
Die milde reën het nie net die land se somergraan-oeste in die sentrale en westelike dele gered nie, dit het ook mense se lewens diep geraak, sê mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA.
De Villiers skryf in Graan SA se nuusbrief as volg: “Die Here het op sy unieke tyd en op mildadige wyse reën oor ons landerye uitgestort. Dit het omstandighede in 'n oomblik van 'n reuse-ramp na oorvloed en vreugde verander.
“Op 5 Februarie, met Graan SA se vergadering van die mieliespesialiswerkgroep, was die manne omtrent baldadig! Die voorsitter, Louw Steytler, moes hulle menigmaal tot orde roep. Daar is geskerts, grappe gemaak en sommer net gelag. Geen probleem was té groot om op dié dag aan te vat nie. Dit was lekker!
Op plekke nog droog
“Teen die einde van die vergadering moes almal terugvoer uit hul streke gee oor die landboutoestande. Dit was 'n plesier om te hoor! Die wêreld lyk sommer totaal anders as die vorige week, toe almal wat hier by ons kantore gekom het, se ore gehang het. Dit lyk of hier weer 'n mooi oes aan die kom is.
“Hier en daar is egter nog boere wat nog nie die tipe reën gekry het wat op ander plekke geval het nie en daar is ook vroeë aanplantings wat permanente skade opgedoen het. 'n Mens bly maar wonder of mense in die stede werklik besef watter ramp afgeweer is.
“Ek sluit af met een opmerking wat 'n produsent gemaak het toe die voorsitter vir hom sê dat hy sekerlik nie vandag kan kla nie: 'Voorsitter, hierdie jaar gaan ek baie moeilikheid met die Ontvanger hê!' Dit klink of dit geld gereën het by hom."
Fotobyskrif: Die foto hieronder van mnr. Japie van Wyk van Donkerbos, Vanzylsrus, se dankgebed in die reën, het groot reaksie op Facebook ontlok.