|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 71% |
| Wind: |
Agri SA het 'n aankondiging deur die Regering verwelkom dat 'n ooreenkoms binnekort met die Zimbabwe-regering bereik kan word oor die grondregte van Suid-Afrikaners in Zimbabwe.
Mnr. Mandisi Mpahlwa, Minister van Handel en Nywerheid, het onlangs in antwoord op 'n vraag in die parlement gesê dié ooreenkoms is gereed om onderteken te word.
Volgens mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur, vra Agri SA reeds lank vir 'n meganisme om geregtigheid en billikheid te herstel. Van der Merwe sê Agri SA het die frustrerende vergrepe van die Zimbabwe-regering op Suid-Afrikaners wat daar boer se grondregte, al onder die aandag van dr. Joseph Made, minister van landbou en landelike ontwikkeling in Zimbabwe asook sy Suid-Afrikaanse eweknie, me. Thoko Didiza, gebring.
Van der Merwe sê hy hoop die ooreenkoms is omvattend genoeg om die talle probleme wat bestaan te ondervang en dat dit behoorlik geïmplementeer word.
Mnr. Crawford von Abo, bekende Vrystaatse boer wat al miljoene rande skade gely het sedert mense op sy grond in Zimbabwe beslag gelê het, is egter skepties oor die ooreenkoms wat nou al drie jaar draal. Hy sê daar was al talle beloftes waarvan nog niks gekom het nie. In 'n brief, gedateer 5 Januarie 2004, verseker die Regering hom dat 'n ooreenkoms op die punt van voltooiing is.
"Dit is nou al elf maande later en nog steeds nie geteken nie. Dit is 'n kwade dag as 'n mens die geloofwaardigheid van die Regering in twyfel moet trek, maar ek kan nie anders nie. Wat my klaarmaak, is die onreg van dit alles."
Hy sê sedert die Regering onderneem het om sy veiligheid te waarborg, moes hy reeds 13 keer in die hof in Zimbabwe verskyn. Hy moet weer hierdie maand in die hof verskyn.
3 Desember 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24