Veiligheid, duur kunsmis en die gesukkel met Eskom se kragvoorsiening is van die kwessies wat lede van Graan SA wil hê die organisasie moet aanpak.
Besprekingspunte en vrae wat lede van dié organisasie op sy jaarlikse kongres ingedien het, het duidelik getoon dat hoë insetkoste graanboere bekommer.
“As hier nie kunsmis is nie, is hier nie kos nie,” het mnr. Hansie Viljoen van Leeudoringstad gesê. Hy was een van verskeie sprekers wat hul teleurstelling uitgespreek het dat ’n nasionale strategiese bate soos Foskor só agteruit gegaan het dat hy nie meer in Suid-Afrikaanse graanboere se fosfaatbehoeftes kan voorsien nie.