
Onder die verteenwoordigers by Graan SA se jaarkongres, wat verlede week in ’n baie optimistiese gees plaasgevind het, was 53% jonger as 45 en 5% was jonger as 25.
Mnr. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, sê hulle probeer hard om die jonger produsente te betrek en Graan SA is dankbaar dat hul getalle toeneem. “Dit is belangrik vir die organisasie se toekoms.”
Dr. Pieter Taljaard, uitvoerende hoof van Graan SA, sê dit is deel van Graan SA se strategiese fokusarea om jonger lede en ’n breër lede-basis te betrek. “Ons wil seker maak ons lede, en dit geld vir die jonger generasie ook, kry waarde uit die organisasie en daarom konsentreer ons daadwerklik op die jonger boere. Hulle het ander belange en ons moet sorg dat hulle waarde kry. Die ouer lede steun dit ten volle.”
Taljaard sê dit was ’n uitstekende kongres wat in ’n uiters opbouende gees plaasgevind het. “Die behoefte om saam te werk en insette te lewer was daar en daar was eintlik baie min gekla. Alles was gerig op die vind van oplossings. Dit is mos nou maar kenmerkend van Suid-Afrikaanse boere. Hulle is altyd besig om nuwe planne te beraam en almal wil onderling by mekaar leer.”
Volgens ’n elektroniese opname onder kongresgangers oor hul eie terugvoer van die verrigtinge het woorde soos insiggewend, leersaam, positief, lekker en sinvol die reaksie oorheers. Mathews stem saam oor die opbouende gees, maar sê daar is nogtans ook verskeie kwellinge uitgespreek.
Bekommernisse
“Beurtkrag en onvoldoende kragvoorsiening is ’n groot knelpunt, maar meer nog die regering se onvermoë in die algemeen om dienste te lewer.”
Taljaard sê ook gebrekkige dienslewering en die verval van infrastuktuur is ’n groot bekommernis onder boere. Verder is toenemende diefstal ’n groot kwelling.
“Daar is ook die kwessie van taai insetkoste wat bo bly kleef en ongelooflike druk op winsgewendheid plaas, ondanks goeie opbrengste en kommoditeitspryse.”
Tydens die kongres het mnr. Richard Krige, ondervoorsitter van Graan SA, kommer uitgespreek oor Graan SA se heffingsinkomste wat deur produsente betaal word. Hoewel die organisasie finansieel goed herstel het ná die geldelike terugslag weens die covid-19-pandemie, word daar net heffings oorbetaal op 29% van die nasionale oes. Dít terwyl sowat 70% van die land se graanboere deel is van Graan SA.
“Dit is nie aanvaarbaar nie en die boodskap moet uitgedra word wat die werksaamhede van Graan SA vir produsente beteken. Ons is die grootste produsente-organisasie in die land wat die grootste bydrae tot voedselsekerheid lewer. Graan SA lewer ’n bydrae tot elke produsent se voortbestaan en elkeen behoort sy regmatige heffing te betaal sodat daar minstens by 50% uitgekom kan word. Dan kan die heffing selfs verminder word.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.