
By Hopetown in die Noord-Kaap het die reuse-patats wat uit die die grond gekom het, die oë amper nog groter laat rek.
Mev. Lize-Mari Wiid van Hopetown laat weet haar man, mnr. Jan-Albert Wiid & sy vennoot, mnr. Jaco van der Walt, het onlangs begin patats oes "en hierdie massiewe groot patats het uitgekom. Party van hierdie patats weeg op hulle eie oor die 1 kg of 1,5 kg. Ons het toe een gekook en vir paar mense ook gegee laat hul proe. Dit is vreeslik smaaklik en het die mooiste kleur.''
Wiid en Van der Walt sê dit was 'n besonderse jaar vir patats, "met goeie hitte-eenhede en baie genade van ons Hemelse Vader". Hulle meen dat die gehalte van jou ranke "die eerste en belangrikste punt van suksesvolle patats is, daarna volg bemesting en 'n volgehoue gifprogram".
"Die ligging, grond en kultivar speel wel ook 'n belangrike rol, maar nie so erg soos siektevrye ranke nie," sê Van der Walt. "Die waterbeheer is gedoen deur gebruik te maak van druppers en onkruidbeheer is deur die gebruik van seile gedoen."
Mev. Wiid meen die patat-oes laat dink mens amper aan iets soos "faith like (sweet) potatoes" en hulle moes dit net met die lesers deel.
Byskrif: 'n Bielie van 'n buksie saam met 'n bielie-oes. Jandré Wiid (tien maande) sit hier by van die knewels wat sy pa en sy vennoot onlangs by Hopetown geoes het.