Hy glo die ouer boere wat gesê het hawer maak die grond skoon, want dit werk vir hom in sy grondboonproduksie. Só sê mnr. Pieter Burger van Hartswater.
Hy behaal die afgelope vier jaar goeie resultate met sy wisselboustelsel wat hawer insluit, in plaas daarvan om net grondbone elke keer ná koring te plant, of om dit braak te laat lê nadat die mielie-oes af is.
Nadat hy sy grondbone in Maart en April uitgehaal het, plant hy in Junie tot Julie koring. Dit word einde November gestroop, en so gou moontlik daarna plant hy mielies. Hy gebruik 'n vinnig groeiende kultivar wat teen Mei gestroop kan word. Dadelik daarna plant hy hawer op die lande wat andersins braak sou gelê het.
Einde September ploeg hy die hawer in en dit word dan 'n maand daar gelaat sodat die wortels en die groen materiaal saam met die mieliereste wat vlak ingeploeg is, kan verrot. In die laaste twee weke van Oktober word grondbone geplant.
Die hawerwortels skei alkaloïede af wat aalwurms in die grond onderdruk. Met die inploeg is dit in die grond en die grond word terselfdertyd verryk.
Die inploeg van die hawer is die belangrikste deel van sy tegniek vir aalwurmbestryding. 'n Bemestingsprogram, besproeiingskedulering en chemiese aalwurmbestryding vorm ook deel van die proses.
Nadat mnr. Burger die mielielande met 'n skotteleg bewerk het sodat die reste nie te diep in die grond moet wees nie, dien hy 20 kg stikstof, 30 kg fosfaat en 40 kg kalium per hektaar toe wanneer die hawer geplant word. Verrotting vind dus plaas terwyl die hawer geplant is. Die kunsmis bevorder die verrottingsproses.
Wanneer die grondbone geplant word, word geen bemesting toegedien nie. Twee weke ná opkoms word 35 kg stikstof, 10 kg fosfaat en 20 kg kalium en dieselfde hoeveelhede weer twee weke ná blomvorming per hektaar toegedien. Hierdie program is uitsluitlik vir vroeë kultivars soos Akwa, die kultivar wat mnr. Burger gebruik en wat geskik is vir besproeiing en droëlande.
Die grondvoorbereiding vir die grondbone is redelik eenvoudig. 'n Tandwerktuig met 'n drukker word gebruik om 'n digte, ferm en gelyk saadbedding te maak nadat dit diep omgeploeg is. Die rywydtes is 400 mm, met 'n spasiëring van 50 mm tot 70 mm in die ry. Siektes word bekamp deur sy lande skoon te hou.
Mnr. Burger glo sy besproeiingskedulering dra ook by tot die vermindering van sy aalwurmprobleem. Hy besproei met tussenposes van 5 tot 6 dae met die spilpunt en sorg só dat die grondbone nie oorbesproei word nie. Dit is ook baie belangrik dat die plante nie vogstremming ondervind nie.
Die siklus help om die grond nat genoeg te hou, want wanneer te veel besproei word, skep dit ook gunstige toestande vir aalwurm en swart peulvrot, wat ook 'n groot probleem is.
Nóg 'n been van sy sukses is mnr. Burger se chemiese aalwurmbestryding. Hy dien 8 kg Temik per hektaar toe wanneer die grondbone geplant word, en nóg 8 kg wanneer die blomme gevorm het. Hy glo deur dietwee toedienings versprei hy die doeltreffendheid van die middel. Dit moet egter nie te laat toegedien word nie, anders is dit nie so doeltreffend nie, en ook buite die registrasievereistes.
Hy pas wisselbou al die afgelope tien jaar toe. Die hawer plant hy die afgelope drie seisoene. Omdat hy in dieselfde tyd na 'n nuwe grondboonkultivar oorgeslaan het, is dit nie moontlik om vas te stel wat die praktyk ten opsigte van verbeterde opbrengs beteken nie, maar sy opbrengs was die afgelope vier jaar nie minder as 4 t/ha nie. Hy is dus oortuig dat 4 t/ha en meer met diestelsel 'n haalbare opbrengs is.
'n Bonus vir mnr. Burger is dat hy vind dat die gehalte van sy grondbone 5 % tot 10 % verbeter het met die praktyk om hawer in sy wisselbouprogram in te sluit. Met diegoeie bestuurspraktyk het hy die afgelope paar jaar telkens meer as die gemiddelde opbrengs behaal.
Mnr. Burger volg ook aanbevelings deur die LNR oor aspekte soos die plantproses. Hy vind baie baat by inligtingsdae. 'n Groot faktor in die welslae van sy grondboonboerdery is raad en insette van dr. Swanie Swanevelder van die LNR se Instituut vir Graangewasse op Potchefstroom, glo hy. Vir meer inligting kan mnr. Burger by 083 255 2033 gebel word. 6 September 2002