Om biologies te kan boer, moet 'n mens eers 'n fondament van voedingstowwe in die grond skep. Die geheim is om nie net voldoende makro- en mikrovoedingstowwe in die grond te plaas nie, maar om hulle in die regte verhouding tot mekaar te kry.
Gelukkig is 'n biologiese fondament anders as 'n betonfondament waar daar net een kans is om dit reg te lê. In werklikheid moet 'n mens voortdurend daaraan werk om 'n biologiese boerdery met welslae te bedryf.
Dit is geen maklike taak om die regte bestanddele van 'n biologiese fondament te bepaal nie. Uiteraard het dit met die funksionering van 'n komplekse en lewende ekostelsel te doen, terwyl die mens se kennis daarvan heeltemal oorskadu word deur die ontsaglike onkunde daaroor. Nietemin is daar nie 'n ander uitweg as om besluite oor die regstelling van grondvoedingstowwe te neem nie.
Soos boere alte seker weet, is daar vele verskillende benaderings tot bemesting. Dit kom aan die lig as dieselfde grondmonster aan verskillende laboratoriums gestuur word daar is net soveel aanbevelings as wat daar laboratoriums is. Soms verskil die aanbevelings en ontledings aansienlik. Die resultaat is dat boere met ál die teenstrydige aanbevelings verward raak. Wat die saak verder bemoeilik, is dat te veel akkerboukundiges slegs op produksie op kort termyn fokus. Hulle neem glad nie die grond-plant-ekostelsel in ag nie. Wat ook dikwels buite rekening gelaat word, is die effek van bemesting op die vermoë van die plant om siektes te weerstaan. Verder word die gehalte van die produk dikwels buite rekening gelaat.
Boere voel soms magteloos aangesien hulle nie die kennis het om self 'n ingeligte besluit te neem oor hul bemestingsprogram nie en dit is een van die duurste items in die boerderybegroting.'n Antwoord op die probleem is dat boere hulself in die onderwerp moet instudeer. 'n Goeie en taamlik maklik verstaanbare model vir grondherstel is dievan prof. William Albrecht. Hy was dekades gelede professor in grondkunde aan die Universiteit van Missouri. Daar is meer as voldoende bewyse dat die toepassing van sy model vir die regstelling van grondvoedingstowwe goed in die praktyk werk. Die Amerikaner Neal Kinsey, skrywer van Hands-0n Agronomy, pas dit al langer as 30 jaar met groot welslae toe. Hy het ook baie konsultante in verskeie lande in die Albrecht-stelsel opgelei, en hul bevinding is dat die herhaalbaarheid van welslae wat daarmee behaal word, groot is.
Nog 'n Amerikaanse landboukundige, mnr. Garry Zimmer, gebruik die Albrecht-model. Garry, skrywer van die boek The Biological Farmer, bedryf 'n groot konsultasiebesigheid met sowat 70 raadgewers wat boere op meer as 3 500 plase help met biologiese boerdery. Die handleiding wat hy vir die opleiding van sy personeel geskryf het, is inderdaad die kerninhoud van sy heel insiggewende en waardevolle boek.
Lesers wat meer van die Albrecht-stelsel, veral die toepassing daarvan, wil weet, sal dit in The Biological Farmer vind. Zimmer sê dat sy doel met die publikasie onder meer is om boere in 'n posisie te plaas om ingeligte besluite oor hul bemestingsprogram te neem.
Die Albrecht-model is inderdaad 'n resep vir die skep van 'n fondasie vir biologiese boerdery en die bedryf daarvan.
Boere vind dit vreemd as hulle 'n aanbeveling vir die toediening van kalk op soet grond ontvang. Daar is ook grondkundiges wat meen dat dit onsin is. Tog werk dit mits die Albrecht-stelstel korrek toegepas word.
Plaaslik is daar grond met `n hoë pH, maar wat tog arm aan kalsium is. Besproeiingslande langs die Limpoporivier is 'n goeie voorbeeld hiervan. Die grootste probleem is 'n oormaat magnesium en natrium. Hoewel magnesium die sleutelkomponent van chlorofil is, en dit met die produksie van koolhidrate in die plant te doen het, skep 'n oormaat daarvan in die grond 'n paar ernstige probleme. In die eerste plek word die opname daarvan belemmer plante kry nie genoeg daarvan in nie
Tweedens word die grond hard. Gevolglik verg dit heelwat krag om die grond te bewerk en, nog erger, belemmer dit die grond se opname en houvermoë van water. Wat die biologiese boer meer kwel, is dat sulke kompakte grond 'n swak asemhalingsvermoë het gaswisseling tussen die grond en die atmosfeer is gestrem. Vir mikro-organismes is suurstof belangriker as voedsel of water.
Mnr. George Hodgson en sy seun Vance boer op sowat 600 ha besproeiingsgrond langs die Limpopo. Jare lank het hulle besef dat hul gewasopbrengs veel hoër kon wees ondanks die raad van grondkenners. Grondmonsters is gereeld geneem en die aanbevelings so goed moontlik toegepas. Tog het hul opbrengste onbevredigend gebly. Hulle het selde meer as 7 ton mielies per hektaar geoes. Die warm klimaat van daardie gebied is die rede, het hulle al gedink.
Hulle het nooit met kalk bemes nie aangesien dit nooit aanbeveel is nie; konvensionele denke is dat dit onsin is om sulke soet grond ('n pH (H2O) van 7,9) kalk te gee. Die Hodgsons was inderdaad diep in die pH-slaggat vasgevang. Hulle het monsters na 'n laboratorium in Amerika laat stuur, waar die ontledings volgens Albrecht-stelsel akkuraat gedoen is. Dit het geblyk dat daar in een land 'n tekort aan kalsium, maar 'n oormaat magnesium en natrium was (grafiek 1). Soos reeds verduidelik, is 'n hoë magnesium- en natriumvlak verantwoordelik vir 'n hoë pH.
Mnr. Neal Kinsey het aanbevelings gedoen: Die spesifieke land moes tot bykans drie ton kalsitiese kalk ontvang. Die Hodgsons het goeie, mikrofyn kalk bestel en dit op verskeie lande gestrooi hoewel nie met volle oorgawe nie. Op een land het die kalk halfpad opgeraak. Daar was nie tyd om nog te bestel nie en die land is toe net so geplant. Dit was gou duidelik waar die kalk gestrooi is en waar nie 'n dramatiese verhoging in opbrengs is deur kalk bewerkstellig. Daar was ook 'n merkwaardige verbetering in die produksie van hul lemoenbome te bespeur: Die opbrengs, grootte, kleur en vruggehalte was beter as voorheen. Mnr. Vance Hodgson sê ook dat die grond wat kalk ontvang, nou sagter as voorheen is.
Die biologiese fondasie bestaan egter nie net uit kalsium, magnesium, kalium en natrium nie. Dit is ook van deurslaggewende belang om die ander makro- en mikro-elemente in balans te kry. In die volgende uitgawe kyk ons daarna.
Kalsium die belangrikste
Grond met te min kalsium is amper soos 'n motor waarvan die vergasser nie goed ingestel is nie. Só 'n motor gebruik meer brandstof om dieselfde afstand te ry as een wat goed ingestel is. Grond wat arm aan kalsium is, het heelwat meer kunsmis nodig om dieselfde oes te gee as een waarvan die kalsium voldoende is.
Kalsium is die belangrikste plantvoedingstof. Die belangrikste redes daarvoor is:
Aan die Albrecht-skaal gemeet, het die meeste grond plaaslik aansienlik te min kalsium. Die rede is heel waarskynlik dat in die verlede, en soms nou nog, grondsuurheid (pH) as maatstaf gebruik word om te bepaal of kalk toegedien moet word of nie. Daar word hier na die pH-slaggat verwys.
'n Amerikaanse landboukundige, mnr. Garry Zimmer, praat van 'n brandstoftenk as hy die grond se vermoë om voeding-stowwe te hou, verduidelik: Ligte grond het 'n klein tenk en kleigrond het 'n groot tenk.
Om op dievergelyking te bou, kan daar gesê word dat die brandstof suur is wanneer dit te veel waterstof bevat. Die rede hiervoor is dat die hoeveelheid waterstof die maatstaf is waarmee grondsuurheid bepaal word. Waterstof word afgedryf deur die toediening van kalk. Die resultaat is dat brandstof minder suur word die pH daarvan styg. Maar magnesium, kalium and natruim kan ook waterstof in die tenk vervang. In die praktyk gebeur dit dikwels dat sekere grond baie magnesium, kalium of natrium, of kombinasies daarvan, maar min kalsium, bevat. Daarom kan die grond se pH hoog wees ten spyte daarvan dat dit te min kalsium bevat. Dit is die pH-slaggat. Die resultaat daarvan is dat die produksie van die grond benede volle potensiaal bly.
Die Albrecht-stelsel skryf voor in watter verhouding kalsium, magnesium, kalium, natrium en waterstof in 'n brandstoftenk moet voorkom. Wanneer dieverhouding reg is, is die pH ook gewens sowat 6,5 gemeet aan die water-pH-skaal. Sodoende word die pH-slaggat nie alleen toegegooi nie, maar die volle potensiaal van die grond vrygestel. Wat ook hier ter sprake is, is dat die meeste gewenste mikro-organismes 'n pH van sowat 6,5 verkies. Teen diegraad van suurheid lewer hul `n uitmuntende plantvoedsel-verskaffingsdiens aan die boer.
Forums kan boerdery op die winspad plaas
Mnr. John Fair, 'n biologiese boerderykonsultant, bied later vanjaar met die samewerking van Landbouweekblad twee forums oor biologiese boerdery aan. Die tema is die herstel van die biologiese vrugbaarheid van landbougrond.
'n Boer wat die biologiese pad volg en sy grond só herstel, sal vind dat die koste van sy produksiemiddele verlaag, sy risiko verminder en sy winsgewendheid verhoog, terwyl sy boerdery volhoubaar word.
Die eerste forum word van 27 tot 28 Augustus op Vanderbijlpark gehou en die tweede van 3 tot 4 September op Stellenbosch. Dieselfde program word by albei sentrums aangebied. Die hoofsprekers is mnre. Garry Zimmer, 'n Amerikaanse konsultant oor biologiese boerdery, en Neil Ballard, 'n biologiese boer van Australië.
Vir diegene wat voor 15 Julie registreer, beloop die koste van die forum R1 950 per persoon. Diegene wat laat registreer se koste beloop R2 500.
Boere wat voornemens is om een van die forums by te woon, word sterk aangeraai om mnr. Zimmer se boek The Biological Farmer vooraf te lees. Dit sal hulle in die posisie plaas om baie meer waarde uit die forum te kry.
Navrae en boekbestellings: Me. Lyndi Burgess, tel./faks 058 622 3585, sel 082 739 4599, of e-pos: fair@kingsley.co.za.
30 Mei 2003