|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Die gunstige weer wat tot middel Januarie in wingerde geheers het, is wyd bespreek en versigtige voorspellings is gewaag oor die verwagte gehalte van die 2007-oesjaar. Baie, het hulle gesê, sou van die temperatuur afhang.
Die hittegolf van 23, 24 en 25 Januarie met temperature van tussen 40 °C en 50 °C het wynmakers benoud gehad. Die wynmakers en wingerdboukundiges wie se aandag Landbouweekblad vir 'n oomblik van hul gistenke en die wingerd kon aflei, sê die warm weer het nie juis skade gedoen nie.
Mnr. Martin Moore, keldermeester van Durbanville Hills, sê hulle het twee warm dae gehad, dog toe dit Dinsdag (23 Januarie) 36 °C op Stellenbosch was, was dit maar 24 °C by hulle. Op 24 Januarie het die kwik tot 30 °C gestyg en op 25 Januarie tot 40 °C, waarna dit afgekoel het. Die Sauvignon blanc-druiwe, waarvoor die vallei bekend is, se geure ontwikkel volgens hom "ongelooflik mooi".
Parstyd is vanjaar omtrent tien dae vroeër in Durbanville se produksiegebied.
Ook by die wynkelder Oak Valley in die tradisioneel koel Elgin-omgewing is die 38 °C wat einde Januarie gemeet is, nie ongewoon nie, sê mnr. Pieter Visser, wingerdboukundige en wynmaker. Hy sê in November en Desember het hulle nie een dag temperature van hoër as 30 °C gemeet nie. Die gehalte van hul druiwe is goed, maar hy dink hulle gaan vanjaar 'n bietjie minder oes. Volgens hom het die feit dat hulle byvoorbeeld Sauvignon blanc aansienlik later 20 tot 25 Februarie as ander wynproduserende gebiede oes, gehelp dat die hitte nie juis skade aangerig het nie.
Die feit dat hulle nog genoeg water het om te besproei, was die wingerde in die Robertson-omgewing se redding, sê mnre. Lolly Louwrens, wynmaker by Robertson Kelder, en George Thom, plaasbestuurder van die Dewetshof-landgoed. Louwrens sê hulle is maar 'n bietjie bekommerd oor hul Sauvignon blanc-druiwe, veral omdat die ontwikkeling van die druifkultivar se geurstowwe so gevoelig vir hitte is. "Ons pluk maar vroeg solank dit koel is," het Louwrens gesê.
Die rooi kultivars se suiker het vinnig opgetel, en volgens hom lyk dit asof die oes vanjaar 'n week later as gewoonlik begin het.
Daar is berigte van gebiede waar temperature van diep in die 40 °C en selfs 50 °C skade aangerig het, maar Landbouweekblad kon dit nie bevestig nie.
Landbouweekblad, 9 Februarie 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24