
Die doel van die kompetisie is om boere uit te daag om die hoogste tonnemaat mielies te verbou, sê mnr. Dirkie Visser, besturende direkteur van Cradock Saad. Toe die kompetisie agt jaar gelede begin het, het dit gelyk of 20 t/ha ’n onbereikbare droom is. In 2019 is die doelwit tot 30 t/ha verhoog.
Die naaswenner in die suidstreek is mnr. Wouter Heyns, met 20,098 t/ha gevolg deur mnr. Barto Janse van Rensburg met 19,92 t/ha. Al drie wennerboere in die suidstreek boer naby Cradock.
In die noordstreek is mnr. Kobus Marais van Fort Brak-boerdery by Hofmeyr met 20,927 t/ha die wenner met mnr. Theuns Otto van Saltpansdrift-boerdery by Visrivier met 20,608 t/ha die naaswenner.
Die 30-ton-klub se prysuitdeling is op Saterdagaand 20 Augustus by Buffelshoek Lodge by Cradock gehou. Die kompetisie word vir beoordelingsdoeleindes in ’n suidstreek (plase suid van Cradock) en ’n noordstreek (noord van Cradock) verdeel.
Visser is optimisties dat ’n opbrengs van 30 t/ha behaal kan word met die nuwe tegnologie, nuwe kultivars en die regte kunsmismengsel met mikro-elemente vir die boer se grond. Die kompetisie was vanjaar baie moeilik weens swaar reënval van 250 mm van Desember tot einde April en bitter min hitte-eenhede.
Die kompetisie word geborg deur BASF, Cradock Saad, Metson, Bayer en Pannar Saad.