
Die internasionale mielieprys het die afgelope week byna met $0,12 gedaal terwyl die R/$-wisselkoers dieselfde gebly het. Dus het die internasionale prys onder druk gekom terwyl die plaaslike markprys vir Julie wit- en geel mielies die afgelope week baie opwaarts beweeg het. (Sien tabel onder.)
Volgens berekeninge was die binnelandse prys 'n week gelede nie baie hoër as die uitvoerpariteitsprys nie. Dit beteken dat ons mielieprys hoofsaaklik gedryf is deur die internasionale prys van mielies en dat geen voorsiening gemaak was vir plaaslike omstandighede, soos die droogte, wat ons tans ervaar nie.
Die vinnige styging van plaaslike pryse teenoor 'n daling in die internationale prys, is die mark se reaksie op die kritiese tydperk van die mielie se ontwikkeling, waar droogte 'n massiewe invloed op die opbrengs en kwaliteit van mielies tot gevolg kan hê.
Volgens reëndata wat deur BVG se weerstasies ingesamel is, het die sentrale dele van die Vrystaat, asook Noordwes, heelwat meer reën gedurende Oktober, November en Desember gehad in vergelyking met die vorige seisoen.
Dit was uitstekende plantomstandighede, wat veroorsaak het dat die opkoms baie goed en die stand van die mielies teen begin Januarie baie belowend was. Die gunstige omstandighede het die mielieplante ongelooflik welig laat groei, maar die reën in Januarie was baie swak verspreid en nie so goed soos aan die begin van die seisoen nie.
Die mielies is nou in 'n sensitiewe stadium en enige vogtekorte kan tot verliese lei. Die reënval vir die komende twee weke gaan bepalend wees vir mielies in ál die streke. Daar ís egter dele waar die mielies ongelooflik mooi is.
In Mpumalanga en die oostelike dele van die Vrystaat lyk die situasie aansienlik beter en alhoewel daar ook kolle is wat nie voldoende vog gekry het nie, het hierdie streke die afgelope week meer reën gekry as die sentrale en westelike dele van die land. Hier is nog ‘n mooi oes op die land.
Enige tekens van moontlike reën gaan veroorsaak dat die mark weer sterk na die onderkant gaan reageer, maar as dit nie gou goeie reën kry nie, en die oes kleiner as 11 miljoen ton is, gaan dit die breekpunt wees wat die mark nog meer gaan laat versterk.
Vir verdere inligting, lees asseblief ons markverslae op www.bvg.net – “Newsroom” deur Pieter van Schalkwyk.
* Chris Venter is besturende direkteur van BVG Commodities. BVG bied die BVG-kompetisie vir graanverskansing saam met GrainCo en Landbou.com aan.
Klik hier om aan die kompetisie deel te neem.