Geenbewerking het nou 'n stewige vastrapplek in die droëlandsaaigebiede van die somerreëngebied. Die bewerkingsmetode word al jare lank in die Wes-Kaap en Natal toegepas en enkele boere in die binneland het dit ook begin beproef en onmiddellik groot voordele behaal.
Een van die boerderye wat sedert 1999 met verminderde bewerking begin het en nou ten volle geenbewerking toepas, is Bergsig-boerdery naby Senekal. Die boerdery behoort aan mnre. Gerrie en Jannie Jacobsz. Hulle boer saam met eersgenoemde se seun, Gerrit, dogter Elzeth, en skoonseun, Charl Joubert, en laasgenoemde se seun Jan.
Dieboerdery het in 1999 met 'n aangepaste planter en druklugsaadkas begin en verlede jaar het hulle ten volle na geenbewerking oorgeskakel.
Mnr. Gerrie Jacobsz sê geenbewerking kan nie sonder goeie toerusting aangepak word nie. 'n Goeie geenbewerkingplanter en spuitmasjiene vir chemiese onkruidbeheer is 'n vereiste. Nuwe of aangepaste werktuie moet by die grootte van die plaas en bestaande trekkers pas om koste te besnoei.
Die planter moet onder meer verskillende soorte gewasse (koring, mielies en sonneblomme) op 'n egalige diepte teen die regte plantestand kan plant. Dit moet regstreeks in oesreste plant en in verskillende klimaats-omstandighede goed werk.
Hy gebruik beproefde plantereenhede wat deur Simplicity in Australië vervaardig en deur Rovic & Leers ingevoer word. Saam met die planter gebruik hy Flexicoil-druklugsaadkaste wat deur New Holland in Suid-Afrika versprei word.
Voordat hy na geenbewerking oorgeskakel het, het hy twee soorte planters gebruik; nou het hy net een vir drie gewasse.
Hy het in die eerste geenbewerkingjaar die nuwe plantmetode met die konvensionele plantmetode vergelyk en tot die gevolgtrekking gekom dat die nuwe metode soortgelyke opbrengste kan lewer as gewone planters.
Hoewel die jong gewasse nie so eenvormig is en mooi vertoon as diewat op skoon lande groei nie, is koppetelling dieselfde of beter en vergelyk die opbrengste goed met dievan konvensionele aanplantings.
Sy (aangepaste) konvensionele planter het met 'n plantestand van 26 000 per hektaar 'n opbrengs van 2,8 ton/ha gegee teenoor die nuwe plantmetode se 2,5 ton/ha met 'n plantestand van 16 270 per hektaar. Sy eerste sonneblomaanplantings het 1,3 ton/ha gelewer. Op ander plekke het hy met verminderde bewerking 2 t/ha gekry.
Die afgelope seisoen se koring op 1 600 ha het ten spyte van droogte- en koueskade in die vroeëblomtydperk 'n gemiddelde oes van 1 ton/ha gegee. Voor die koueskade het van die lande 'n potensiaal van 2,5 ton/ha getoon. Die vroeë sonneblom-aanplanting het ten spyte van hitteskade in Februarie-Maart 'n gemiddelde opbrengs van 1,45 ton/ha gegee teenoor diegebied se gemiddelde van 1 ton/ha. Nie een van die gebied se konvensionel aanplantings kon 'n soortgelyke opbrengs gee nie.
Mnr. Jacobsz sê die grootste besparing is aan brandstof. Sedert Maart 1999 (toe na verminderde bewerking oorgeskakel is), tot Februarie 2002 het brandstofverbruik met 72 % gedaal en olieverbruik in dieselenjins met 70 %. Dit kan toegeskryf word aan die minder werkure en die feit dat daar nie meer diep gewerk hoef te word nie.
Dieselverbruik kan nog laer as die lande se pH eers reggestel is. Lande wat kalk kry, word nog gemiddeld drie keer gesny en twee keer met 'n beitelploeg bewerk. As die pH eers reggestel is, sal die kalk vir onderhoud net met 'n eg ingewerk word.
Hy sê as die pH reg is, kan hy sy dieselverbruik in die tydperk nadat hy sy mielies gestroop het tot net voor hy sy koring (wat op mielies volg), stroop van meer as 80 l/ha afbring tot minder as 8 l/ha.
Die enigste bewerkings wat nodig is nadat die mielie-oes af is, is drie onkruidbespuitings voordat hy koring plant (3 x 0,77 l diesel per hektaar), die plant van koring direk in die oesreste (4 l/ha) en een bespuiting nadat hy geplant het (1 x 1 l/ha).
Voorheen het hy die mielie-reste met 'n kontrasnyeg ingewerk. 'n Tweede kontrasnyeg-bewerking was nodig as die land vuil word. Dit is opgevolg met twee of drie bewerkings met 'n beitelploeg (200 mm diep), nog 'n kontrasnyegbewerking en dan 'n diep skeurploegbewerking (500 mm tot 600 mm diep).
Indien dit ná die skeurploegbewerking reën voordat die koring geplant is, is die grond met 'n ligte tandwerktuig bewerk om winderosie te keer. Dit was soms nodig om tot drie van hierdie bewerkings te doen. Met hierdie bewerkings het die trekkers spore getrap en die grond gekompakteer.
Vir ál hierdie bewerkings het hy twee trekkers van 320 kW, een van 160 kW, vyf van 60 kW en vyf van 40 kW gebruik. Die drie groot trekkers het dag en nag gewerk om die grond goed voor te berei en het elk meer as 1 300 ure per jaar gewerk. Die klein trekkers is vir skoffel, spuit en die aanry van saad en kunsmis gebruik.
Hy gebruik nog dieselfde trekkers, maar het streng gesproke nie 'n trekker groter as 160 kW nodig nie.
'n Goeie wisselboustelsel is 'n absolute vereiste as volgens die manier geboer word, omdat onkruid chemies bestry word en onkruidweerstand maklik kan ontwikkel, sê mnr. Jacobsz. Hy volg 'n wisselboustelsel van mielies, koring en sonneblomme.
Hy moes nog twee groot spuite (balk van 18 m) bykoop om die werk deeglik te doen. Voorheen het hy net een na-opkomsbespuiting gedoen en kon hy met een groot spuit (18 m-balk) en twee klein spuite klaarkom.
Die meeste onkruidbespuitings word nou gedoen as koring ná mielies geplant word. Drie bespuitings is nodig om die onkruid goed te beheer. Op lande waar sonneblomme na koring gevestig word, is drie bespuiting nodig en waar mielies ná sonneblomme geplant word, is twee nodig. Omdat die grond nie los is nie, kan gouer gespuit word en die onkruid op die regte stadium gespuit word om doeltreffende werking van die chemiese middels te kry.
Hy beskou chemiese bestryding as die kern van geenbewerking omdat dit die primêre bewerking is wat gedoen word om die lande voor te berei. Die verbruik van glifosaat-onkruiddoder het van 2,25 l/ha in 1999/2000 opgeskiet na 6,65 l/ha in 2002/03.
Onkruidbespuitings is doeltreffender as die onkruid in die vroeë groeistadium gespuit word, as dit aktief groei, nie in die warm tye van die dag nie en nie in vogtige weer nie.
Hoewel die chemiese bestryding van onkruid duur is, is dit steeds goedkoper as die besparing in brandstof, onderhoud, ens. Mnr. Jacobsz reken sy onderhoudskoste kan tot heelwat onder R50/ha daal as hy volledig op geenbewerking is en daar nie onvoorsiene groot onkoste, soos enjinherbouing, opduik nie.
Met die nuwe plantmetode werk hy teen 8,5 km/uur. Hy kan vinniger werk, maar dan word die grond te veel versteur en verloor hy van die voordele van geenbewerking. By koring word 27 rye met 'n ryspasiëring van 460 mm geplant en by mielies 12 rye met 'n ryspasiëring van 920 mm. Dieselfde balk word vir albei gebruiki.
Mnr. Jacobsz sê die planters is uiters geskik vir die verskillende klimaatstoestande wat met die verskillende planttye heers. Met geenbewerking moet 'n bietjie dieper geplant word omdat daar nie 'n fyn saadbed is nie. Koring word 50 mm tot 60 mm diep geplant, sonneblomme 10 mm in die reënseisoen en 50 mm in die droë tyd en mielies 60 mm.
Die hoeveelheid saad bly dieselfde as by die gewone manier. Vir mielies en sonneblomme mik hy na 'n plantestand van onderskeidelik 16 000 en 35 000 plante per hektaar en vir koring gebruik hy 20 kg/ha.
Hy het ook nie van sy kunsmisresep afgewyk nie. Dieselfde hoeveelhede as voorheen word vir alle gewasse toegedien. Die kunsmis word net onder die saad geplaas. Aanpassings kan vorentoe gemaak word as die grondlewe voldoende herstel het. Ná net een jaar se geenbewerking is meer erdwurms reeds in die grond sigbaar.
Om grondverdigting te verhoed, het die trekkers geen gewigte aan nie en word die bande nie vol water gemaak nie. Hy gebruik steeds vee om mielie-oesreste te benut, maar net as die grond droog genoeg is. Sodra dit reën, word die vee van die lande afgehaal om verdigting te keer. Op koring-reste word geen vee toegelaat nie en op sonneblomlande net as dit baie droog is.
Mnr. Jacobsz sê die afloopwater is baie minder él;n skoner ? wat wys erosie is min. Winderosie is ook uitgeskakel. quot;Ek kan my lande sien as die wind waai, maar nie my bure s'n nie."
`Planter noodsaaklik vir geenbewerking`
Die planter wat op Bergsig gebruik word, bestaan uit Striker-planteenhede wat op 'n enkelbalkraam gemonteer is. Met 'n enkelbalk is 450 mm die nouste rywydte. 'n Dubbelbalk is nou beskikbaar om rywydtes van so nou as 200 mm te kry, sê mnr. Albert Coetzee van Rovic & Leers.
Die Striker-planteenheid bestaan uit 'n kouter/dieptebeheerwiel, 'n tand met 'n saaiskoen en drukwiele. Die enkel kouter met die dieptebeheerwiele aan weerskante draai as 'n eenheid, wat meebring dat die kouter nie aanpak nie en maklik deur die oesreste sny. Selfs dik grasbanke is nie 'n probleem nie.
Die tand se diepte kan verstel word. 'n Mespuntskaar wat 16 mm breed is, is aan die tandskag vasgesweis. Die skaarpunt is met wolfram bedek om dit 'n langer leeftyd te gee. Mnr. Jacobsz reken 'n mielieplanter met 12 skare kan tot 7 000 ha werk voordat dit vervang moet word.
Mnr. Coetzee sê die saaiskoen agter die tand is uniek in die sin dat die diepteplasing van die kunsmis en saad onafhanklik verstelbaar is. Die kunsmis word net agter die tand geplaas en toegemaak met 'n skraper met 'n wolframpunt wat terselfdertyd 'n gelyk saadbed vir die saad maak.
Die tand word gevolg deur 'n enkel of dubbele drukwiel. Laasgenoemde druk die grond teen 'n skuins hoek vas en loop onafhanklik van mekaar elkeen op sy eie as. Die een wiel loop voor die ander om te keer dat die wiele aanpak of dat materiaal tussen die twee wiele ophoop as die grond te nat is, soos wat dikwels gebeur as die twee drukwiele langs mekaar loop.
Mnr. Coetzee sê die druk op die Striker-eenhede kan meganies of hidroulies verstel word. Elke planteenheid het 'n gewig van 200 kg tot 250 kg nodig om dit doeltreffend op die grond te hou. Elke eenheid vereis minstens 7 kW.
Die raam waarop die eenhede gemonteer word, word teen verskillende wydtes en in 'n enkel of dubbelbalk vervaardig. Mnr. Jacobsz se enkelbalke is 13 m breed en het 'n middelste seksie van 3 m en twee kantseksies van 5 m. Die vervoerwydte is 4 m.
Mnr. Coetzee sê sy maatskappy voer ook Simplicity-druklugsaadkaste in wat saam met die planter gebruik kan word. Dit is beskikbaar in modelle van 1 500 l tot 15 000 l. Elke model is met een, twee of drie kaste beskikbaar. 'n Fynsaadkas is opsioneel beskikbaar. Uniek aan die kaste is 'n aaneenlopende uitmeetmeganisme wat 'n egaliger plasing verseker. Die saad en kunsmis kan in een pyp gemeng word om van die kunsmis by die saad te plaas.
`Kry eers die kop reg`
Voor iemand met geenbewerking begin, moet hy eers sy kop reg kry. Geenbewer-king is nie 'n mooi prentjie nie en druis teen alles in wat 'n mens oor jare as konvensionele boer geglo, geleer en toegepas het. Dít is die siening van mnr. Charl Joubert, skoonseun van mnr. Gerrie Jacobsz.
Net soos die bewerkingsmetode verander, gaan die finansiële sy van die boerdery drasties verander. quot;Jou finansiële boeke gaan net so deurmekaar lyk soos jou lande. Net soos die dae van mooi bewerkte lande verby is, só ook dievan ou bekende boekequot;. Finansiële bestuur verskuif van onderhoud en vervanging na chemikalieë. Die brandstofverteenwoordiger raak ook 'n vreemdeling op die plaas.
Geenbewerking is goedkoper en het vele ander voordele, maar die volgende aspekte moet aanvaar en reg bestuur word:
16 Mei 2003