Hy is baie vrygewig met die lang lys faktore wat hom die sojaboonwêreldrekord besorg het, maar mnr. Chris Weaver hou vol alles begin by grondgesondheid.
’n Maklike begin was dit nie vir dié sesdegeslagboer van Kemp Mill, Maryland, in Amerika nie, met dinge soos hoë soutvlakke, ’n lae pH, moeilike weerstoestande en pryse wat sake bemoeilik het.
Weaver se pa, Richard, het die oorspronklike groenteboerdery voortgesit, maar Weaver het ná ’n draai in die sakewêreld besluit om die boerdery tot ’n mielie-en-sojaboonboerdery om te skakel om dit vorentoe te neem, en met ’n vergrootglas na bemestingspraktyke en grondbewerking begin kyk.