
Tydens die vorige Fifa-Wêreldbeker-sokkertoernooi in Duitsland het dié land se wynbedryf elke geleentheid gebruik om sy produkte te bemark en is hy ryklik vir sy moeite beloon. Mnr. Armin Goering, direkteur van die Duitse wynbedryfskamer, sê Suid-Afrika kan dié land se voorbeeld volg en sy wyn met groot welslae tydens die toernooi bemark.
Goering woon tans die wyntoerismekonferensie in Kaapstad by. Hy meen duisende toeriste van regoor die wêreld sal ondanks die huidige ekonomiese krisis steeds die toernooi bywoon. As Duitsland as voorbeeld gebruik word, sal talle van dié besoekers ’n week of twee na die afloop van die toernooi aanbly.
Die Duitse wynbedryf het onder meer verseker dat daar genoeg van sy wyne by stadions beskikbaar was en het ook nuwe produkte tydens die toernooi bekend gestel – veral by stadions waar wedstryde gespeel is. Toerisme-joernaliste is na wynproduserende gebiede geneem.
Goering sê daar is geen kopiereg op die gebruik van sokkerballe as deel van bemarkingsveldtogte nie en daar is ook geen kopiereg op die syfers 2010 nie. In Duitsland is sowat 100 000 kissies wyn tydens die toernooi verkoop. “Baie kissies is deur mense gekoop wat nie tradisionele wyndrinkers of -kopers is nie.” Hy raai die Suid-Afrikaanse wynbedryf aan om sy produkte op soveel maniere moontlik aan die sokkertoernooi verbind.
Bron:
23 Julie 2009