Mnr. Claus Coetzee, bedryfsbestuurder van die DPO, sê dié regulasies is meer bevorderlik vir die bemarking van droëbone en het die ondersteuning van alle betrokkenes in die bedryf.
Die volledige regulasies is by die DPO beskikbaar. Daar is net vier grade teenoor die ses wat voorheen gegeld het. Die toelaatbare afwykings per graad is verhoog, wat boere in staat stel om makliker 'n beter graad te behaal. Voorsiening word gemaak vir 'n inmaakgraad by binnelandse gradering.
In die geval van kleinmaatverpakkings mag gesplete bone nou verpak word, mits dit aan al die ander vereistes vir graad 3-bone (uitgesonder gebreekte en gesplete bone) voldoen. In die geval van ingevoerde bone wat in kleinhandel-hoeveelhede verpak word, moet die land van herkoms op dié verpakkings aangedui word.
Ondergraadbone kan verpak en in die handel beskikbaar gestel word, maar net in houers van 10 kg en meer.