Mnr. Stephen Krüger, direkteur van TonnUp en self ’n mielieprodusent van Viljoenskroon, sê die transaksies het sover gewissel van 13 ton tot meer as 10 000 ton, wat die platform geskik maak vir alle produsente. Die direksie wil nie bekend maak hoeveel tonne presies al verhandel is nie. “Die tonnemaat wat verhandel, is vertroulike inligting wat intern bly. Vir TonnUp gaan dit in elk geval nie oor tonnemaat nie. Ons jaag nie syfers na of ’n deel van die graanmark nie.
“Dit gaan eerstens oor die tevredenheid van die koper én die verkoper, sowel as kostedoeltreffendheid. Al die kopers wat by ons geregistreer is, was tot dusver tevrede, al die verkopers was tevrede, die stelsels werk wat die aflewering van graan en die betalings betref, en daar was tot dusver geen enkele klagte nie.
“In die tweede plek gaan dit vir ons oor koste. Wat kos dit die boer om sy produk op hierdie manier te bemark en vir ’n koper om op hierdie manier te koop? Hierin word ons nie geklop nie.”