg het. In die geval van die meeste langwoltipes is 'n styging van tot 12 % behaal wat aansienlik meer is as die persentasie waarmee die rand sedert die vorige veiling verswak het.
Hy het bevestig dat die poelbestuurder besluit het om alle BKBPlus-wolmonsters vanaf die volgende seisoen veiling per veiling aan kopers te toon. Die wol kan egter onttrek word. As van die wol egter op die veiling aangebied word, sal dit meer gereeld beskikbaar gestel word, het hy bygevoeg.
26 Mei 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24