
Die voorkoms van een van die aggressiefste onkruide wat nog in Suid-Afrika voorgekom het, Palmer-misbredie (Amaranthus palmeri), is op ’n mielieplaas in die distrik Potchefstoom in Noordwes bevestig.
Luidens ’n verklaring deur CropLife SA is een van die bedreigings van die onkruid dat, vergeleke met sy inheemse eweknieë, dit bestand is teen ten minste ses onkruiddodergroepe. Dit kan byvoorbeeld nie met glifosaat bekamp word nie.
Die voorkoms van die onkruid is die eerste keer in 2018 op ’n plaas in die distrik Douglas in die Noord-Kaap bevestig.
CropLife SA moedig alle saaiboere en gewasadviseurs aan om alles moontlik te doen om dié onkruid en alle ander Amaranthus-spesies wat op plase voorkom, uit te roei. “Die rede vir sulke drastiese maatreëls is dat die Palmer-misbredie met ander Amarant-spesies hibridiseer en sy onkruiddoderweerstand na sulke basters oordra. Die Palmer-misbredie ontwikkel ook geleidelik weerstand teen onkruiddoders wat tot dusver gewerk het, en laat boere dus met min opsies om dit te bekamp.”
CropLife SA maan dat ’n ernstige risiko mielieboere in die gesig staar. Hulle kan saailande weens dié onkruid te verloor as hulle nie dadelik optree om die onkruid uit te roei en te keer dat dit sade maak nie. “Versuim om die Palmer-misbredie op plaasvlak uit te roei, sal ’n verwoestende impak op gewasproduksie tot gevolg hê.”
Die instelling rig ’n ernstige versoek tot alle boere in die somerreëngebiede, veral diegene wat mielies, lusern, katoen en bone verbou, om Amarathus-onkruide met meganiese metodes saam met die korrekte kombinasie van onkruiddoders – soos aanbeveel in die noodgevaluitroeiingsplan – uit te roei.
Die volledige uitroeiingsplan kan hier gevind word.
Enige tegniese navrae in die verband kan gerig word aan dr. Gerhard Verdoorn by gerhard@croplife.co.za of 082 446 8946.