Desperate landbouleiers uit Zimbabwe vergader binnekort met verteenwoordigers van die georganiseerde landbou in Suid-Afrika. Hulle gaan besin oor 'n landboupad vorentoe nadat die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se buitengewone beraad vir staatshoofde in Pretoria teleurstellend geëindig het.
"Ons is uiters gefrustreerd en teleurgesteld omdat die SAOG-beraad steeds geen duidelikheid gebring het nie," het mnr. Deon Theron, ondervoorsitter van die Commercial Farmers' Union (CFU) ná die beraad gesê. "Selfs al word 'n regering van nasionale eenheid gevorm, weet ons nie of dit enige invloed op die benarde landbou-situasie sal hê nie."
Hy sê dit wil voorkom of pres. Robert Mugabe se Zanu-PF-party steeds grondsake en justisie sal beheer - die grootste knelpunt vir die landbou. "Die beste waarop ons kan hoop, is dat 'n skikking reg en orde in Zimbabwe in 'n mate kan herstel," het hy gesê.
Theron sê die vergadering met die georganiseerde landbou in Suid-Afrika is daarop gemik om planne te beraam vir 'n moontlike pad vorentoe.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 6 Februarie 2009.
30 Januarie 2009