Danksy ’n benadering om nooit paniekerig te raak as krisisse opduik nie, het mnr. Willie van Niekerk sy boerdery van ’n nederige 20 ha opgebou totdat hy nou só ’n mededingende saaiboer is dat hy een van die afdelings in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie gewen het.
Hy en sy seun, Willie jr., bedryf saam Belofte-boerdery by Vanderbijlpark, waar hulle sojabone en mielies saai en met Merino-Landskape boer. Hul opbrengs van 4,8138 t/ha met die kultivar DM 6.8iRR, wat deur Agricol bemark word, was die hoogste vir sojabone onder droëlandverbouing in die sentrale streek in Graan SA se kompetisie vir 2021.
Oorskakeling na presisieboerdery en geenbewerking, asook goeie samewerking tussen ’n pa en seun wat nie bang is vir harde werk nie, het die boerdery in staat gestel om sy arbeidsmag stelselmatig te verklein totdat daar nou net twee werkers is wat plaaswerktake uitvoer.