
Al het hulle darem op 10 Julie 6 mm reën op hul plaas by Piketberg en 3 mm op hul plaas tussen Piketberg en Porterville gekry, sê mnr. Bertus Eksteen van die plase Witvlei, Die Helfte en Meintjieskraal by Piketberg die gesaaides lyk nie te goed nie. “Die koring kom kol-kol op en is taamlik ongelyk. Dit lyk baie soos 2015.”
Die gebrek aan skaapweiding gee hom hoofbrekens. “Die skape het reeds ’n gat in my sak gevreet met dié dat hulle eers in Julie vanuit die lamkampe na die medicslande kon gaan, en steeds is daar nie genoeg weiding nie. Ons dekgewasse lyk ook maar baie vertraag.”
Eksteen sê al goeie nuus is dat hy vanjaar ’n lampersentasie van 140 behaal het en dat die medics wat hy vir die eerste keer op Meintjieskraal, ’n plaas wat hy en sy pa, Francois, nog saam gekoop het, mooi opkom, “selfs met die min reën”.
Mnr. Hugo de Waal van die plaas Kromrivier by Eendekuil sê hy het Sondag 6 mm tot 10 mm reën gekry. “Die graan het goed opgekom, maar die weidings is skraps.”
Vanjaar is tot dusver ’n ondergemiddelde jaar, sê dr. Johann Strauss, wetenskaplike oor volhoubare gewasstelsels by die Wes-Kaapse departement van landbou. “Hopefield het 105 mm reën van 1 April af gekry, Langgewens 93 mm, Tygerhoek 123 mm en Riversdal 87 mm.”
Strauss sê dis kommerwekkend. “Met die hoë insetkoste kan ’n swak oes vanjaar groot probleme veroorsaak.”
Ooste is droogte
Toestande in die Suid-Kaap lyk heel aanvaarbaar, maar dit neem af van Swellendam na Mosselbaai, sê mnr. Henk de Beer, hoofbestuurder van bedrywe by Sentraal-Suid Koöperasie.
“In perspektief gesien, was dit egter maar die een enkele goeie reënsessie van die 22 tot 23 Junie wat ons gebring het waar ons is.
“Voor dit en ná dit – vanaf Januarie tot nou, wat planttyd insluit – het ons streek baie min reën gekry. Die reën einde Junie was net betyds om ons geplante graan te red en ’n skop in die regte rigting te gee.”
Hoewel die graan goed herstel het na die droë planttyd, is opvolgreën dringend nodig.
De Beer sê die kanola wat so vroeg blom, hoef nie noodwendig ’n rede tot kommer te wees nie. “Dit kan ook toegeskryf word aan kortgroeikultivars. Ons verwag, as alles in die natuur ‘normaal’ verloop, om vanjaar weer reeds in September ons eerste kanola in te neem.”