Dit was uit die staanspoor duidelik dat groter aanvaarding van
bewaringsboerdery in die kleingraanproduksiegebiede van die Wes-Kaap 'n hupstoot sou kry as die voordele daarvan deur onafhanklike navorsing bewys kon word. Die Universiteit van Stellenbosch se departement van agronomie het nou voorlopige resultate bekend gemaak ná proewe in die Swartland wat oor 'n tydperk van nege jaar gestrek het. Dit toon duidelik dat bewaringsboerdery opbrengste aansienlik kan verhoog, vergeleke met konvensionele monokultuurverbouing en skaarploegbewerking. Prof. AndreAgenbag, hoof van diedepartement, sê in die proewe was die koringopbrengs van 'n wisselboustelsel vir die tydperk 1992 tot 2000 gemiddeld 12,8 % hoër as dievan 'n monokultuurstelsel waar net koring geplant is (tabel 1).
TABEL 1: Gemiddelde koringopbrengs van monokultuur | |||
Bewerkingsmetode | Bewerkings- | Opbrengs | |
Monokultuur1 | Wisselbou2 | ||
Skaarploegbewerking | 200 | 2 441 | 2 447 |
Tandbewerking | 150 | 2 239 | 2 544 |
Minimumbewerking | 75 | 2 224 | 2 563 |
Regstreeks plant | - | 2 046 | 2 541 |
Gemiddeld | - | 2 238 | 2 524 |
1 = elke jaar word koring verbou. | |||
2= 'n stelsel waar koring, lupiene, koring en kanola agtereenvol- gens verbou word. |
Die grootste voordeel is behaal waar die grond min of glad nie bewerk is nie en die saad regstreeks in die stoppel geplant is. Teenoor die monokultuurstelsel het die wisselboustelsel 'n opbrengsverhoging van bykans 25 % gegee. Die gewasse wat in die wisselboustelsel gebruik is, was koring in die eerste jaar, lupiene in die tweede, koring in die derde en kanola in die vierde jaar. In die vyfde jaar het die rotasie weer van voor af begin.
Prof. Agenbag sê bewaringsboerdery behels dat monokultuur met wisselbou vervang word, en dat die kontantgewasse met min of verkieslik geen voorafbewerking, en met net die geringe versteuring van die grond, regstreeks in die vorige jaar se oesreste geplant word.
Met wisselbou word die siektesiklusse aan bande gelê en geleenthede geskep om onkruid doeltreffend te bestry en die biologiese aktiwiteite in die grond te verhoog. Laasgenoemde bring om die beurt weer merkwaardige verbeterings in alle aspekte van grondvrugbaarheid mee, of dit nou fisies, chemies of biologies is. Hierdie verbeterings lei op die duur tot laer kostes en kleiner risiko's, wat plaasbestuur aansienlik vergemaklik.
Daarom word bewaringsboerdery as 'n volhoubare stelsel geklassifiseer. "Enkele produsente pas reeds hierdie beginsels suksesvol toe. Baie ander twyfel egter nog oor aspekte, soos watter tipe bewerking om toe te pas, ryspasiëring, plantdigtheid en bemesting met stikstof. Ons glo dat navorsing oor hierdie faktore op die Langgewens-proefplaas naby Moorreesburg mettertyd antwoorde op hierdie vrae sal verskaf."
Intussen beskou hy en sy departement bewaringsboerdery as 'n belangrike stap in die strewe na 'n biologiese en ekonomies volhoubare produksiestelsel. Benewens al die voordele wat bewaringsboerdery vir die boer en sy grond bied, poog hulle om deur middel van navorsing graanboere se risiko te verminder deur die angel uit swak jare te probeer haal en die slaggate te vermy wat altyd eie aan 'n nuwe boerderystelsel is.
Die doel is dus nie om konvensionele en minimumbewerking met mekaar te vergelyk nie, sê prof Agenbag.
In teenstelling met konvensionele skaarploegbewerking, het die opbrengs van graan met minder intensiewe bewerkingstelsels toegeneem met 'n toename in stikstofbemesting van 60 kg/ha tot 100 kg/ha.
Opbrengste wat behaal is met minder intensiewe bewerkingstelsels teen 100 kg stikstof per hektaar het nie betekenisvol verskil nie. Waar regstreeks geplant is, was die opbrengs 2,65 t/ha, teenoor die hoogste opbrengs van 2,49 t/ha vir die persele wat met 'n skaarploeg bewerk is.
Prof. Agenbag sê kanola is in 2001 soos koring met 'n tand-planter in rye van 225 mm geplant. Weens die hoë reënval in Augustus 2001 is goeie resultate met 'n laat bobemesting behaal wat op 14 Augustus toegedien is. Sowat 450 mm reën is van April tot Oktober 2001 gemeet, wat aansienlik meer is as die langtermyn-gemiddeld van sowat 334 mm.
As gevolg van die hoë reënval laat in die seisoen is die beste kanola-oes verlede jaar verkry waar stikstof teen 140 kg/ha toegedien is (tabel 2).
TABEL 2: Kanola-opbrengste in 2001 op Langgewens teen | ||||
Bewerkingsmetode | Bewerkings- | Opbrengs (kg/ha) teen | ||
60 kg/ha | 100 kg/ha | 140 kg/ha | ||
Skaarploeg | 200 | 974 | 994 | 1 219 |
Tandbewerking | 150 | 1 026 | 1 114 | 1 316 |
Minimumbewerking | 75 | 424 | 835 | 1 092 |
Minimumbewerking en plant* | - | 949 | 1 242 | 1 593 |
Minimumbewerking elke 2de jaar en plant* | - | 987 | 1 671 | 1 797 |
Minimumbewerking elke 3de jaar en plant* | - | 586 | 1 346 | 1 777 |
Regstreeks plant | - | 661 | 867 | 1 344 |
* Elke tweede, derde of vierde jaar word 75 mm diep bewerk. | ||||
Die ander jare word regstreeks geplant. |
Uit dieresultate kom dit voor asof intensiewe en diep grondbewerking met 'n skaarploeg nie op die klipperige grondsoorte van die Swartland nodig is vir die verbouing van kanola nie. Daarteenoor lewer geenbewerking ook nie die hoogste opbrengste nie. Dit wil ook voorkom asof vlak bewerking elke derde of vierde jaar nodig is om grondverdigting te voorkom.
In 2001 is koring en kanola in rywydtes van onderskeidelik 170 mm, 225 mm en 340 mm geplant. Die plantdigtheid vir koring was onderskeidelik 150, 225 en 300 sade per vierkante meter. Kanola is teen 4 kg/ha, 6 kg/ha en 8 kg/ha geplant.
In albei gevalle het die kultivars van die koring met 'n kort groeiseisoen en dievan die kanola (SST 57 en Monty) 'n afname in opbrengs met 'n toename in rywydtes by alle plantestande getoon. Hierdie kultivars het dus nie die vermoë getoon om met kompenserende groei by wyer rywydtes aan te pas nie.
Daarteenoor het kultivars met 'n langer groeitydperk,
soos SST 88 en Varola 54, getoon dat groter rywydtes van 170 mm tot 225 mm nie
'n betekenisvolle verskil in opbrengs tot gevolg gehad het nie. In die geval van
kanola het 'n rywydte van 340 mm steeds geen uitwerking op die opbrengs gehad
nie (tabel 3).
TABEL 3: Die opbrengs van koring (SST 88) en kanola (Varola 54) teen | ||||
Ryspasiëring | SST 88 | Varola 54 | ||
Plantdigtheid | Opbrengs | Plantdigtheid | Opbrengs | |
170 mm | 150 | 2 784 | 4 | 698 |
225 | 2 800 | 6 | 833 | |
300 | 3 249 | 8 | 1 139 | |
225 mm | 150 | 2 182 | 4 | 806 |
225 | 3 237 | 6 | 920 | |
300 | 2 637 | 8 | 887 | |
340 mm | 150 | 1 885 | 4 | 760 |
225 | 2 265 | 6 | 958 | |
300 | 2 342 | 8 | 962 |
Prof. Agenbag sê oor die algemeen het groter rywydtes tot gevolg gehad dat die optimum plantdigthede gedaal het. Laasgenoemde neiging bring gevolglik 'n verlaging in saadkoste mee. By die keuse van kultivars vir albei gewasse is doelbewus op diemet 'n korter en langer groeiseisoen besluit, dit wil sê vroeër en laat kultivars, omdat verwag is dat hulle verskillend sou reageer.
'n Scarifier-korsbreker is gebruik om die tand- en minimumbewerking te doen. Die planter was ook 'n tandtipe, met 'n rywydte van 225 mm.
Skaarploegbewerkings is met 'n Trash Fieldspan en sleepyster opgevolg. Tand- en minimumbewerking is net eenmalig, vier weke voor planttyd, gedoen. Onkruid is bestry deur bespuitings voor planttyd met nie-selektiewe middels. Gras en breëblaar-onkruid in die graan is bestry wanneer dit nodig was. Kanola is teen ruitrugmot en koring teen septoria-besmetting bespuit.
Prof. Agenbag sê omdat wisselings in
klimaatstoestande - soos reënval en temperatuur - resultate kan beïnvloed,
sal die navorsing nog vir 'n aantal jare voortduur voordat finale
aanbevelings gedoen kan word.
22 November 2002