|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 71% |
| Wind: |
Hoewel die ANC jare lank al daarop fokus om erkenning vir plaas- en huiswerkers te kry, is die toestande vir plaaswerkers vandag steeds sleg en ly hulle nog tot 'n groot mate, het "Zoem-Zoem" oor die naweek gesê.
Sowat 800 plaaswerkers van sover as Piketberg het Vrydagmiddag vir mnr. Jacob Zuma, voorsitter van die ANC, in die Paarl verwelkom met 'n dreunsang waarin hy "Zoem-Zoem" genoem word. Hy het hulle bedank vir dié naam.
Zuma het die naweek die Wes-Kaap besoek om kiesers te oorreed om te registreer sodat hulle in 2009 se algemene verkiesing vir sy party kan stem. Hy het soortgelyke werwingsbesoeke aan die Gauteng, Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal gebring. Volgende op sy roete lê die Noord-Kaap, Mpumalanga en Limpopo.
Volgens Zuma vind plaaswerkers nie baat by 'n Suid-Afrika wat gedemokratiseer is nie. "Dit skree om aandag. Alle Suid-Afrikaners moet in 'n veranderde omgewing leef. Ons moet fokus op die plaaswerkers in die Wes-Kaap."
Mnr. Cobus Dowry, minister van landbou in die Wes-Kaap, het ook die toespraak bygewoon. Hy het sowat 'n maand gelede ook gesê die Nuwe Suid-Afrika het by plaaswerkers verbygegaan.
Zuma sê meer aandag moet gegee word om plaaswerkers se pyn te verlig. "Ons moet op alliansie-vlak die spesifieke kwessies bespreek om uit te vind wat gedoen moet word."
Volgens hom is dit nie praatjies voor die verkiesing nie, maar hy het na die aartappelboikot van sowat 50 jaar gelede verwys en gesê die ANC praat al jare lank hieroor. "Ons sê watter ekonomiese beleid ons ookal ontwikkel, dit moet tot 'n seker mate die werker se las verlig."
Hy het die plaaswerkers aangemoedig om hulself te organiseer. Volgens hom gaan die ANC hom beywer om die gaping tussen ryk en arm te verklein. Hulle sal ook die onderwys- en gesondheidstelsel, misdaad en korrupsie onder die loep neem.
Zuma het weer die stelling gemaak dat tieners wat swanger raak en kinders wat nie skool bywoon nie "ver weggestuur moet word" en onder dwang moet skoolgaan. Die Congress of People, 'n party wat deur 'n wegbreekgroep van die ANC op die been gebring is, het hom reeds by 'n vroeëre geleentheid oor die vingers getik hieroor.
"Ek is bekommerd oor die opvoeding wat die samelewing bied. Ek het nooit skool bygewoon nie, maar het my opvoeding by die samelewing ontvang. Ek het nooit 'n krimineel of dronkaard geword nie, want die samelewing was toe baie geïnteresseerd daarin om jong mense op te voed en aan hulle die waardes te leer om 'n verantwoordelike burger te word."
Zuma het sy toespraak met sy temaliedjie Umshini Wami (Bring my my masjiengeweer) afgesluit. "Laat ek net aan die groot man raak," het een man gesê toe Zuma die saal verlaat.
10 November 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24