Goedkoper ruolie en natuurlike gas binne maande kan tot ’n verlaging in die uitermate hoë pryse vir kunsmis en ander chemiese produkte lei.
Twee studente in toegepaste ekonomie by Graan SA, mnr. Christiaan Vercueil en me. Heleen Viljoen, sê in ’n verslag die hoë kunsmispryse word aangevuur deur verskeie faktore, onder meer ’n verswakkende rand, rekordhoë energiepryse, aanbodtekorte in die buiteland en hoë internasionale vraag.
Kunsmis kan 30% tot 50% van die totale produksiekoste behels, na gelang van watter gewasse verbou word. Suid-Afrika is ’n netto invoerder van kunsmis omdat plaaslike produksie onvoldoende is. Jaarliks word gemiddeld 1,6 miljoen ton ingevoer, en net meer as 35 000 ton uitgevoer.