Kunsmis is peperduur en nie noodwendig altyd voldoende om plante en mikrobes te voed en waterverhoudings te reguleer nie. Daar is ook kommer oor die uitwerking wat die vrystelling van stikstofgas van stikstofkunsmis op die omgewing kan hê.
Boere gebruik toenemend gekomposteerde hoendermisprodukte, maar dis nie genoeg om koolstof in die grond te bou nie. Deesdae gebruik drie boere by Stanford en Baardskeerdersbos in die Wes-Kaap ReStore, ’n korrelmisstof van biokoolstof (biochar) en hoendermis, om grondvrugbaarheid en waterhouvermoë te verbeter.
Die gebruik van ReStore, veranderinge aan hul besproeiingspraktyke en herlewingslandboubeginsels het gehelp dat mnr. Ruan Siebert met welslae makadamiabome op die plaas Highlands buite Hermanus kon vestig.