
Vanjaar se garsoes kan sowat die helfte kleiner as 2020 se rekordoes van 588 000 ton wees.
Volgens die jongste innamesyfers in die droëland- en besproeiingsgebiede is 238 563 ton gars vanjaar nasionaal goes. Dis sowat 120 000 ton laer as AB InBev se mandaat van 359 480 ton. Die jongste oesskatting is 339 800 ton.
Mnr. Jose de Kock, voorsitter van Graan SA se garsspesialiswerkgroep en boer van Napier, sê teen einde November het Suid-Afrika se grootste garsproduksiegebiede in die Overberg en Suid-Kaap 190 000 ton moutgraad gars gelewer. Hy reken daar sou nog sowat 10 000 ton bykom.
Hy skryf die aansienlik kleiner oes toe aan die daling in nasionale garsaanplantings van 141 690 ha tot 94 730 ha. Daarbenewens het die swaar reën in Mei die gars meer benadeel as ander gewasse.
Sowat 80% van die gars wat in Suid-Afrika verbou word, word in die bierbrouproses gebruik. Bierverkope, en dus moutgarsverbruik, het sedert 2020 skerp gedaal as gevolg van die verbod op alkoholverkope om die verspreiding van die koronavirus te beperk.
Mnr. Josh Hamman, direkteur van landbou-ontwikkeling in Afrika by AB InBev, sê hulle sal vanjaar moet gars invoer, maar die verwagte wêreldwye garstekorte sal nie ’n invloed op Suid-Afrika hê nie.
“2021 was ’n buitengewoon moeilike jaar vir alle gewasse in die droëlandgebiede, met enorme hoeveelhede reën wat planttyd ontwrig het.”
Opbrengste is oor die algemeen hoër in die oostelike gebiede van die Wes-Kaap en laer in die Overberg. Boere in die Swartland wat gars geplant het, het bogemiddelde oeste behaal.
Garsgehalte was vanjaar ’n probleem, veral in die Overberg, sê Hamman. “Die proteïenvlak was oor die algemeen laag en daar was ’n mate van voor-oesuitloop as gevolg van laat reën in die gebied.”
Hy sê hulle het die grootste toegewing nog ten opsigte van lae TN- (totale stikstof) gars so vroegtydig moontlik met die samewerking van landboubesighede in die gebied gemaak.