|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 71% |
| Wind: |
Daar is eenstemmigheid tussen georganiseerde landbou en die nuwe leierskorps van die ANC dat 'n dringende gesprek nodig is oor landbou in Suid-Afrika.
Mnr. Jacob Zuma, president van die ANC, het by 'n dinee van die Financial Times op 19 Junie in Johannesburg gesê alle belanghebbendes in landbou moet bymekaar kom vir 'n "Suid-Afrikaanse gesprek" oor grond en die gebruik van grond in die land.
Kommersiële landbou "verwelkom en sien uit na so 'n gesprek".
Agri SA en die TLU SA het albei gesê hulle ervaar die uitspraak as positief en sal in dié gees deelneem aan so 'n gesprek.
Meer doeltreffend
Zuma het gesê 'n omvattende gesprek is nodig oor landbou in Suid-Afrika om die beste manier te vind om grond vir voedselsekerheid en werkskepping te gebruik.
Hy het verwys na die land se sterk kommersiële sektor en die bydrae wat dit op dié gebied kan lewer, maar meen 'n gesprek oor die struktuur daarvan is nodig.
"Ons landbou het toenemend ontwikkel in 'n kapitaalintensiewe konsentrasie van eienaarskap en plaasgrootte met onderbenutting van groot stukke grond, werkaflegging en afskaling van permanente arbeid.
"Mense moet deur doeltreffende landelike ontwikkelingsprogramme in staat gestel word om grond te bewerk en stygende voedselpryse die hoof te bied. Daarom moet ons bymekaar kom om te praat oor hoe ons grond die beste kan gebruik om die nasie te voed en afhanklikheid van invoere te verminder."
Hy het ook sterk kommentaar oor misdaad en dienslewering van die staat gehad en gesê tensy praktiese bewyse van verbetering gelewer word, gaan die stryd nie gewen word nie.
Positief
Mnr. Lourie Bosman, voorsitter van Agri SA, het gesê dit lyk of die nuwe leierskap 'n begrip het vir die noodsaak van die kommersiële sektor vir voedselsekerheid.
Voelers is reeds uitgesteek en verkennende gesprekke gehou rondom behoeftes van die landbousektor en hoe dit bestuur kan word. 'n Vergadering met die nuwe top leiers sal binnekort gehou word om na probleme in die landbou te kyk en oplossings vir die grondkwessie, asook nuwe aspekte soos voedselpryse en die onteieningswet te vind.
"Dit is noodsaaklik dat die belang van vertroue in die landbousektor aan die leierskorps oorgedra word," het Bosman gesê.
Mnr. Paul van der Walt, voorsitter van die TLU SA, sê dit is "baie positief" dat so 'n gesprek in die vooruitsig gestel word.
Die organisasie sou graag wou sien dat die agenda in samewerking met die georganiseerde landbousektor "so saamgestel word dat die onrustigheid in landbou aandag kry" om te keer dat die ekonomie skade ly en beleggers afgeskrik word.
25 Junie 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24