Boere glo dat baie meer sojabone as ooit tevore, veral in die noordwestelike dele van Suid-Afrika, in die nuwe somerseisoen aangeplant gaan word en die kwessie van uitvoer raak al hoe belangriker.
Mnr. Jozeph du Plessis, boer van Schweizer-Reneke en voorsitter van die sonneblom-, sojaboon- en sojaboonvoedselforum, het op ’n forumvergadering gevra dat die kwessie van uitvoer op die agenda geplaas moet word vir bespreking in die hele waardeketting. “Met die verwagting van nog ’n nat seisoen kan die volgende sojaboonoes groter wees as wat ons plaaslik kan verbruik. Daarom raak die kwessie van diepsee-uitvoer al hoe belangriker.”
Hy sê veral in Noordwes en die westelike dele van die Vrystaat brei produksie uit en die neiging sal voortgesit word. “Daar is drie dinge waarvan ons moet kennis neem. Eerstens bevoordeel die prysverskille tussen sojabone en mielies op die oomblik sojabone. Tweedens speel die groot styging in die pryse van kunsmis ’n belangrike rol. Met die aanplanting van sojabone is stikstof nie nodig nie, net fosfate en kalium, wat die winsgewendheid van sojabone verbeter.